Kruip jy altyd weg vir die kamera?

0
114
geloof_2.jpg

Voel jy ook geskok wanneer jy jouself op foto’s sien, en daarom kruip jy weg as iemand jou wil afneem?

Dis amper lente en binnekort kan jy weer koel somersklere dra. Hoewel dit nie noodwendig goeie nuus is nie; jy kon die vetjies mos so lekker onder al die lae wegsteek. Al die sjokoladedrankies wat jy die afgelope tyd gedrink het, het mos net daar op jou maag en heupe gaan sit.

Jy kan nie glo daar is vroue wat selfies neem en dit op Facebook sit nie. Jy skaam jou dood, want jy het agtergekom jy lyk nóg vetter op ’n foto. Jy is gewoonlik so selfbewus dat jy botweg weier dat iemand jou afneem.

Jy het al die vermydingstegnieke in die boek bemeester. As iemand net mik-mik na ’n kamera, sê jy gewoonlik iets soos: “Wag, ek moet gou ’n draaitjie gaan loop.” (Hopelik is die fotosessie verby as jy terugkom.) “Julle neem my nie sonder grimering af nie!” “Wag, gaan staan jy ook daar, dan neem ék die foto.”

Jy het skielik ’n intense belangstelling in fotografie ontwikkel en nou is jy die een wat alles en almal kiek. Dis tog beter om eerder agter die kamera te wees.

Daar is ook nooit ’n foto van jou in die kinders se albums of op jou selfoon nie. As daar wel een op julle rekenaar verskyn, photoshop jy dit gou eers sodat jy darem min of meer aanvaarbaar lyk.

Foto’s is bewyse van gelukkige oomblikke saam met geliefdes

As jy eendag terugkyk op jou lewe, watter bewys gaan daar wees dat jy wel hier was? En van die onvergeetlike tye saam met jou familie en vriende?

Foto’s is ’n permanente rekord van jouself. Dis iets tasbaars wat jou nageslag van jou het. Hoekom wil jy dan nie lyk soos jy regtig lyk nie? Hoekom nie eerder aanvaar dat die vyf kilogram wat jy met die tyd aangesit het, nou deel van jou is nie?

As die dag wel aanbreek dat jy uiteindelik tevrede sal wees met jou voorkoms, gaan jy ontsettend spyt wees dat jy geen foto’s het van die spesiale oomblikke in jou lewe wat nou vir altyd verby is nie.

Jy het gewig en nog ander goeie dinge bygekry

Jy het seker al die advertensie vir skoonheidseep gesien waar vroue in die straat voorgekeer word. Hulle moet dan sê wat vir hulle mooi is aan hulle vriendinne. Die vriendinne is stomgeslaan as hulle hoor watter fisieke eienskap vir ander uitstaan.

Net soos daardie vroue, het die meeste van ons ook heeltemal te veel hang-ups oor ons voorkoms. Die mense wat vir jou lief is, kyk regtig anders na jou en sien beslis nie die dinge raak waaroor jy so selfbewus is nie.

Ons word almal oud. Ons kry plooie. Ons hare word grys. Dis dalk hoekom foto’s jou so ontstel. Dit herinner jou aan jou verganklikheid. Binne voel jy al hoe jonger, maar buite is jy besig om die stryd teen swaartekrag te verloor.

Jy is dalk bekommerd dat jou Facebook-vriendin sal dink: Sjoe, sy het gewig aangesit. En raai wat? Jy het. En sy waarskynlik ook.

En dis nie al nie, jy het nog ’n hele klomp ander goed ook bygekry: ’n loopbaan, ’n gesin, kinders, ’n huis…Jou lewe is nou ryker en voller as wat dit ooit was. Sal jy dit prysgee net om maerder of jonger te lyk op ’n foto?

Skenk eerder meer aandag aan jou hart

In plaas van om jou te verknies oor ’n ekstra kilogram of ongewenste plooi, maak eerder ’n plan met iets wat jy wel kan verander. Probeer eerder om so mooi te wees aan die binnekant dat almal dit aan jou buitekant ook kan sien.

Die mense wat jou ken, gaan jou tog onthou vir wie jy is en hoe jy liefgehad het, nie vir hoeveel jy geweeg het nie. Hoe mense in jou teenwoordigheid gevoel het en wat jy vir hulle van Jesus gewys het, is die heel belangrikste.

Die uiterlike is nie so belangrik dat niks anders tel nie. Moenie jou geliefdes wonderlike herinneringe ontneem deur te weier dat daar foto’s van jou geneem word nie. Dis waarna hulle met heimwee gaan terugkyk as hulle jou mis. Jy sal daardie kosbare tye nooit weer kan oorhê nie.

Vertaal en verwerk uit We’re not “too fat” for pictures (Marlena Graves), deur Ilze Ludick.