Kyk fyner na aanlyn speletjies

296

Dis lekker om in ’n ander wêreld “te besoek” en jouself ’n bietjie te verloor en boonop speel jy saam met regte mense van regoor die wêreld.

Die jongspan speel ure lank. En hoe anders, dis dan só lekker om deur middel van hulle oorfone met medespeletjie-entoesiaste te gesels en dan saam in die virtuele wêreld uitdagings aan te pak.

Agter die skerms van dié digitale vermaak

Kom ons gesels ’n bietjie oor Fortnite, Call of Duty en Minecraft en ander aanlyn speletjies.

As jy gaan kyk na die grafiese elemente, die ontwerp, die musiek en al die intrige wat in die stories ingaan, kan jy verstaan hoekom mense ure van hulle lewe in dié fantasiewêrelde verloor.

Benewens vir genot word aanlyn speletjies op verskeie maniere gebruik om nuwe inligting oor te dra, byvoorbeeld om by skole gekompliseerde temas te verduidelik en in die werksplek vir opleiding.

Dit bevorder ook die brein se vermoë vir strategiese denke. Wanneer die uitdagings onverwags is, motiveer dit kreatiewe probleemoplossingsvaardighede, uithouvermoë en stamina.

Met oorfone vir kommunikasie en saamspeelgeleenthede bevorder dit ook spanwerk.

Digitale wêrelde het ’n baie gewilde en opwindende industrie geword.

Dit skep ook baie geleenthede vir ontwerpers, programmeerders en bemarking.

Nuwe industrie bied nuwe werksgeleenthede

Jy kan ’n professionele eSports-speler word.

Deesdae is daar professionele spanne wat saam oefen en dan aan toernooie deelneem om te kyk wie die uiteindelike prys kan wen.

Dit sal dalk verrassend wees om te sien hoe “fiks” hierdie spanne is. Dié spanne oefen net so hard in die gimnasium soos ander atlete.

Hulle moet psigies, emosioneel en fisiek sterk genoeg wees om die druk te kan hanteer en stamina hê om vir lang tye te konsentreer.

Hierdie sportsoort raak al hoe gewilder en skep heelwat nuwe opsies wat as moontlike werksgeleenthede ondersoek kan word.

Weer, soos met ander loopbane, is dit belangrik om prioriteite en verantwoordelikhede in gedagte te hou voordat ’n mens in jou werk vasgevang raak. Dit is nie kinderspeletjies nie

Die impak en hoe jy kan help

Wat is die ouderdomsbeperking? Dit gaan nie net oor geweld of taalgebruik nie, maar is ook belangrik omdat vreemde mense met mekaar moet kan kommunikeer.

Skep tydgleuwe waartydens aanlyn speletjies gespeel kan word.

Neem die morele impak in ag. Kyk na die materiaal wat hulle sien en vra jouself af of jy dink dis oukei om in die regte lewe hierdie soort dinge te doen wat in die speletjie gedoen word.

Weet met wie hulle gesels. Indien jou kind ’n paar stresfaktore moet hanteer, kan die impak van ’n vreemdeling se kommentaar ’n groot effek hê.

Kom ons wees positief oor aanlyn speletjies, maar bewus van die impak. Maak seker dat jou kind die ouderdomsbeperkings in ag neem en wees jy die ouer wat seker maak hulle bly binne die grense.

-RIANETTE LEIBOWITZ

Kliek hier vir meer digitale ouerskap met Rianette Leibowitz.