Kry hulle los voor op skool!

1970

Om ’n kortkop voor te wees help jou kinders nie net om hulle skooljare meer te geniet nie, maar gee hulle ook ’n voorsprong vir sukses in die lewe.

Natuurlik is die basiese dinge soos goeie maniere noodsaaklik. Enige onderwyser vind aanklank by leerders wat weet hoe om hulle te gedra. Dinge soos om iemand in die oë te kyk as hulle praat, om “asseblief” en “dankie” te sê en om alle mense met respek te behandel, bly belangrik.

Sorg ook vir liefde en aanvaarding by die huis

Kinders wat geborge voel by die huis, het ook selfvertroue by die skool. Hulle is nie bang vir mislukkings of om nuwe dinge aan te pak nie.

Laat hom weet dat jy hom liefhet en aanvaar nes hy is. Moet egter nie blind wees vir jou kind se foute nie. Ouers wat dink hulle bloedjies is engeltjies, is ’n groot frustrasie vir onderwysers. As Juffrou iets opmerk, luister oopkop daarna en werk saam aan oplossings.

Bou ’n vertrouensverhouding met jou kinders sodat hulle veilig voel om hulle suksesse én mislukkings met jou te deel. Dit verminder die risiko dat jy uit die bloute “verras” word met slegte nuus van die skool af.

Die wete dat hulle hulle ouers se ondersteuning het, help kinders ook om foute en mislukkings beter te hanteer.

Help hulle om die beste van huiswerk te maak

Kinders kry ’n magdom huiswerk en kan moedeloos voel nog voor hulle daarmee begin het. Readingrockets.org gee die volgende wenke:

Leer hulle om die werk baas te raak deur dit in kleiner gedeeltes te verdeel en dan stuk-stuk te bemeester.

Tot graad 4 behoort jy die kleintjies se huiswerk na te gaan en hulle met leerwerk by te staan. Help hulle om die werk te verstaan, stel vrae op en wys hulle hoe om die vraag en antwoord saam te leer. Dit maak dit makliker om boekekennis in ’n vraestel toe te pas.

Natuurlik mag jy raad gee met take, maar laat sy self aan idees dink. Gebruik dit dan as basis en bou daarop voort. Moenie die navorsing en werk vír haar doen nie – dit is haar werk en verantwoordelikheid.

Leer jou kinders die dissipline om pligsgetrou te wees, en wys hulle hoe om vooruit te beplan. Weet wanneer die sperdatum vir take is en sorg dat hulle dit betyds indien.

Beloon gerus, maar nie vir afskeepwerk nie

Motiveer jou kind om altyd haar bes te doen. Deur niks minder as jou kind se beste te verwag nie, lê jy ’n gewoonte neer wat haar dwarsdeur haar skoolloopbaan en die lewe sal baat. Die gehalte van die werk beïnvloed ook in watter lig die onderwyser haar sien.

Dit is nie wys om kinders te beloon vir prestasies of omdat hulle ’n sekere punt behaal het nie. Beloon eerder hulle harde werk en die feit dat hulle hulle bes gedoen het. Dit leer hulle dat harde werk en om jou beste te doen, belangriker is as ’n A-gemiddeld en maak hulle lief vir kennis.

Beloon gerus goeie vordering. Boet en Sus sal dit nie altyd erken nie, maar hulle is mal daaroor as Ma dit teen die yskas of muur uitstal.

Deur op harde werk eerder as prestasie te konsentreer, vat jy ongesonde druk van jou kind af en gee hom die vryheid om volgens sy vermoë te presteer.

[divider style=”10″]

studie program Koop dr. Deon van Wyk en dr. Jena Raubenheimer se studieprogram Bly kalm en leer slim aanlyn by voelgoedboeke.co.za teen 50% afslag.
R495 R995
KLIEK HIER