Kyk wyer en neem beter besluite

0
166
besluite.jpg

Soms maak jy op jou intuïsie staat as jy voor ’n keuse te staan kom; ander kere ontleed jy die situasie sorgvuldig. Tog het jy al baie verkeerde besluite geneem. Waar maak jy dan die fout?

In die boek Decisive beweer Chip en Dan Heath dat ons baie geleenthede misloop omdat ons te maklik teen een of twee keuses vaskyk. Jy hink gewoonlik op twee gedagtes: Ja of nee? Reg of weg? Jy moet eerder aan meer opsies dink of verskillende opsies kombineer.

So het jy ’n groter verskeidenheid keuses en kan jy beter besluite neem. Daar is ’n paar metodes wat jy kan volg. Een manier is om na die alternatiewe koste van ’n besluit te kyk. Dit beteken jy stel eers vas wat jy gaan prysgee as jy die ander keuse sou maak.

Gestel jy oorweeg dit om ’n hamburger te gaan eet en dan te gaan fliek. Die alternatiewe koste sal dan ’n duurder ete by ’n restaurant en TV-kyk by die huis wees. Anders gestel: Die alternatiewe koste is die tweede beste opsie wat jy met dieselfde hoeveelheid tyd en geld sou kon doen.

Navorsing toon dat al oorweeg jy ook ’n swak idee as alternatief, dit jou steeds help om ’n meer ingeligte besluit te neem. Dit leer jou om kreatief te dink en perspektief te kry.

Nog ’n tegniek wat jy kan gebruik, is om te veronderstel jy kan nie een van die moontlikhede kies wat jy op die oomblik oorweeg nie. Dink nou watter ander keuse jy het. As jy mooi kyk, sal jy sien jy probeer baiekeer om een van die holruggeryde opsies te láát werk, eerder as om aan iets heeltemal nuut en vars te dink.

Dink aan verskeie opsies gelyktydig

Jy het gewoonlik een van hierdie twee ingesteldhede wat ’n rol speel as jy besluite moet neem: Jy probeer óf om onaangename dinge en ’n negatiewe uitkoms te vermy, óf jy mik na die positiewe uitkomste.

Sielkundiges noem dit ’n “fokus op voorkoming” en ’n “fokus op bevordering”. Al twee ingesteldhede is goed, maar die ideaal is om hulle saam te gebruik.

As jy oor ’n goeie besluit dink wat jy onlangs geneem het, sal jy sien jy was terselfdertyd versigtig (voorkoming) én entoesiasties (bevordering). As jy te bang is vir ’n negatiewe resultaat, sal jy dalk pessimisties wees en risiko’s wil vermy. Aan die ander kant, as jy gemik is op prestasie, sal jy makliker risiko’s loop, maar jy kan dalk naïef wees en oorhaastig optree.

Dit is beter om die beste eienskappe van die twee ingesteldhede te kombineer; dan kan jy ’n wyser besluit neem. As dit vir jou makliker is, skryf die verskillende alternatiewe neer, asook die voordele en nadele van elkeen.

[Pagebreak] Jou mikpunt is uiteindelik die besluit wat die minste skade kan aanrig (voorkoming) én terselfdertyd die beste geleenthede bied (bevordering).

Analiseer en vra vrae oor elke opsie

Jy weet nou as jy ’n goeie besluit wil neem, moet jy aan meer moontlikhede dink. Goed, jy het nou ’n hele paar keuses neergeskryf. Hoe besluit jy watter een sal die beste wees?

Gestel jy en jou kollegas hou ’n dinkskrum by die werk. Dit sou beter wees om afsonderlik na elke voorstel te kyk en te vra: Wat ontbreek by hierdie voorstel om dit die regte idee te maak? Almal kan nou daaroor redeneer sonder om persoonlik te raak.

Die klem skuif dan na probleemoplossing. As elke moontlikheid so oorweeg word, is dit makliker om later ’n duidelike gevolgtrekking te maak.

Soms gebeur dit dat jy bevooroordeeld is teenoor iemand of iets. Sê nou jy dink iemand is selfsugtig. Dan sal jy naderhand net die dinge raaksien wat in jou oë selfsugtig is en die persoon se vrygewigheid miskyk.

Met besluite is dit ook so. Jy wil dalk ten alle koste nie ’n sekere moontlikheid oorweeg nie, bloot omdat jy ’n vooropgestelde idee daaroor het. Moenie sommer negatiewe aannames maak nie. Dink eerder goed oor elke alternatief.

Leer uit ander se ervaring

Jy maak staat op ander se opinies as jy oor minder belangrike dinge moet besluit, soos om resensies te lees as jy na ’n film wil gaan kyk. Hoekom dan nie iemand se ervaring gebruik as jy oor belangriker dinge moet besluit nie?

Een van die beste maniere om wyer te kyk is om iemand te soek wat ’n soortgelyke probleem opgelos het. Zoem uit en kry die groter prentjie en zoem dan weer op jou eie omstandighede in en pas toe wat jy by die persoon geleer het.

Finesse se inspirasievrou van die jaar, Jana du Plessis, het sewe jaar gelede kanker gekry. Die dokters sou haar been moes amputeer. “Ek het my been laat afsit sodat ek my drie maande oue babatjie kon grootmaak,” sê sy.

Jana moes kies: Sy kon voel die lewe skuld haar iets of sy kon positief wees.

Verlede jaar het die kanker weer kop uitgesteek. Sy en haar man, Ian, moes ’n ondenkbare besluit neem: Sy was tien weke swanger en die baba moes geaborteer word sodat hulle ander twee kinders ’n mamma kon hê. “Met sekere keuses kan niemand regtig help nie, maar my dierbare predikantsvriendin help my tog om dinge in die regte perspektief te plaas.”

Jy sal nie altyd die regte besluite neem nie, maar jy kan beter besluite neem deur jou opsies te verbreed en die groter prentjie te sien.