Kyk mooi na jouself

471

Vroue wat uitgeput  raak, verloor hulle vreugde  en fokus. Die mens is nie  ’n masjien wat kan aanhou werk nie. Rus gee die liggaam die kans om te herstel  en die gees ’n geleentheid  om op God te fokus.

MAANDAG

Selfsorg is om doelbewus vir jouself tyd te maak

Vroue is geneig om te dink dat dit selfsugtig is om op hulleself en hulle eie behoeftes te fokus. Maar as jy nie vir jouself sorg nie, gaan niemand anders dit doen nie! Ons is elkeen verantwoordelik vir ons eie lewe.

Die meeste van ons voel skuldig as ons onsself die weelde van niksdoen, of ten minste lekker dinge doen, gun. Dag ná dag word ons deur die ellelange doenlysies in ons lewe voorgesê.

Maar soms is die produktiefste aktiwiteit wat jy kán aanpak om in ’n hangmat te lê en na die wolke te kyk. Dit voed jou menswees en is goed vir jou gesondheid.

Selfsorg is om binne die grense van jou vermoëns te presteer en terselfdertyd jouself uit te daag om te sien waartoe jy in staat is.

Dis om jou energie doeltreffend te bestuur sodat jy kan fokus op dit wat regtig belangrik is.

Dit beteken nie om lui te raak en voortdurend uit te stel nie. Dis ook nie ’n beheptheid met jouself en jou eie belange nie. Inteendeel. Dit beteken juis ook ’n hart vir ander, om húlle te kan help selfsorg toepas.

Ses dae moet jy werk, maar op die sewende dag moet jy rus. Of dit nou ploegtyd of oestyd is, jy moet rus (Eksodus 34:21).

DINSDAG

Te min of geen ontspanning is ongesond

Kenners en vroue wat al op die harde manier geleer het, stem saam dat stres en die onvermoë om rustig te raak, oneindige skade veroorsaak.

Dit geld ook vir ons binnewêreld. Ongesonde skuldgevoelens breek selfvertroue en selfrespek af en verhoed ’n mens om jou ware self te wees. Dit lei tot spanning, wat weer probleme soos diabetes, hoë bloeddruk, depressie, beroerte en hartaanvalle tot gevolg kan hê.

Dit is maklik om in die gewoonte te verval om te wil presteer en altyd daar vir ander te wees. Maar jy doen jouself baie skade aan. ’n Moeë vrou beteken niks vir enigiemand nie.

As jy siek is, is jy siek. Maak vrede daarmee en bly in die bed. As jy jouself nie oppas nie, gaan jou werk en geliefdes in elk geval daaronder ly. Jou kollegas en huismense is méér as bevoeg om vir ’n dag of twee uit te help.

Beweeg stadiger deur die lewe, bederf jouself met dinge wat saak maak en geniet elke dag. Dit is noodsaaklik vir sielevrede en geluk.

Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind (Psalm 131:1-2).

WOENSDAG

Jou eie behoeftes verdien voorrang bo dié van ander

Wanneer dit by die bevrediging van ander se behoeftes kom, is vroue geneig om regte dienende Marthas te wees. Dit terwyl sy die belangrikste persoon van almal ignoreer: haarself!

’n Vrou wat nooit by haar eie behoeftes uitkom nie, raak negatief en verbitterd. Sy sal maklik ’n lelike houding ontwikkel omdat sy voel sy word misbruik.

Wees lief vir jouself, nes jy die mense in jou lewe liefhet. Jou behoeftes is net so belangrik soos die huismense s’n. Heg waarde daaraan en doen soms wat jý wil.

Maak ’n lysie van dinge wat jy geniet om te doen. Jy het die reg om gesond selfsugtig te wees. Gee struktuur aan die lysie en beplan hoe jy dit gaan uitvoer, byvoorbeeld hoeveel tyd elke behoefte moet kry.

Dit help nie jy het alles op papier, maar kom by niks uit nie. Kry ’n plan van aksie!

Besluit byvoorbeeld dat jy van nou af een keer ’n week in ’n borrelbad gaan lê. Dat jy elke tweede week saam met ’n vriendin gaan kuier en een keer ’n week Bybelstudie gaan bywoon.

Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop (Habakuk 3:19).

DONDERDAG

Verskillende mense herlaai op verskillende maniere

Hoe en wat elke vrou doen om te ontspan, hang van persoonlikhede af. Ekstroverte sal dinge saam met ander mense wil doen, terwyl introverte eerder ’n aktiwiteit op hulle eie sal beoefen.

Soms sal jy die ondersteuning van jou maat nodig hê. Praat met jou man oor hoe belangrik dit is om op dié manier te herlaai.

Wees goed vir jouself en rus wanneer daar ’n kansie is, of wanneer jy dit nodig het.

