Kry ’n spa-bederf by die huis

0
13
spa.jpg

Skoonheidsbehandelings is vir jou ook beskore! Pamperlang jouself in die gerief van jou eie badkamer, teen ’n fraksie van die prys.

Al is jy baie mal oor jou gesin, weet jy dat jy ’n wegbreek nodig het. En al voel jy skuldig om dit te erken, ook tyd op jou eie! Maar met die stygende lewenskoste is ’n spa-besoek buite die kwessie. “Nee,” sê Lerato Tlhame, opleidingsbestuurder van Africology. Sy het ’n paar idees oor hoe jy jouself kan bederf sonder om ’n voet by die deur uit te sit. (Reël dat jou wederhelf en kroos daardie aand gaan fliek.)

STAP 1 Behandel jou lyf met refleksologie

Refleksologie is ’n spesialisveld. Sekere areas op jou voetsole hou, volgens Oosterse masseerdissiplines, blykbaar verband met sekere organe in jou liggaam. Jy kan dit egter eenvoudig hou. Die geheim is die druk wat jy op jou voetsool uitoefen. Die vel op jou voete se onderkant is baie dikker as op enige ander plek op jou liggaam. Jy moet dan ’n harder en dieper masseertegniek gebruik. Die maklikste is om sommer ’n harde, ronde voorwerp soos ’n reukweerderbotteltjie te gebruik. Rol dit oor die onderkant van jou voet, van die hakskeen na die tone en weer van die tone na die hak van jou voet. Doen dit vyf minute lank op elke voet.

STAP 2 Gee spesiale aandag aan jou hande

Hierdie is nie ’n manikuur nie maar ’n ontspanningsbehandeling. Ons hande word afgeskeep. Hoe dikwels smeer jy sonbeskermingsroom aan jou hande? Hoeveel van ons smeer handeroom aan na ons hande gewas het om die velbeskermende vog terug te sit? Die vel op jou hande droog uit, raak dunner en verklik jou ouderdom. Maak so:

Skilfer jou hande af. Meng ’n halfkoppie suiker met ’n halfkoppie olyfolie. Druk ’n suurlemoen hieroor uit en vryf die mengsel liggies oor die bokant van jou hande en enige plek waar jou vel droog of verdik voel. Spoel met louwarm water af.
Doop jou hande in ’n hand-spa. Voeg ’n eetlepel olyfolie by louwarm water. Week jou hande vir ’n paar minute daarin. Sit twee klam handdoeke 30 sekondes lank in die mikrogolfoond. Draai jou hande vir nog ’n paar minute in die warm handdoeke toe.
Masseer jou hande. Juliette Armand Elements 15 Hand & Nail Care Cream (R300), verkrygbaar by skoonheidsalonne

STAP 3 Verdryf stres met dié bad

Vir die laaste tien minute van jou tuisbederf geniet jy ’n sensuele bad. Skakel jou foon af, steek ’n kers in die badkamer aan en gooi badolie by ’n bad vol warm water. Tap die bad vol genoeg of leun terug sodat jou skouers onder die water is. Die spanning van ’n stresvolle week gaan sit mos gewoonlik in jou nek en skouers. Jy wil dan seker maak dat veral jou skouers voordeel trek uit die terapeutiese hitte van die water met die strelende badolie.
Mio Liquid Yoga Restorative Bath Soak (R550), verkrygbaar by skoonheidsalonne

WEN! ’n Spa-dag vir jou en ’n metgesel

Langaro Lifestyle Centre in Kampsbaai bied ’n spa, boetiek, haarsalon en voorkomsdienste om liggaam en siel te verkwik. Hulle gee ’n dagpakket by die spa weg vir een leser en haar metgesel in die Wes-Kaap.*
Kliek hier voor 30 Junie 2014 om in te skryf.
The Africology Spa by The Maslow Hotel in Sandton is hemel op aarde. Africology gee ’n dagpakket by die spa weg aan ’n leser en haar metgesel wat in Gauteng woon.
Kliek hier voor 30 Junie 2014 om in te skryf.
*Bepalings en voorwaardes geld.