Kry daai pasgetroude gevoel terug

0
47
pasgetroud.png

Gryser is nie noodwendig wyser wat die ewige liefde aanbetref nie. Volg gerus die raad van pasgetroudes.

Miskien voel dit vir jou of jou huwelik stof opgaar; asof dinge stilstaan of selfs agteruitgaan! Julle het nie meer die opwinding van ’n nuwe verhouding aan jul kant nie en dit kan die liefde bra saai laat voel. Soos die lente in die natuur ’n nuwe begin aandui, is dit ook die seisoen waarin die meeste huwelike begin, sê Gary Chapman in sy boek The Four Seasons of Marriage. Dit is die opwindende vlinders-in-die-maag-tyd.

Chapman skryf oor ’n pasgetroude vrou wat vertel hoe opwindend haar nuwe huwelik voel en hoe dit by die dag verdiep en verryk. “Om te hoor hoe ouer paartjies sê: ‘Wag net ’n paar jaar en dit sal nie meer so wonderlik wees nie,’ laat my wonder hoekom nie? Kan ons nie daagliks die keuse maak om hierdie vreugde lewendig en groeiend te hou nie?”

Ongelukkig is dit inderdaad wat gebeur. Ouer mense kan nie wag om jongmense voor die kansel te kry nie, net om daarna verdoemend te verklaar: “Die huwelik is nie altyd maanskyn en rose nie.” Dit is inderdaad nie altyd maanskyn en rose nie, maar dit kan tog meeste van die tyd so voel.

“Die huwelik is nie een lang lente nie, maar ons kan baie dikwels terugkeer na die optimisme, entoesiasme en vreugde van lente,” meen Gary. Dit alles hang af van die veranderinge wat oor ons pad kom en ons emosies, houdings en aksies. Kyk na die goed wat julle in die pasgetroude jare so gelukkig gemaak het en probeer dit weer in jou huwelik inkorporeer.

Wenk #1: Droom oor mekaar en nie oor goed nie

’n Pasgetroude paartjie is behep met mekaar en nie soseer met die koste van eiendom, die muur wat afdop, tuinmeubels en DSTV nie. Hulle kyk in mekaar se oë en deel toekomsdrome. Gewoonlik is die gesprekke naïef, sonder kommer, en vol blinkoog-ideale. Wanneer die herinneringe aan die wittebrood taan, tree die realiteit egter in en lyk die lewe skielik nie meer so eenvoudig nie.

Amber McNaught skryf: “Ek is nie seker hoeveel veranderde belangstellings te doen het met die feit dat ons ’n ou getroude paartjie is of hoeveel dit te doen het met die feit dat ons oud word nie. Miskien is dit iets wat met almal gebeur, ongeag of jy getroud of enkellopend is.”

As julle oud getroud voel … hoef julle nie skielik die realiteit te ignoreer nie, maar verminder jul bekommernisse oor goed en droom eerder oor mekaar.

Wenk #2: Herhaal keer op keer jul wittebrood

’n Wittebrood help ’n pasgetroude paartjie om mekaar te leer ken sonder afleidings en invloede van buite. Onthou jy jou wittebrood? Die lug het waarskynlik jou man se oë nog blouer laat lyk en die son het sy boarms nog bruiner laat bult.

As julle oud getroud voel … bespreek ’n tweede wittebrood. Of ’n derde een. Maak dit ’n jaarlikse wegbreek sonder vriende of familie en moet vir niemand vertel waarheen julle gaan nie. Los sommer jul selfone ook by die huis.

Wenk #3: Onthou dat die huwelik ’n ewige instelling is

Wanneer ’n mens trou, glo jy dat jy en jou maat mekaar vir ewig sal liefhê. Jy is blind vir sy foute en sien net al sy positiewe eienskappe raak. Egskeiding is nie in jou gedagtes nie.

“Van daardie eerste oomblik af was die huwelik vir ons ’n instelling wat heilig en reg was,” vertel Lea (31). “Toe ons daardie ‘vir ewig en vir altyd’-besluit geneem het, was skei nie ’n opsie nie.”

Dit is hoe die meeste pasgetroudes voel, maar sodra die eerste probleme opduik, wonder mense of hulle die regte besluit geneem het en kies dan sommer summier die hasepad. As julle oud getroud voel … onthou dít wat jy gevoel en gedink het toe julle voor die kansel gestaan het.

Wenk #4: Bly práát, al herhaal julle julself

Jou maat sal nooit moeg word vir die woorde “Ek is lief vir jou” nie. Een van die lekkertes van pasgetroud wees is dat ’n mens heeltyd kan praat en dat jou maat voortdurend dink dat dit wat jy sê, interessant is.

Wanneer ’n mens pas getroud is, is alles ’n nuutjie. Ongelukkig is daar soveel ou getroudes wat voel hulle het niks meer om vir mekaar te sê nie. As dít jou probleem is, dink ’n bietjie terug aan hoe min julle oor die lewe geweet het toe julle getrou het. Julle het intussen veel ryper, interessanter mense geraak, so julle moet definitief vandag meer te sê hê as toe!

Wenk #5: Maak seks ’n prioriteit

In pasgetroudes se lewe is daar altyd ’n plek en tyd vir seks! As jy begeerlik voel, is jy optimisties oor jou verhouding en laat dit jou maat selfs nog begeerliker voel.

Hoe langer ’n mens getroud is, hoe laer af skuif seks op die prioriteitslys omdat die lewe gebeur. Kort voor lank raak werk, min tyd, kinders en spanning goeie verskonings om seks te vermy. Dit het ’n sneeubal-effek wat alle ander probleme groter laat lyk as wat hulle regtig is. As julle oud getroud voel … sorg dat julle tyd maak vir seks. Skeduleer dit as julle moet, maar moenie die krag daarvan, en wat dit vir jul verhouding beteken, onderskat nie.