Bekommernis steel ’n mens se vreugde. Jy kan niks aan gister doen nie, nog minder waarde tot jou lewe toevoeg deur jou oor onbenullighede te bekommer.

As jy ’n harde week agter die rug het, verdien jy ’n ruskans en dit het niks met luiheid te make nie. Geniet die ervaring met oorgawe.

Klim met ’n boek of tydskrif in die bed en geniet die vreugde om nuwe mense en plekke relatief goedkoop te ontdek.

Woorde soos: “Ek kan nie”, “Ek mag nie” en “Wat gaan die mense sê?”, demp weens skuldgevoelens vroue se lewensvreugde. Bêre maar daardie skuldlysies diep weg en ontspan!

Daar is mense wat sê: “Alles is geoorloof.” Ja, maar nie alles is heilsaam nie. “Alles is geoorloof,” sê hulle. Ja, maar alles is nie opbouend nie (1 Korintiërs 10:23)

VRYDAG

Neem af en toe ’n bederfdag

Neem ’n dag verlof (selfs al werk jy nie) en doen iets wat jy gewoonlik nie vir jouself gun nie. ’n Bederfdag sal jou oë weer oopmaak vir dié dinge wat eintlik jou energie-gewers is.

Gaan fliek (met springmielies en koeldrank) of geniet ’n rustige ontbyt. Klim vroegoggend terug in die bed met ’n tydskrif en koffie. Loop sommer die hele oggend in pajamas rond!

Vriendinne help jou om in voeling te bly met die vrou wat jy was voordat jy iemand se vrou of ma geword het. Nooi iemand vir koffie of middagete en gesels sommer oor onbenullighede.

Om doelloos in ’n winkelsentrum rond te dwaal is goeie terapie vir die sintuie en vervul ’n behoefte aan die estetiese. Al sit jy net en kyk na mense, is dit ’n wonderlike manier om kop skoon te maak.

Moenie éérs wonder of jy ’n pedikuur, manikuur en haarsny verdien nie. Laat doen dit! Jy is dit werd.

Eindig die dag met ’n romantiese aandjie uit, net vir julle twee. Jou huwelik is baie belangriker as die feit dat Ouma weer die kinders moet oppas.

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! (Jeremia 29:11).

SATERDAG

Ontgin nuwe belangstellings en vergete talente

’n Bederfdag af en toe is goed, maar dis belangrik om veranderinge aan jou leefstyl deel van elke dag te maak.

Daar word beweer dat ’n stap- of drafsessie van 20 minute die gemoed 12 uur lank kan opkikker. Draf, slaan ’n slaansak, begin dans of gaan stap, maar begin beweeg.

Speel buite met die kinders of gaan stap met die hond deur die buurt. Net ’n paar minute buite in die vars lug sal jou vinnig laat ontspan.

Dit is terapeuties om gedagtes op papier neer te pen. Skryf orden jou denke, help jou ontlaai en gee antwoorde op kwelvrae.

Identifiseer jou gawes en begin daarvan werk maak – skryf in by ’n beginnersgroep en leer ’n nuwe stokperdjie aan.

Kwiltwerk, kaartjies maak, kraletjiewerk, découpage, mosaïekwerk, skilder, koek bak. Alles is wonderlike uitlaatkleppe vir kreatiwiteit en eiewaarde.

As jy nie jou werk geniet nie of in ’n toksiese verhouding is, breek weg en doen iets anders. Kry ’n nuwe werk, beleef die lekker van jou eie geselskap of gaan hou vakansie. Moenie dat omstandighede verhoed dat jy geluk ervaar nie.

Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie (1 Korintiërs 3:16)?

SONDAG

Kry ’n heel nuwe daaglikse roetine

Dink positief en begin elke dag met ’n glimlag. Glo in jouself! Jy is wat jy dink, so, maak seker jou gedagtes is opbouend en optimisties. Ervaar dan hoe jou selfvertroue en energievlak ’n goeie hupstoot kry.

Dit maak nie saak wat jy het of nié het nie, daar is altyd ’n rede om dankbaar te wees. Dit is soms juis die klein dingetjies wat ons oneindige vreugde gee.

Tel jou seëninge en deel dit met ander mense. Dankbaarheid gee perspektief en laat ’n mens meer doelgerig en passievol leef.

Daar is niks wat ons moeër maak as ’n oorlading van stimuli en ’n verhoogde adrenalienvlak nie. Wanneer dinge te veel raak en jy wil moedeloos raak, vra: “Is dit belangrik? Maak dit regtig saak? Sal dit oor vyf jaar steeds ’n effek hê?”

Indien nie, skakel die rekenaar en selfoon af en geniet die tydjie om net te wéés.

Moenie bang wees om jou sê te sê nie. Hoe eerliker jy met ander mense is, hoe makliker sal dit wees om grense te stel en aandag aan jou eie behoeftes te gee.

Ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie (1 Korintiërs 9:27).