Kry 24/7 energie!

0
52
kry meer energie

Nee, dis nie ’n grap nie. Jy kán meer woema in jou dag sit. Boonop is die idees maklik en lekker om te volg.

Nee, dis nie ’n grap nie. Jy kán meer woema in jou dag sit. Boonop is die idees maklik en lekker om te volg.

Dis vieruur in die middag en jy het so pas jou derde koppie koffie afgesluk. Die foon hou nie op lui nie en jy hou die horlosie dop omdat jy jou tienerdogter vyfuur by die skool moet gaan haal ná haar landloopoefening. Teen die aand is jy so moeg dat jy net op die rusbank wil neerval.

As hierdie scenario vir jou bekend klink, is jy waarskynlik een van duisende vroue wat met ’n gebrek aan energie sukkel. Gelukkig kan jy die situasie omkeer as jy die regte gewoontes aankweek. Dis makliker as wat jy dink, want kenners sê dit neem tussen 21 en 30 dae om ’n nuwe gewoonte te vestig. Begin vandag en pas minstens een van hierdie tegnieke toe om gou-gou ’n nuwe, energieker jy te word.

06:00: Gebruik die regte geur tandepasta

Een van die eerste dinge om te doen wanneer jy wakker word, is om jou tande met ’n tandepasta te borsel wat ’n peperment- of kruisementgeur bevat. Dié geure het dieselfde uitwerking op jou brein as wanneer jy aan vlugsout ruik of koue water oor jou gesig spat. Die oomblik wat jy dit ruik, stimuleer dit jou senuweestelsel en maak jou dadelik wakker.

Borsel jou tande sowat twee minute lank en spoeg dan die tandepasta uit sonder om jou mond uit te spoel. Dit verdubbel die effek van die tandepasta en hou die smaak langer in jou mond. As jy tande borsel, gebruik die rol-strykmetode met ’n baie sagte tandeborsel. Hou die tandeborsel teen ’n hoek van 45 grade aan jou tandvleis en borsel weg van jou tandvleis terwyl jy jou hand draai. As jy links en regs skrop, beskadig dit die tandemalje en maak jou tandvleis seer.

07:00: Eet ’n veselryke ontbyt

Ons weet hoe belangrik dit is om ’n gesonde ontbyt te eet wat ons die res van die dag energie gaan gee. Veselryke koolhidrate sal die ding doen. Daar is al bewys dat dit jou meer op en wakker laat voel as ’n ontbyt wat laag in vesel is. ’n Halwe koppie veselryke ontbytpap, soos hawermoutpap, kan tot 14 gram vesel bevat (vroue het 25 gram vesel per dag nodig).

Proteïen is ook ’n móét, asook magnesium, wat help om suurstof na jou organe te vervoer. Probeer ’n sny saadbrood en ’n eier, of hawermoutpap met grondboontjiebotter en piesang. Die graan, piesang en neute is alles propvol magnesium.

11:00: Nóú is dit tyd vir koffie drink

As jy ’n koffiedrinker is, sal een koppie jou nou meer energie gee as wanneer jy dit vroeg in die oggend drink. Navorsing toon dit is die tyd wanneer kortisol (die streshormoon) en jou graad van wakkerheid laer is as wanneer jy opstaan. Jy kan wel ’n klein koppie in die oggend drink as jy voel jy kan nie sonder jou kafeïeninspuiting klaarkom nie. Spaar egter jou groot beker koffie vir tussen 09:30 en 11:30.

Gaan ’n stappie verder en voeg ’n teelepel klapperolie by jou koffie. Dit verskaf energie aan die brein en reguleer jou bloedsuiker. Voeg ’n titseltjie heuning by vir soetigheid.

13:00: Eet ’n middagete ryk aan yster

Lae yster is die algemeenste voedingstekort by vroue wat menstrueer, sê die TV-persoonlikheid dr. Oz. As jy voel jy wil met jou gesig op die sleutelbord aan die slaap raak, ly jy waarskynlik hieraan. Maak dus seker jou middagete bevat minstens een bestanddeel wat hoog in yster is.

Vroue tussen 19 en 50 jaar het sowat 18 mg yster per dag nodig, terwyl vroue bo 50 sowat 8 mg nodig het. Goeie bronne sluit in tuna, kekerertjies, maer rooivleis en maer biltong.

