“Kuber– veiligheid is my prioriteit”

1710

Die passie swem in haar poelblou oë. RIANETTE LEIBOWITZ is veel meer as net ’n besigheidsvrou.  Sy is slaggereed om weerlose slagoffers uit die kloue van internetboelies – en –kriminele te red.

“Lord let my heart break for what breaks yours” is ’n liedjie wat ons altyd in die kerk sing. En dit is letterlik hoe ek gevoel het.

Iemand moes iets doen. Die aantal mense en veral jong mense wat as gevolg van internetboelies selfdood pleeg, het my geruk.

Sommige mense se harte breek vir dieremishandeling of bejaardes of selfs vir walvisse. My hart breek vir mense wat op die internet seerkry. En kuberboeliery is slegs ’n klein deel – daar is ongelukkig soveel meer.

Ek gryp elke geleentheid aan. Mits ek in my hart tevrede voel. “Asseblief, moet net nie dat sy nog iets begin nie,” sal my arme man sê. Hy weet al.

Vanuit ’n spirituele oogpunt is vrede my skeidsregter. Dis vir my belangrik dat dit waarin ek my tyd en energie belê, iets is wat waarlik ’n verskil gaan maak.

’n Pa se gesnik oor die telefoonlyn. ’n Tong wat betyds geknoop word. Dis die dinge wat my motiveer.

Ons moet ons kinders van die gevare leer, die uitdaging is dat niemand óns geleer het nie.

My seun het eendag ’n prentjie van ’n feëprinses geteken – gekroon en gevlerk met die oulikste skoentjies. Ek vra hom toe waar my towerstaffie is. Met ’n glimlag sê hy toe: “Nee, Mamma, ek het vir Mamma ’n swaard geteken, want Mamma baklei vir kinders op die internet.”

Met ’n skok het ek besef dat ek eintlik ’n baie groot werk het.

Die internet gaan oor baie meer as netpret, soekhoekies en ’n webwandel, mense moet bewus gemaak word. Dis vir my vervullend om ’n rol in hierdie bewusmakingsproses te speel.

Ek geniet dit nie altyd nie. Sommige van die goed waarop ’n mens afkom laat jou hare rys – om nie eens te praat van die slapelose nagte nie.

Dis vir my moeilik om te verstaan hoekom mense so onmenslik kan optree. Maar die wete dat ek slagoffers kan help, gee my bestaan ’n ander soort betekenis.

Die internet self is ’n digitale dilemma, enige iets word aanvaar. Wat vir jou reg is, is nie noodwendig vir my reg nie. Dit maak ons kinders ook deurmekaar.

Vir myself moes ek ook ’n streep trek. My lyf was moeg. Ek moes leer om myself op te pas. Om my eie koppie vol te hou, sodat dit vir ander kan oorloop.

Dis vir my ongelooflik om te sien dat baie meer mense oor kuberveiligheid begin praat. Dis hoog tyd.

Maak jou kind skermslim, my eerste boek oor digitale ouerskap, is nou beskikbaar. Dis ’n praktiese gids vir ouers en kinders om saam deur die digitale wêreld te reis.

maak meer tyd Maak jou kind skermslim, deur RIANETTE LEIBOWITZ 
MAAK JOU KIND SKERMSLIM is propvol praktiese wenke, gebaseer op akademiese navorsing en eerstehandse ervaring. Dis presies waarvoor ouers gewag het – hoe om jou kind te leer om digitale en sosiale media veilig te gebruik!
R139 R199
Kliek op Voelgoedboeke.co.za