“Kyk anders na pyn en seerkry”

0
5896

Andries Enslin van die Alberton Lewensentrum kan getuig dat seerkry en pyn nie lekker is nie, maar meen dis die beste ding wat met hom kon gebeur het.

Seerkry het die potensiaal om jou ’n splinternuwe, beter mens te maak. Ek het geleer dit kan jou help om van die dinge ontslae te raak wat nie in jou lewe hoort nie.

Hulle sê mos: Die enigste manier vir ’n koringkorrel om te groei en te vermeerder, is om in die grond te val en in die donker te begin groei.

Die “ou ek” moes sterf, sodat daar ’n nuwe, beter Andries kon opstaan.

Dood is nie lekker nie, maar om ’n sterker, vry mens te word, is daar waarskynlik ’n paar dode wat ons almal eers sal moet sterf om beter anderkant uit te kom. Sommige hiervan is klein opofferings. Ander is groot goed wat jou lewe omverwerp .

Party oggende sal jy jou voortande gee vir ’n koppie koffie. Jy wens jou man wil net opstaan en die ketel gaan aanskakel, maar dan kies jy om “dood” te gaan aan jouself en hom met ’n koppie koffie te bederf.

Ons kry elke dag honderde kanse om ’n klein bietjie aan onsself te sterf en ’n dienaar vir ander mense te word.

Maar dan is daar ook die groot sirkels van “dood” wat ons tref. Dinge soos ’n droom wat sneuwel, ’n werk of ’n prentjie van geloof wat sterf.

Vir baie mense is dit ’n massiewe skok as hulle in hulle twintigs van een klip na die ander een kon spring, maar in hulle veertigs slaan hulle skielik voor die klip neer. Dit het met my gebeur, en dit was ’n groot ontnugtering!

Dis eers wanneer die groot dode jou tref dat jy regtig verstaan. Jy gaan nooit groei as jy nie elke dag ’n klein bietjie “doodgaan” nie.

Wanneer ’n krisis tref, moenie bly lê nie. Kies onmiddellik hoop. As daar nie ’n vinnige hoop-inspuiting kom nie, val jy maklik in ’n diep gat van depressie. Baie mense kom nooit daaruit nie.

Ek het besef daar is twee maniere om ’n terugslag te hanteer. Die keuse lê by my.

Party mense spring vinnig terug, soos ’n rubberballetjie. Hulle kry ’n e‑pos wat sê die maatskappy waarvoor hulle werk, gaan bankrot speel. Dit slaan hard, maar hulle het die vermoë om positief te dink en ’n plan te maak.

Ander mense gaan lê as die lewe hulle ’n harde klap gee. Hulle gaan sit en bejammer hulleself: “Dis die einde, en ek gaan nooit hierdeur kom nie.”

Toemaar, ek weet presies hoe dit voel! In sulke situasies wil ’n mens sommer ’n stomp mes vat en jouself pynig, want dit moet stadig en diep seermaak. Sjoe, dis erg om ’n ding so te ervaar.

Ek moes leer dat om in my denke en optrede meer soos Jesus te word, dit belangrik was dat ’n paar van die kernoomblikke in Sy lewe ook in my lewe teenwoordig moes wees.

Eerstens die “dood”, en dan die “opstanding”: om hoop te kry en op te staan ná die krisis wat jou platgeslaan het.

Die krag van die Gees blaas weer vinnig hoop in ons lewens. Vra daarvoor en omarm dit. Jou probleme gaan nie skielik verdwyn nie. Daar is nog nie ’n oplossing nie, maar daar is hoop.

Ek moes ervaar hoe die prentjie van myself, my drome en my idees oor kerk, mense en vertroue gesterf het. Die goeie dinge diep binne-in my was egter steeds daar.

Die ware jy kan nie vergaan nie. Die potensiaal in jou kan nie doodgaan nie.

Hou vas aan daardie hoop. In jou swaarkry is daar ’n proses aan die werk, en dit sal jou na die uitkoms lei.

Dit vat tyd om jou seer te verwerk. In my eie seerkry moes ek myself herinner aan wat ná die dood en opstanding gebeur het. Jesus was nog veertig dae lank op aarde voor die hemelvaart.