Smeer hoemoes (wat van kekerertjies gemaak is) op ’n hoendertoebroodjie met volgraanbrood. Voeg tamatie by, want dit bevat vitamien C, wat die absorpsie van yster verhoog.

15:00: Kry weer oemf met heerlike beetsap

Jy het reg gehoor: Beet is dié groente om te kies as jy min energie het. Dis veral goed om dit tussen 15:00 en 17:00 te eet, aangesien jou bloedsuiker kan daal as jy langer as vier uur sonder kos bly. Dit verbeter jou stamina en hou jou brein skerp. Daar moet waarheid hierin steek, want Olimpiese atlete drink dit deesdae as ’n sportdrankie om vinniger te kan hardloop.

’n Lekker manier om beet te geniet is in ’n gladdejantjie. Probeer een wat appels en wortels bevat om ’n vars, soet smaak aan die mengsel te gee.

17:00: Gaan stap lekker vinnig om die blok

Rowwe dag by die kantoor? Dis nou die perfekte tyd om jou stapskoene aan te trek. Baie vroue sukkel om in die oggend op te staan om te oefen en ander het slegs laatmiddag tyd daarvoor. Een voordeel om na werk te oefen is dat jy waarskynlik meer energie gaan hê en reeds opgewarm gaan wees na ’n dag se rondhardloop.

Om laatmiddag te oefen kan ook beteken dat jy gesonder keuses later in die aand maak. Jy sal vind jy sê makliker nee vir dinge wat ongesond kan wees (soos ’n roompoffertjie na aandete). Selfs om net vir 20 minute om die blok te gaan stap sal jou laat ontspan en goed laat voel.

19:00: Neem ’n LOL-breek ná aandete

Die spreekwoord “lag is die beste medisyne” kom hier goed te pas. Lag verminder nie net stres nie, maar stel ook endorfiene – jou voelgoedhormone – vry, wat jou energie verhoog. As jy net 20 minute lank na ’n snaakse program kyk, kan dit jou ook teen die skadelike uitwerking van stres beskerm.

Jy kan na aandete saam met jou man of gesin die nuus kyk, maar daarna is dit ’n slim plan om na ’n kanaal oor te skakel wat die lagspiere oefen. Kies ’n snaakse TV-program of fliek wat die hele gesin kan geniet, of neem ’n Trevor Noah DVD uit.

21:00: Ontspan in ’n warm soutbad

’n Goeie nagrus verrig wondere vir jou energie in die oggend – en ’n warm bad sal jou help om vinnig daarby uit te kom. Vul die bad en voeg twee koppies Engelse sout by. Klim in en ontspan vir minstens 12 minute. Die sout het anti-inflammatoriese eienskappe en laat jou lyf ontspan. Ná ’n warm bad daal jou liggaamstemperatuur ook. Dit stel melatonien vry, die hormoon wat help om slaap te reguleer.

Vertel jou brein dis slaaptyd deur die ligte dowwer te stel of jou bedlamp aan te skakel voordat jy jou nagklere aantrek. Borsel jou tande en was jou gesig in ’n sag beligte vertrek. As jy sukkel om te slaap, sit oorpluisies in. Dit versterk die geluid van jou asemhaling, wat dieselfde uitwerking as wit geruis (white noise) het en jou help om na droomland te verkas.

Kry vinnig krag met…

…’n pil: Siberiese ginseng is ’n kruiemiddel wat jou normale slaappatroon herstel en jou energie verhoog. Probeer Flora Force Siberian Ginseng (R72 vir 60 kapsules).

…’n bruistablet: Stoot jou energie op met Emergen-C (R30 vir 7 sakkies). Dit bevat 1 000 mg vitamien C asook sink.

… ’n geur: Pomelo-, roosmaryn- en jenewerbessie-olie is almal essensiële olies wat met hoë energie verband hou. Kies uit ’n verskeidenheid van Faithful to Nature-produkte (verkrygbaar aanlyn by www.faithful-to-nature.co.za).

*Bronne: www.livestrong.com; www.prima.co.uk; www.prevention.com; http://1.usa.gov/1B72Hjh; http://digitalcommons.unl.edu