Kry weer goeie eerstes in jou lewe

Onthou jy nog die eerste keer toe jy probeer fiets ry het? Die eerste keer wat jy groot skool toe is? Of jou eerste dag in Graad 8? Die eerste keer wat jy alleen ‘n motor bestuur het?

In jou eerste 20 jaar is daar so baie dinge wat mens leer en vir die eerste keer ervaar. Selfs daar die eerste dekade of wat van volwasse wees bevat so baie goeie leergeleenthede en lekker eerstes. Daar gebeur nog groot dinge in jou lewe, van om op jou eie jou eerste nessie te skrop tot by trou, huiskoop, en baba doop.

Jy sien weer ‘n klomp eerstes soos jou kinders groot word, van hul eerste treetjies tot hul vlerke sterk genoeg is om sommer so alleen vir ‘n jaar oorsee te gaan werk.

Dis wanneer jy so by jou derde en vierde dedakes van volwasse wees kom, dat die leënessindroom en die “midlife” krisis jou alleen of gesamentlik platduik. Al die eerstes voel skielik vir jou soos laastes.

Wat maak mens as jy 45-plus is en dit voel vir jou die meeste van die lewe se lekkerste eerstes is verby? Die eenvoudige antwoord op die vraag sal wees – net wat jy wil! Die meer komplekse antwoord? Jy skep jou eie nuwe eerstes. Jy stof die drome in jou hart af en besluit wat moet jy doen om dit te bereik.

Wat verhoed jou om daardie instrument te leer speel wat jy nog altyd wou gedoen het? Hoekom kan jy nie ‘n rugsak pak en op reis gaan nie? (Al moet jy dan ook elke maand terugkom om jou chroniese medikasie te kry…)

Moenie opgee op jou drome en op die goeie eerstes van die lewe nie! Daar is nog baie avonture wat wag en die beste van alles is jy hoef niemand se toestemming te vra om dit te doen nie!

Vorige artikelBekwaam
Volgende artikelWens ‘n mens
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.