Dis die volgende stap wat moet gebeur: Jy moet deur jou seer werk. Dit is simbolies vir die tyd wat dit jou vat om te rou, gesond te word en jou probleme te hanteer.

Om gesond te word gebeur nie vanself nie. Vra my, dit verg harde werk en inspanning.

In my eie lewe moes ek ’n paar goed in die oë kyk. Ek het by ’n leefstylafrigter gaan aanklop en vir hom gevra wat ek moet doen om weer op te staan en te glo. Om weer voor my gemeente te kan staan en te preek.

Hy het vir my goeie nuus en slegte nuus gehad. Die goeie nuus was: Almal se werk lyk anders. Die slegte nuus is: Die werk is ’n reusetaak. Dis nie ’n geval van “kry jou kop reg en gaan aan” nie. Nee, dis real. Dit raak aan jou hart, jou ontnugterings en jou teleurstellings.

As jy anderkant uitkom, moet jy ook anders wees. Jy mag jy nie meer lyk soos voorheen nie.

As jy, soos ek, ook al die “hoekom”-vraag gevra het – hoekom moes ek seerkry? hoekom het dit gebeur? – is dit dalk tyd om die volgende stap te neem en te sê: “Here, ek is reg om te begin werk.”

Talle mense gaan deur die sirkel van die dood en dan, in die tydperk van werk, kies hulle om net te oorleef. Uit ondervinding weet ek: Jou reuse (jou probleme) gaan nie vanself weg nie.

Hulle sal altyd weer na vore kom, tot jy met hulle klaargespeel het.

Kry jou balans terug voor jy jou reus aanvat. As daar dinge gebeur wat jou balans versteur – jy kan nie meer eet, slaap, werk of selfs opgewonde raak nie – moet jy eers weer jou lewensbaan reguit maak om jou wedloop verder te kan hardloop.

Ek het geleer daar is ’n paar dinge wat jy logies en prakties moet begin toepas as deel van die “werk” om gesond te word.

Beplan jou roete. Waar moet jy hardloop? Wat moet jy met jou lewe doen? Wat wil jy bereik?

Merk die baan duidelik. Kry bakens op jou pad en spesifieke doelwitte, sodat jy doelgerig kan groei. As jy reguit na jou doelwitte mik, sal jy jou balans herwin.

Dit laat my dink aan een van die sterk manne in die Bybel, Simson, wat sy stabiliteit verloor het en eers in sy swakheid bereid was om te bid en hulp te vra. Toe kry hy die krag om sy arms om die twee pilare te slaan en ’n hele gebou plat te trek.

Dis wanneer ons aan onsself sterf dat God iets in ons kan bereik wat moeilik sou gewees het om reg te kry deur iemand wat sterk en selfvoldaan is.

Wat is die twee goed wat in mý lewe stabiliteit gebring het? ’n Man het eenkeer vir my gesê: “Word blind en doof vir die wêreld.” Ek het besef, maar dis presies wat met Simson gebeur het. Die feit dat hy blind en doof geword het, het hom stabiliteit gegee. Dit was die “pilare” wat hom gered het!

Ek hoor hierdie woorde in my gedagtes: Dit wat die wêreld wil gebruik om jou te verwoes, is juis dit wat God gebruik om jou sterk te maak.

Dit is goed om partymaal terug te kyk. Ons moet die seer van ons verlede agterlaat, maar party dinge moet onthou word. Terwyl jy deur jou seerkry worstel, moet jy die truspieëltjie in jou lewe gebruik en terugkyk na die genade wat jy al ontvang het.

Dit herinner my aan die mense van Israel wat bang was vir die reuse in die beloofde land. Net twee van die verspieders het hulle truspieëltjies gebruik. Kaleb het gesê: “Moenie bang wees nie. Kyk wat het die Here tot nou toe vir ons gedoen. Hy sal ons weer help.”

Die boodskap wat hy oorgedra het, was: “Gaan terug en verbind die kolletjies in julle lewe.”

Maar wat gebeur? Van die ander verspieders versprei ’n gerug dat die land sy inwoners se lewens opeis.

Ek wil net sê: Ek haat rumours. Want naderhand glo almal dit.

Wat is jou krisis? Egskeiding? Bankrotskap? Voel jy dis klaarpraat met jou?

