Kry jy genoeg rus?

276

As jy te min slaap, raak jy knorrig, moeg en dalk sommer vet ook. Goeie slaapgewoontes is onontbeerlik vir goeie gesondheid.

Dit is waarskynlik die laaste ding wat in jou gedagtes opkom wanneer jy aan fiksheid of gewigsverlies dink, maar ’n goeie nagrus is absoluut noodsaaklik vir albei.

Dit is net so belangrik vir jou geestelike, fisieke en emosionele welstand soos gesond eet en oefening. Byna elke tipe weefsel en stelsel in jou liggaam – van jou brein, hart en longe tot jou metabolisme, immuunstelsel en buie – word geaffekteer. Dit het ’n uitwerking op jou energiebalans en vermoë om jou gewig te beheer. Oormoegheid dra ook by tot ’n hoër liggaamsmassa-indeks (LMI).

Voldoende goeie slaap lei tot die produksie van die groeihormoon wat noodsaaklik is vir herstel ná oefening. Daarsonder is al jou pogings verniet, want jou liggaam het rus nodig om energie te herwin en die spiere wat tydens oefening gewerk het, te stimuleer om te groei en te herstel.

’n Chroniese gebrek aan slaap kan jou risiko vir siektetoestande verhoog. Dit veroorsaak ’n versteuring in die breinprosesse wat jou eetlus beheer en maak jou minder gemotiveerd om te oefen. Minder leptien (wat versadiging en
eetlus beheer) en meer ghrelien (die hongerhormoon) lei tot ooreet en gewigstoename.

Die oreksiensisteem, wat eetlus en wakkerheid reguleer, word ook negatief beïnvloed. Hierdie wanbalans veroorsaak dat jou energieverbruik deur die dag daal sonder dat jy eens daarvan bewus is. Verder stel jou liggaam die streshormoon kortisol vry, wat jou liggaam energie laat stoor en daardie ekstra vetjies om die middellyf veroorsaak.

’n Vaste bedtydroetine kan wondere verrig om jou gouer in droomland te kry.

KYK OOK: [VIDEO] Strekoefeninge voor elke oefensessie

Marijke Cilliers, persoonlike afrigter

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Marijke.