Kwart voor vier

My ouers het ‘n teorie ontwikkel soos ek en my suster groot geword het.

Die kort en lank van die teorie is dat net soos ‘n jaar in kwarte gedeel word; vier kwartale in die skooljaar, vier seisoene in ‘n jaar ens, so word ‘n kind se lewensjaar ook in kwarte verdeel. Hulle het gevind dat gedurende die laaste kwart van ons lewensjare (dis nou so drie maande voor ons verjaar) dat ons redelik onmoontlik was, ons was ekstra hardkoppig, ons wou nie saamwerk nie en in die tienerjare was ons sommer meer ongepoets. Volgens hulle teorie is dit die laaste drie maande voor ‘n kind oorgaan in ‘n nuwe fase en net soos enige verandering is dit maar deurmekaar en ongemaklik. Hulle het hierdie teorie met my gedeel so twee jaar terug toe ek na aan trane by hulle gesit het en om raad gevra het oor my dogtertjie wat volgens my vroeg haar “terrible two’s” begin het.

Die afgelope maand voel ek weer vreeslik soos ‘n onbevoegde ma en wil ten minste drie keer ‘n week vir myself sê “Okay, dit was ‘n flop” as ek iets nuut probeer met my dogtertjie. Jy sien, vandat sy gebore is, was sy ‘n mini-me; sy het soos ek gelyk, wou nie slaap nie, nes ek, laf en vol grappies, maak stories op en laat pappa se oë rek met die nonsens waarmee ons voorendag kom. Tog, die afgelope paar maande kom pappa se gene sterk deur, nes pappa is sy meer van ‘n introvert en verkies sy haar eie geselskap bo die van ander, sy is heel gelukkig om met haar poppies te speel en te verbeel sy is ‘n juffrou as om by ander mense te wees. Ek het nie geweet hoe om die nuwe persoonlikheidseienskap te hanteer nie omdat ek gedink het sy gaan aanhou stap op die padjie wat ek sien ontvou het voor my oë word en my mini-me bly.

Soos ek gesels met ‘n vriendin die week, herriner sy my aan die teorie van kwarte en ek besef dat dit wragtig kwart voor vier is. Verligting spoel oor my soos n koue stort op ‘n warm dag en ek besef dat sy besig is om haar eie identiteit te ontwikkel, bietjie van mamma en bietjie van pappa. Ons (of dalk net ek) raak soms so vasgevang aan die idees en drome wat ons vir ons kinders het dat ons nie sien in watter unieke klein mensies, met hulle eie kombinasie van persoonlikheidstrekke ontwikkel nie.

Mag ek die tyd tussen kwart voor vier en vier geniet terwyl sy haarself vind in hierdie oorgangstydperk tussen nie meer baba, maar nog klein kind en mag ek haar vangnet wees wanneer dit haar, net soos dit ons, heeltemal deurmekaar en moedeloos laat.

Vorige artikelSoms is praat genoeg
Volgende artikelSaadjies van hoop tussen al die sorge
Blogger - Izelle Joubert
Ek is ‘n mamma van 'n vrye gees en lawwe dogtertjie van drie jaar oud en het 'n passie vir skryf en ma wees. Nadat die Here my hart aangeraak het om die korporatiewe wêreld en gejaag te veruil vir ‘n deeltydse werk, het ek my passie vir skryf herontdek. Ek het 'n honeurs graad in Bedryfsielkunde en is 'n geregistreede Psigometris by die HPCSA, maar die mees vervullende werk vir my is dié van vrou en ma wees. Ek is al 9 jaar getroud met Donavan en ons het wortels geskiet in Kempton Park. Ek het 'n hart vir ander mammas omdat dit ‘n lekker, maar moeilike taak is. Ek is baie lief vir die Here en is mal oor die talent van skryf wat Hy vir my gegee het. Sodoende wil ek graag eerlik met mamma’s kan praat oor die moeilike en lekker dele van mamma wees, niemand is die perfekte ma nie en ons almal kan by mekaar leer.