Kwartleeftyd-krisis

kwartleeftyd-krisis

Ek kyk onlangs na ‘n You Tube-video oor Millennials wat ‘n kwartleeftyd-krisis beleef en ek dink ai siestog, die arme goed! Dat hulle nou op 25 al moet sukkel met stres. Terwyl hulle eintlik nog moet cool wees en redelik in beheer voel.

Die jonge Millennial in haar bitter-vroeë dertigs vertel hoe haar lewe uitmekaar gespat het toe sy skaars twintig was. Alles het so rooskleurig gelyk, vertel sy. Met ‘n klomp A’s op skool, kaptein van haar atletiekspan en ‘n beurs om by ‘n vooraanstaande universiteit te gaan swot. Met twee professionele ouers sou sy in hulle voetspore volg en ook ‘n kliniese sielkundige word.

Maar toe tref die ongeluk haar. Sy doen die een knie-besering na die ander op en haar loopbaan as atleet is daarmee heen. En skielik ook haar ideale, haar identiteit as atleet en jongmens.

Sy het haar eerste kwalifikasie klaargemaak en toe in haar pienk kamer met die rooi hartjies by die huis ingetrek en begin jogurt eet. Al die geure. Sy het nie geweet waarheen nie. Sy het nie ‘n Plan B gehad nie en die jogurt het haar nie laat beter voel nie.

Maar toe kruis sy paaie met ‘n lewensafrigter wat haar drie waardevolle lesse leer:

Les Een was om haar prioriteite vir haar lewe en werk te definieer. Les Een B was dat ‘n week net 168 ure het – en nie 245 soos wat sy gehoop het nie.

Sy moes ‘n sirkeldiagram soos ‘n koek teken en haar prioriteite in volgorde van belangrikheid lys. In snytjie-groottes moes sy besluit hoeveel tyd sy aan die volgende aspekte van haar lewe wou afstaan:

  • Vriende en familie
  • Naby-verhouding met ‘n geliefde (of die soeke na so ‘n persoon)
  • Werk en loopbaan
  • Persoonlike en spirituele ontwikkeling
  • Gesondheid en lewensgeluk
  • Pret en ontspanning

Sy moes vir elke afdeling besluit watter prys sy bereid was om te betaal in tyd en energie en hoeveel opoffering sy bereid was om te maak vir elke faset.

Hierna moes sy ‘n professionele sirkeldiagram teken en vier snye uitmerk vir

  • Geld en mag
  • Lewensgeluk en vervulling
  • Groei en leer
  • Hoe om ‘n verskil te maak in ander se lewens

Les Twee was om te begroot – ‘n les wat niemand haar tot in dié stadum geleer het nie. Sy moes realisties wees met haar eie behoefte aan inkomste en dit op papier sit.

Les Drie was om die eerste tree te gee. Jy hoef nie die antwoorde te ken nie en ook nie te weet wat jou doel in die lewe is nie, het sy geleer. Maar jy moet die eerste tree gee en nie langer uitstel nie. Vir ‘n Millennial om geduld te leer was moeilik, bely sy. Sy moes leer dat kits-bevrediging ‘n dom MIllennial-ding is wat nie met die lewe klop nie. Dat die groeiproses sy eie stadige slingerpad volg.

Die Chinese tekens vir krisis, het sy geleer, spel Gevaar en Geleentheid. Sy kon die twee verbind deur die vraag te antwoord – wat gee jou lewe oemf? Spring in en maak werk daarvan. Dis nie altyd maklik nie maar die sap, het sy ontdek, kom wanneer jy die lemoen hard genoeg druk – en dis die moeite werd.

Vorige artikelDon’t worry. Be happy.
Volgende artikelWie sal die boodskap bring?
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.