Dis waar Israel ook was. Maar Kaleb was nie daar nie. Met sy truspieëltjie in die hand het hy die vermoë gehad om die kolletjies te verbind en ’n prentjie van liefde te sien.

As jy my ’n paar jaar gelede sou gevra het of die Here my liefhet, sou ek ja gesê het. Nie as gevolg van dit waardeur ek moes gaan nie, maar oor wat ek in my truspieëltjie kon sien van ’n tienerkind wat gered is en elke dag Sy liefde ervaar het.

Ek het dit nie gevoel in die moeilike tyd van my lewe nie, maar ek het dit gewéét, omdat ek die kolletjies verbind het. Al was daar swaarkry, het Hy nie my naam of roeping vergeet nie.

Ek het net geweet: Ek word liefgehê en daarom sal ek anderkant uitkom.

Pasop vir dinge wat soms in jou pad staan. Wat is die begeertes diep in jou hart? As ons eerlik moet wees, het dit dikwels te doen met die glinstering van die wêreld. ’n Mooi huis, ’n mooi kar, kinders wat presteer of ’n stewige bankbalans.

’n Baie groot uitdaging wat ons weghou van die regte perspektief, is narsisme – wanneer jy te lief is vir jouself. Ons leef in ’n tyd waar die eie ek baie belangrik is. Alles gaan oor “my”: my kinders, my familie, my werk. My sukses, my naam, my geluk en my vrede. Die reputasie waaraan ek bou en alles wat ek nog wil bereik.

Die tweede uitdaging is dat alles vir ons prakties moet sin maak. Ek doen net iets as ek kan sien daar is resultate. Die probleem is dat dit die innerlike self ignoreer. As jy klaar gebid het, kan jy nie dadelik resultate sien nie. So, dis maklik om te wonder: Hoekom moet ek dan bid?

Ons derde groot uitdaging is rusteloosheid. Ek sukkel self om stil te sit. Skaars vyf minute voor die TV, dan begin ek kanale verander. Of ek kyk gou op Facebook, of WhatsApp of na my e-pos. Daar moet altyd iets gebeur. As die een ding klaar is, moet die volgende ding al in plek wees.

Dis vir my ’n nagmerrie as my vrou, Vicky, sê ons het vandag ’n rustige middag by die huis. Dan wil ek dadelik weet of ons nie iets kan gaan doen nie. Asof ek voel die lewe het net sin as ek besig is.

Maar het jy geweet hierdie rusteloosheid is eintlik in die mens geplant? Daar is al baie studies daaroor gedoen. Die soeke, die honger en dors, is eintlik ’n soeke na Hom.

Gee aandag aan hierdie uitdagings, want partymaal is ons so vasgevang daarin dat Jesus reg langs ons staan (ook in ons krisis), maar ons kom dit nie eers agter nie.

Moenie jou storm vrees nie. Dis nie nodig om alles te glo wat jy hoor nie. Of te skrik vir wat die dokter of prokureur sê nie. Of te stres oor die dinge wat koerante en die ekonome voorspel nie.

Toe die storm om my losgebars het, het ek doelbewus my lig helderder laat skyn, want ek het geweet my kinders, kollegas en vriende hou my dop. My liggie mag nie verflou as gevolg van omstandighede nie.

In die tyd waarin ons leef, is daar nie meer plek vir afgewaterde gebede nie. Ons kan dit nie bekostig om net te gaan lê en te sê: “Eina, eina, die duiwel slaan my!” nie.

Ons moet kragtig begin bid dat ons lig helderder sal skyn as ooit tevore. By die werk, in ons huwelik, vir ons gesin.

Ek weet nie wat jou krisis is nie, maar ek weet een ding: Ons almal kom voor uitdagings te staan. Gaan na jou kamer, maak die deur toe en beoefen gebed. Dit gaan nie vanself gebeur nie. Maak tyd daarvoor.

Dit hoef nie hoogdrawend te wees nie. Vertel Hom net van jou uitdagings. Dalk is dit finansies of gewoontesondes wat elke keer weer terugkruip in jou lewe. Die antwoord hierop is die Gees wat kragtig deur jou vloei.

Moet ook nie dink die oomblik dat jy begin bid, is alle probleme net weg nie. Soms moet ons eers die storm trotseer, sodat dit ’n storm van bonatuurlike krag kan veroorsaak.

