Kry ferm arms by jou lessenaar

0
14
arm_oefening.png

Drillende boarms is elke vrou se nagmerrie! Só kry jy ferm arms sommer net daar voor jou rekenaar.

Jy geniet jou werk en spandeer ure op kantoor; tog kan dit nadelig vir jou gesondheid en jou figuur wees om lank stil te sit agter jou lessenaar. Wanneer jou boarms op maat van jou getik begin dril, gryp jou waterbottel en doen ’n paar armoefeninge.

1. Gebruik jou waterbottel

Sit op die rand van jou stoel, maag ingetrek en rug regop. Hou ’n vol waterbottel voor jou vas. Jou arm is reguit en skouerhoogte voor jou uitgestrek. Gebruik ’n kleiner bottel as jou armspiere swak is.

arms_1.jpg

2. Tweede stap

Hou jou arm reguit en laat sak die waterbottel totdat jou arm reguit afhang. Dit is belangrik dat jy op die rand van die stoel moet sit, want as jy te ver agtertoe sit, kan jy nie jou arm reguit maak nie.

arms_2.jpg

3. Lig sywaarts

Die laaste stap is om die waterbottel sywaarts op te lig tot ongeveer skouerhoogte. Draai die bottel dat die proppie na onder wys. Laat sak weer tot onder. Herhaal hierdie drie stappe vyftien keer voordat jy dit met die ander arm doen. Vorentoe op, laat sak, sywaarts op, laat sak is een herhaling.

arms_3.jpg

Natuurlik kan jy op kantoor oefen!

Jou werkgewer behoort glad nie om te gee as jy deur die loop van die dag ’n paar oefeninge by jou lessenaar doen nie. Dit sal jou konsentrasie verbeter en jou meer produktief maak. Baie van die oefeninge wat jy tuis of by die gimnasium doen, kan jy op kantoor ook doen. Wees kreatief. Jy hoef nie ’n klomp oefeninge op een slag te doen nie. Breek dit op in kort sessies; jy wil mos nie sweet nie. Doen byvoorbeeld 20 hurkoefeninge (squats) terwyl jy wag vir jou eposse om in te kom of vyftien armoefeninge elke uur.

Geskryf deur Linda Kriel
Volg Linda op Twitter by @linda_kriel