Kry só jou beste haarstyl nóg!

0
16
haarstyl.jpg

Vra die regte vrae en stap gelukkig by die haarsalon uit. Saloneienaars verklap die moets en moenies.

1 Gebruik die konsultasie waarvoor dit bedoel is

In Suid-Afrika is die konsultasie die eerste tien minute van jou afspraak by ’n salon. Geen skêr moet dan sy verskyning maak nie. Dis ook nie die tyd om oor koeitjies en kalfies met jou haarstilis te gesels nie. Dis nie die rukkie wat jy gou ’n koppie tee drink terwyl jou stilis jou kroon beloer nie. Jy kan later oor jou kinders se sportprestasies praat, oor jou man kla of oor jou stilis se Pilates-klasse uitvra.

“Die konsultasiegesprek is jou haarstyl se beplanningsfase. Jy en jou haarstilis moet albei verstaan en saamstem oor die haarstyl en -kleur waarmee jy by die salon wil uitstap. As jy nie weet wat jou stilis beplan of hy weet nie wat jy verwag nie, moet julle dit eers uitklaar,” sê David Gillson, kreatiewe direkteur van die Carlton-salongroep in Suid-Afrika.

2 Neem fotovoorbeelde saam van wat jy wil hê

Leer iets by tieners. Hulle neem ’n uitknipsel van Katy Perry se nuwe haarstyl salon toe, wys dit vir die stilis en sê: “Dís wat ek wil hê.” Daar is nie ’n beter manier om jou verwagting aan jou haarstilis oor te dra nie. By kreatiewe sake is daar nie presiese terme waaroor almal saamstem nie. Jou idee van strawberry blond is dalk jou stilis se “goudblond”.

In hierdie opsig is haartydskrifte nuttig, want dit dokumenteer nuwe haarkleure en -snitte. Dit sal gewoonlik meer as een foto van dieselfde haarstyl wys, sodat jy ’n voor-, kant- en agteraansig van die haarstyl kry. Anders kan jy Google vir ’n spesifieke haarstyl en nog foto’s wat jou ’n aansig reg rondom gee. “Dit is belangrik dat jou stilis altyd die snit individualisties interpreteer om by jou leefstyl aan te pas,” benadruk Malcolm Kyle. Hy is ’n tophaarstilis vir tydskriffotosessies met die bekendste vermaaklikheidsterre.

3 Wat om te doen as jy ontevrede is

’n Model het onlangs met goudgeel hare by ’n FINESSE-fotosessie opgedaag. Sy was ongelukkig, maar haar kleurstilis het gesê hulle kan dit by “die volgende afspraak” regmaak. Dalk het jy al so ’n ervaring gehad. Jy en jou stilis het bespreek of die styl by jou gesigvorm, gelaatskleur en haartekstuur pas; tog het jy nie goeie resultate gekry nie.

Stoffel van Wyk, eienaar van Foil-salon in Sandton, stel voor jy “vra die stilis wat gedoen kan word om die brouwerk reg te maak. Wanneer jy jou vertroue verloor het, vra die salonbestuurder dat ’n ander stilis jou hare red.” Indien die enigste oplossing is om jou hare te laat uitgroei, vra ’n kredietnota teen jou volgende besoek of gratis produkte. As jy jou hare by ’n ander salon laat regmaak, beroep jou op die Verbruikersbeskermingswet sodat jy nie vir die eerste onsuksesvolle haarafspraak hoef te betaal nie.

Lees meer: 5 foute wat jy maak as jy hare was