Hy wat in jou is, is sterker as hy wat in die wêreld is. Nie deur krag of geweld nie, maar deur ’n fluistering van hoop.

Leer om by verandering aan te pas. Werk, verhoudings, ons land – dinge is gedurig aan die verander. Dis deel van die lewe, maar dit laat ons steeds skrik.

Ek terg altyd van my vriende wat vurige rugbyondersteuners is. Ek sal byvoorbeeld vir een van hulle sê: “Ek weet jou dogter gaan eendag met ’n Bulls-ondersteuner trou.” Dan antwoord hy: “Oor my dooie liggaam!”

Daar is beslis goed waaroor ek ook so voel. My vrou, my kinders en hulle toekoms, byvoorbeeld.

Jy het dalk al self gesê jy sal nooit dit of dat toelaat nie. Maar toe gebeur dit en skielik kom jy voor massiewe veranderings te staan wat jou diepste menswees uitdaag.

Ek het al ervaar hoe ’n mens binne ’n paar dae van ’n held op Sondag in ’n vals beskuldigde krimineel kan verander. Hoe mense jou martel, beskuldig, ’n doringkroon op jou kop druk en spykers in jou hande kap.

Het jy dit ook al beleef? Jou hele wêreld gaan staan stil.

Leer om dit te aanvaar… en te onthou dat hoe jy jou krisis hanteer, ook ’n invloed op ander mense het. Goed of sleg.

Oral waar ons kom, en in elke situasie, kan ons tot Sy eer gebruik word. Ons kan ’n wonderlike aroma versprei, of ’n doodsreuk.

Watter reuk versprei jy as daar verandering in jou lewe, werksplek of finansies kom? ’n Reuk van vrees, ongeloof en pessimisme? Of van vrede en geloof?

Baie van ons, ek inkluis, het te lank in afsondering geleef waar ons gedink het ons is gevrywaar teen die lewe se storms.

Maar hierdie storms – groot en klein – gebeur elke dag. Ons moet sterk genoeg wees om te weet waar ons sekuriteit lê. Dit is nie in aardse instellings, plekke of mense gesetel nie. Ook nie in godsdienstige reëls, kultuur of tradisie nie. My en jou identiteit lê in die hemel, in wat God van ons sê.

Liefde bly die belangrikste. Ons almal is al deur mense seergemaak. Hulle is waarskynlik die rede hoekom jy deur jou sirkel van pyn moet worstel.

Nou moet ons besluit hoe ons die mense ten spyte van ons pyn gaan hanteer.

Ek het ’n paar belangrike, selfs skokkende, lesse hieroor geleer. Een is: Moenie op mense vertrou nie. Ek het na ’n Bybelvers gaan soek wat die teendeel verkondig, en ek kon nie een kry nie! Inteendeel, selfs die Bybel waarsku dat ons nie op mense moet staatmaak nie, want hulle kan jou nie red nie.

Ons almal het issues en dra ons eie bagasie.

Deur my moeilikste tyd het ek geleer om my fokus te verskuif. Die besluit is geneem dat ek nie gaan ophou om God te loof nie, en ook nie om mense lief te hê nie.

Dis ’n uitdaging, want ek voel dis eintlik makliker om mense te vertrou as om hulle lief te hê. Die verskil is: As ek jou vertrou, manipuleer ek jou dat jy my nooit mag teleurstel nie. As ek jou liefhet, gee ek jou toestemming om my teleur te stel – want ek sal jou aanhou liefhê ongeag wat jy doen.

Liefde sê ons vergewe en ons kyk vorentoe, sonder om ons hoop en blydskap op mekaar te bou. As ek mense liefhet, beteken dit ek kan saam met diegene werk wat my al te na gekom het. Ek kan in ’n verhouding staan met mense wat my in die rug gesteek het. En hulle kan my ook vergewe en weer met my ’n verhouding bou.

Pyn kom een of ander tyd na ons almal toe – dit kom net in verskillende gedaantes.

Wanneer dit wel kom, wees gereed daarvoor en werk daarmee. Nie alleen nie, maar saam met Hom.

Dan word jou “test” jou “testimony”.

Epi-Max