Kry vrede in die gejaag

1740

Ons is almal op soek na vrede… vir ons land, gesin, huwelik en binneste. Maar in die gejaagdheid vind ons net ontevredenheid met die lewe.

Baie mense voel moeg en oorlaai, met onrustigheid in hulle binneste. Die rede is waarskynlik die gesukkel om af te skakel. Ons is die “altyd aan”-generasie. Ons slimfone gaan selfs saam gimnasium, badkamer en bed toe!

Balans bring orde in ’n deurmekaar wêreld

Dit is ’n feit dat ons moet werk. Dit is ’n normale deel van elke dag, en dis hoe ons ’n inkomste genereer om te oorleef. Om te werk en jou talente te gebruik om geld te verdien en waardevol te voel, is lekker.

Maar as ons te vinnig leef, sien ons nie meer die dinge raak wat regtig saak maak nie. Ons hoor nie meer ons kinders lag nie en sien nie die volmaaktheid van blomme in die tuin raak nie. Om te besig te wees veroorsaak geïrriteerdheid, oorhaastigheid, kortaf antwoorde en onvrede. Dit laat verhoudings kraak.

Ja, ons moet werk en dit ís lekker om te werk, maar ons moet streef na balans.

Dit gebeur dikwels dat mense nie vrede in hulle hart het nie, want hulle is nie tevrede met hoe hulle lyk, of hulle huis, kar of werk nie. Sulke mense dink kalmte en rustigheid is te vinde in dinge wat ons op die aarde kan kry. Tog bring ’n mooier huis of kar of inkopies of nog skoonheidsbehandelings nie daardie salige gevoel nie.

Harte bly onrustig tot dit rus in Hom!

Nou is die tyd om ’n verskil te maak. Doen jou bes om kalmte en rustigheid deur jou optrede uit te straal. Doen dit deur die manier waarop jy daagliks lewe: Wees geduldig met jou landgenote, familie en vriende. Maak seker jou gesindheid is reg wanneer jy met jou huiswerker praat of met die petroljoggie of die meisie agter die toonbank.

Jesus gee ons ’n alternatiewe manier van leef, ’n lewe saam met Hom. As ons dinge doen vanuit rus by God, doen ons dit anders. Dan word verhoudings vir ons prioriteit.

Dis jammer dat mense veel eerder na ’n moeilikheidmaker as ’n vredemaker luister! Die moeilikheidmaker kry ook meer blootstelling in die media. Ons almal het al daardie e‑pos gestuur wat ons nooit moes nie. Of gepraat sonder om te dink.

Verskuif jou fokus weg van ander se foute en reik eerder uit na jou geliefdes. Selfbeheptheid, wanneer alles net om jouself draai, vertroebel die samehorigheidsgevoel in ’n gesin. As ’n mens net jou eie belang nastreef en ander nie in ag neem nie, begin die onrustigheid aan jou binneste vreet.

Wees besig met dit wat saak maak sonder gejaagdheid

Jesus werk hard, maar eet saam met Sy mense. Hy sing en bid elke dag. Hy is besig, Hy leef nie afgesonder van die wêreld nie.

’n Mooi voorbeeld van die pas waarteen Hy geleef het, is die verhaal van die twee mense wat na die dorpie Emmaus op pad was. Dit was slegs ’n paar dae voordat Hy na Sy Vader sou teruggaan. Tog loop Hy saam met mense wat met hulle geloof worstel. Hy luister na hulle, bemoedig hulle en eet saam met hulle.

Moenie jou energie en tyd op onnodige dinge nie verspil nie. ’n Baie groot tydrower is negatiewe denke. Soms baklei ons in ons kop met ander, maar dit is heeltemal onnodig. Praat liewer mooi met jouself, laat dit gaan, fokus op iets wat jou positief en opgeruimd laat voel. Jy kan immers kies wat jy dink!

Ware innerlike rustigheid lê net in ’n verhouding met die Vader. Jou omstandighede kan dit ook nie van jou steel nie. Dit is nie iets om voor te wens nie, dit is iets wat jy doen; iets wat jy weggee.

Vra leiding om ’n lewe van eenvoud te lei, om tevrede te wees, om rustiger te raak. Jesus was besig, maar Hy was nooit gejaagd nie. Hy het altyd tyd gehad vir verhouding bou met Sy Vader en die mense om Hom.

Ek bid vir jou vir vrede in jou huwelik, in ons land, by die werk en vir ware innerlike kalmte.

Liesel Krause-Wiid, predikant

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.