Kry ’n platter maag vinnig

0
101
maagspiere.jpg

Dit maak nie saak hoe oud jy is nie, jy kan ’n platter maag kry. Jy kan hierdie oefening sommer doen terwyl jy wag vir die ketel om te kook. Dit oefen jou maag- en bobeenspiere.

Doen hierdie oefening sommer drie keer deur die loop van die dag en jy sal gou-gou ’n groot verskil in jou maagspiere sien.

Stap 1

Staan regop met jou voete skouerbreedte uitmekaar. Hou met jou linkerhand aan ’n tafel of stoel vas. Plaas jou regterhand op jou regterskouer. Word bewus van jou asemhaling. Asem diep in en uit.

maagoefening_1_0.jpg

Stap 2

Lig nou jou linkerknie op na jou bors. Bring terselfdertyd jou regterarm af en draai jou bolyf sodat jou regterelmboog oorkruis na jou linkerknie gaan. Trek jou buikspiere diep in. Keer terug na die beginposisie. Asem uit elke keer wanneer jy jou elmboog en knie oorkruis bymekaar bring. Doen 20 tot 25 herhalings aan elke kant.

maagoefening_2_0.jpg

Stap 3

Jy kan hierdie strekoefening vir jou sye, lae rug en arms doen. Staan met jou voete skouerbreedte uitmekaar. Hou jou knieë effens gebuig. Trek jou maag in. Asem diep in terwyl jy jou regterarm boontoe strek en asem uit terwyl jy sywaarts oorleun na die stoel waaraan jy vashou. Hou dié posisie 20 sekondes lank. Kom stadig regop.

maagoefening_3_0.jpg

Hoe raak jy van jou opgeblase maag ontslae?

Na aandete sit jou broek gewoonlik ’n bietjie knapper. Niks werk beter as oefening om van die opgeblase gevoel ontslae te raak nie. Slegs 10 minute se stap sal ’n groot verskil maak. Oefening help die lugborrels om vinniger deur jou spysverteringskanaal te beweeg. Dan voel jy sommer gou weer gemaklik. Moenie direk na ete op die rusbank gaan neerval nie. Dit dra by tot slegte spysvertering. Jy kan ook kleiner maaltye eet om minder opgeblase te voel. Daardie riglyn van vyf kleiner maaltye ’n dag, eerder as drie groot maaltye, help jou maag om sommer heelwat kleiner te lyk.

’n Ander manier om jou maag platter te laat vertoon is om genoeg water te drink. Vloeistof help om hardlywigheid en winderigheid te voorkom. Sorg dat jy ses tot agt glase deur die loop van die dag drink.