Kruisstuk-en-tamatie-roerbraai

0
370

Lewer 4 porsies.

BESTANDDELE:

1 kg kruisstuk
olyfolie
sout en peper na smaak
400 g gemengde klein tamaties
balsemiekasyn (opsioneel)
vars suurlemoensap
vars basilieblare

METODE:

1. Sny die kruisstuk in groot blokkies. Meng ’n bietjie olyfolie deur en geur dit met sout en peper na smaak net voordat jy dit braai.
2. Verhit ’n groot braaipan tot baie warm en braai die kruisskyfblokkies vinnig tot net goudbruin en medium gaar.
3. Skep die vleis uit op ’n bord en laat staan vir 1 minuut.
4. Giet ’n bietjie olie in dieselfde pan, verhit en roerbraai die gemengde tamaties vinnig. Jy kan ’n bietjie balsemiekasyn byvoeg vir geur indien verkies.
5. Skep die vleis terug in die pan en verhit vir ’n paar sekondes.
6. Sprinkel ’n paar druppels suurlemoensap oor en skep uit op ’n opdienbord.
7. Garneer met vars basilieblare en sit voor saam met basmatirys.