KRUMMELS

Ek droom onlangs van ‘n Pastoor/Dominee wat staan en kyk hoe ‘n Pa in sy motor klim, waar dié se jong seun reeds vir hom sit en wag.

Terwyl die Pa sy motor se deur oopmaak, roep die Pastoor/Dominee, vawaar hy so 15 treë skuins agter die motor staan: “Gert, wil jy nie saam met ons kom bid nie?”

Die Pa gaan egter voort om in die motor te klim en toe hy so halflyf in is, sê hy: “Nee, nie nou nie. Ons kyk net eers vir Krummels klaar”.

In my droom kan ek sien dat Gert se seun op die passasiersitplek sit waar hy besig is om na ‘n video op sy I-pad te kyk. Ek neem dadelik aan dat hy na ‘n storie – Krummels, op die I-pad sit en kyk, vandaar sy Pa se opmerking.

Drome is nog altyd fasinerend – behalwe vir die nagmerries natuurlik. Ek onthou hoe ek as klein seuntjie een nag gedroom het dat ek omring was met ‘n groot hoeveelheid speelgoed. Ek besluit toe om soveel spoelgoed as wat ek kon, vas te hou en dan my oë stadig oop te maak met die hoop dat ek nog steeds die spoelgoed daarna sou hê. Nie verbaas nie maar tog redelik teleurgesteld was die speelgoed natuurlik weg toe my oë oopgaan. Ek maak my oë toe vinnig weer toe, maar die droom was verby en so ook die groot klomp speelgoed.

Menige droom het egter ‘n dieper geestelike betekenis en ons moet fyn ingestel wees op die leiding van die Heilige Gees ten einde die boodskap wat in die droom verweef is, te verstaan.

So sien ek dat God ons roep om meer betrokke by Hom en sy werksaamhede te raak. Hy roe pons om saam met hom ‘n pad te stap sodat Hy ons tot groter en dieper dinge lan lei. Hy vra dat ons sommige van ons aardse bedrywighede opsy skuif sodat ons meer tyd in Sy teenwoordigheid kan deurbring.

Soms gee ons egter aandag aan aardse dinge omdat ons dink dit vir ons belangrik is, terwyl dit in werklikheid net die krummels van die lewe is. Krummels wat ons aanhou eet en eet maar dit lei nie tot versadiging nie en het ook geen voedingswaarde nie.

Jesus sê Hy is die brood van die lewe, wie van Hom eet sal nie weer honger wees nie (Joh 25).

Hy vra dat ons met meer as die krummels van die lewe tevrede moet wees. Dat ons ‘n honger na die hele Brood sal hê. Dat ons sal smag na meer en beter, elke dag, saam met Hom.