Kry ‘n ander afrigter

0
19
bloubul afrigter

Die Blou Bulle het ʼn patetiese oorsese toer gehad. Hulle is ook die enigste Suid-Afrikaanse span wat nie vanjaar ʼn toerwedstryd kon wen nie. Daar is nou van alle kante af druk om ʼn ander afrigter te kry.

Die Blou Bulle het ʼn patetiese oorsese toer gehad. Hulle is ook die enigste Suid-Afrikaanse span wat nie vanjaar ʼn toerwedstryd kon wen nie. Daar is nou van alle kante af druk om ʼn ander afrigter te kry.

ʼn Goeie afrigter maak ʼn groot verskil in ʼn sportspan se prestasies. Dieselfde geld ook vir geestelike leiers van gemeentes. Die groei van ʼn gemeente hang dikwels ook af van die geestelike leier. Daarmee wil ek vir geen oomblik die rol van die Heilige Gees onderspeel nie. Maar aan die ander kant moet ons beslis ook nie die rol en insette van ʼn geestelike leier in lidmate se geestelike groei onderskat nie. Juis om daardie rede is dit belangrik dat ʼn mens ook jou gemeente met oorleg sal kies. In sekere gemeentes kan ʼn mens net makliker geleentheid tot groei kry as in ander gemeentes.

Dit beteken nie dat ʼn mens ʼn gemeente moet uitkies wat jou gehoor gaan streel nie. Paulus waarsku juis dat ʼn mens nie vir jou ʼn leraar moet kies wat dinge sê wat jy graag wil hoor nie. Hy sê in 2 Timoteus 4:3 “want daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.” Dit moet eerder leringe wees wat in lyn met God se Woord is en wat jou uitdaag om te leef soos wat Christus van jou sou verwag. Dit kan dalk ʼn ongemaklike lering wees. Net soos ʼn goeie afrigter van ʼn sportspan soms ook baie reguit met sy span moet praat om hulle tot hoër hoogtes te voer.

ʼn Mens gaan nie sommer net na die kerk naaste aan jou huis om petrol te spaar nie. Jy gaan na ʼn kerk waar die afrigter (dis nou die dominee of pastoor) regtig ʼn intieme pad met God stap. Jy sal weet as dit so is, net soos jy ook ʼn goeie en slegte afrigter van ʼn span kan herken.

Hennie Stander