Kry tande soos ’n Hollywood-ster!

0
26
wit_tande.jpg

Dr. Anton Grotius het die ’n Nuwe jy-deelnemers nuwe glimlagte gegee en vertel hoe jy soos ’n ster kan lyk.

Kry mooi wit tande

Ek het al verskeie produkte gekoop om my geel tande wit te kry, van spesiale tandepasta tot iets wat jy aanverf. Niks werk nie. Hoe kry ek my tande mooi wit?

Professionele tandbleiking is die beste oplossing vir tande wat geel is. Ongelukkig sal geel krone of stopsels nie witter word met bleiking nie. Dit is egter moontlik om geel stopsels of krone na bleiking te laat vervang met Cerec-krone, sodat dit by jou nuwe, wit glimlag sal pas.

Brite Smile-tandbleiking is ’n prosedure wat binne twee uur in die tandarts se spreekkamer uitgevoer kan word. Dit lewer onmiddellike resultate en geen hersteltyd daarna is nodig nie. Geringe sensitiwiteit mag voorkom, maar dit is tydelik en daar is produkte beskikbaar om dit te verlig.

WAT KOS DIT? Tussen R2 000 en R5 000, na gelang van die tipe bleiking wat gedoen word

Is jou tande sensitief?

Om roomys te eet en koue koeldrank te drink is ’n beproewing. Wat kan ek doen om weer koue kos en drank sonder die pyn te geniet?

Tandsensitiwiteit word gewoonlik veroorsaak deur ontbloting van die dentien. Dit vind plaas wanneer die glasuurlagie van jou tande (die buitelagie, ook bekend as “tand-emalje”) verweer. Geringe sensitiwiteit kan behandel word deur spesiale produkte te gebruik of selfs deur stopsels op die ontblote oppervlaktes te plaas.

As jou tandstruktuur beskadig is, mag dit nodig wees om die verlore tandstruktuur met behulp van krone te vervang. ’n Volledige rehabilitasie kan binne twee dae gedoen word en geen hersteltydperk is gewoonlik nodig nie.

WAT KOS DIT? Die koste sal afhang van die aard en omvang van die skade.

Vir oneweredige tande

My tande is oneweredig en ek sal wat wou gee vir ’n Julia Roberts-glimlag. Is daar ’n behandeling wat nie te duur is nie?

Met ons “Hollywood”-behandeling word die vorm van jou tande verander deur dit in ’n meer estetiese vorm te slyp. Klein “uithappies”, oneweredigheid of selfs effense skewe tande kan so geslyp word dat dit die illusie van reguit tande skep. Baie min van die tandstruktuur word verwyder en die pasiënt ervaar geen pyn nie. Geen verdowing is nodig nie.

WAT KOS DIT? Ongeveer R700 vir die hele mond.

Wat van lelike stopsels?

As ek glimlag, lyk my tande grys, want daardie aaklige kwikstopsels wys. Ek hoor daar is nuwe stopsels op die mark?

Tandkleurige herstellings is ’n goeie alternatief vir kwik-amalgaam-herstellings. Jou bestaande silwer stopsels kan gewoonlik met tandkleurige herstellings vervang word, terwyl ’n groter herstelling dalk eerder deur ’n inlegsel of ’n kroon vervang sal moet word. Dit kan binne ’n enkele afspraak voltooi word en daar is geen hersteltydperk betrokke nie.

WAT KOS DIT? Vanaf R350 tot R650 per herstelling. ’n Kroon kos ongeveer R8 000.

Gebreekte tande

Ek het ’n ruk terug ’n tand gebreek en dit nie laat regmaak nie, en nou breek die tand verder. Wat kan ek doen om die skade te herstel?

Dit is altyd belangrik om so gou moontlik aandag te skenk aan ’n gebreekte tand, anders kan daar verdere skade aangerig word. ’n Konsultasie sal nodig wees om te bepaal wat die aard van die skade is.

Indien die tandsenuwee betrokke is, mag ’n wortelkanaalbehandeling (verwydering van die senuwee) nodig wees. Daarna word die tand gekroon om dit te herstel. In die geval van geringe skade kan die tand dalk bloot deur middel van ’n stopsel herstel word.
’n Wortelkanaalbehandeling kan binne ’n enkele afspraak voltooi word, maar in sekere gevalle moet dit oor meer as een afspraak geskied. ’n Stopsel of kroon kan binne ’n enkele afspraak geplaas word.

WAT KOS DIT? Vir ’n wortelkanaalbehandeling wissel dit van R4 000 tot R9 000. Koste vir ’n stopsel beloop tussen R350 en R650 per stopsel, waar ’n kroon ongeveer R8 000 kos.

My glimlag is nie mooi nie

Ek voel baie selfbewus om te glimlag. As ek glimlag, lyk my tande baie klein en wys daar te veel tandvleis. Kan dit behandel word?

’n Gummy smile kan deur middel van ’n kroonverlengingsprosedure of gingivektomie reggestel word. ’n Konsultasie is egter nodig om te bepaal of jy ’n geskikte kandidaat vir die prosedure is.

Dit word gewoonlik deur ’n periodontis (’n tandvleisspesialis) uitgevoer en behels die terugsny van tandvleis. In sekere gevalle is dit nodig om die tande ná die prosedure te kroon, maar in ander gevalle mag dit dalk nie nodig wees nie. Dit is ’n chirurgiese prosedure en daarom is daar ’n hersteltyd aan verbonde na gelang van die tegniek wat gebruik word. Dit kan wissel van ’n dag of twee tot ’n maksimum van twee weke.

WAT KOS DIT? Sowat R3 000 tot R8 000, afhangend of jy jou tande moet laat kroon. Dit neem ’n uur of twee in beslag.

Wat van tandepastas wat glo jou tande bleik? Werk dit regtig?

Sekere tandepastas en mondspoelmiddels werk wel om jou tande mooi wit te hou ná ’n professionele bleiking. Dit help ook om vlekke op jou tande te voorkom nadat jy dit professioneel laat skoonmaak het. Die mate waartoe dit jou tande witter maak, is egter beperk. Rokers of mense wat baie tee drink, is meer geneig om vlekke op hulle tande te kry.

Vir meer inligting of om ’n konsultasie te bespreek, besoek die webblad www.ilovemysmile.co.za of bel / .
Dr. Grotius se spreekkamer is geleë by Rodericksstraat 442, Lynnwood, Pretoria.