Kry meer uit jou produkte én begroting

0
130
lipstiffie.jpg

Na die feestyd en die uitgawes aan die begin van die nuwe jaar, gaan dit broekskeur met baie van ons se begroting. Hier is vyf goedkoop maniere waarop jy steeds goed kan lyk.

1 Gebruik die laaste druppel van jou produkte

lipstiffie.pngJy het ’n peperduur skoonheidsproduk of net ’n gunstelingroom, maar die verpakking is van so ’n aard dat daar ’n bietjie van die produk in hoekies oorbly waar jy nie kan bykom nie. As dit ’n buisie is, knip dit oop. Jy sal verras wees oor hoeveel van die produk jy nie uit ’n buisie kan druk nie. As dit ’n harde potjie is, skroef dit oop en laat loop rooswater daarin. Draai dit toe, skud dit om die oorblywende produk los te maak en siedaar, jy het meer van produk terwyl die rooswater ook ’n heerlike, versagtende uitwerking het.

2 Rek jou vogroom en maak dit meer effektief

Indien jou vel droog bly al gebruik jy vogroom, kan dit wees dat jou produk nie voedsaam genoeg is nie. Of jou vel behou vog nie baie goed nie. Jy kan vitamien E-kapsules (die soort wat ’n mens as voedingsaanvulling drink) oopbreek en aan jou vel smeer. Die vitamien E sal jou vel help om vog beter te behou. Wend verder vogroom aan die oomblik dat jy uit die bad of stort klim. Of spat water oor jou gesig voordat jy vogroom aanwend. Jy sal vind dat jy minder vogroom as gewoonlik hoef te gebruik as jou gesig nog klam is. Die vogroom sal ook die water op jou vel vasvang en op dié manier meer effektief wees en jou vel beter bevogtig.

3 Gebruik meerdoelige produkte uit jou kombuis

Koeksoda is een van die veelsydigste produkte in jou kombuiskas. Jy kan dit as ’n diepreinigende sjampoe gebruik as jy dit met water meng. Dit werk ook uitstekend as ’n afskilferingsmiddel vir normale tot olierige veltipes. Sprinkel koeksoda in jou skoene om sweterige voetsole en onwelriekende voete te verhoed. Vir blink, witter tande kan jy ook met koeksoda borsel. Dit smaak nogal souterig, maar is baie effektief.

4 Red 40% van jou lipstiffie uit die buisie

Het jy al ooit die inhoud van die uitdraaimeganisme in jou lipstiffie uitgekrap nadat die lipstiffie opgebruik is? Dan sal jy verbyster wees dat amper die helfte van jou lipstiffie binne-in die verpakking versteek is! Maar hoe kan jy dit dan aanwend as jy nie by die lipstiffie kan uitkom nie? Kry een van daardie plastiekpilhouertjies by die apteek wat volgens die dae van die week gerangskik is. Gebruik ’n teelepel se steel om die oorblywende lipstiffie uit te krap en skep dit oor in die pilhouertjie. Jy kan die lipstiffie met jou vinger of ’n lipkwassie aansmeer. Die pilhouertjie is ook gerieflik om in jou handsak te dra.

5 Wag ’n bietjie langer tussen haarsalonafsprake

Haarafsprake is ’n duur maar ook onontbeerlike aspek van jou skoonheidsroetine; jy kan immers nie jou hare te ver laat uitgroei nie. Of jy ’n middelpaadjie of kantpaadjie het of jou hare agtertoe gekam dra, jy kan die grys hare wat uitgegroei het of jou natuurlike kleur haarwortels wat wys, wegsteek. As jou hare donker gekleur is, gebruik swart maskara en borsel dit aan jou vaal haarwortels. As jou hare blond is, kan jy ligkleurige haar- of wenkbroumaskara aan jou wortels kam. Dit is nie ’n plaasvervanger vir jou stilis nie, maar dit kan help in ’n maand wat jy jou rande wil rek.

Geskryf deur Ryno Mulder