Laat blom jou koppige kind

Sy gooi tantrums en is altyd reg om dwars te trek. Hoe help jy jou eiesinnige kind om te floreer sonder dat jý kop verloor?

Dit maak nie saak hóé ’n goeie ouer jy is nie, party kinders sal net die lewe vir jou moeiliker maak as ander.

Sensitiewe kinders sal maklik huil, teësinnig aan sosiale situasies deelneem en nie van verandering hou nie. So sal jou kind met ’n baie sterk wil ook bepaalde “gedragsprobleme” openbaar.

Almal gaan woede-uitbarstings kry, maar hierdie outjie sal dit meer gereeld kry en dit baie verder dryf. Sy sal jou altyd teëgaan en nie dissipline geredelik aanvaar nie. Sy sal ook maklik gefrustreerd raak, meer aggressief wees en sukkel om te deel en beurte te maak.

Handhaaf konsekwente dissipline

Jy moet so vroeg moontlik begin om basiese riglyne vir jou kinders neer te lê. Ná agt jaar raak dit baie moeiliker om hierdie probleme op te los.

Nou is hy fisies nog klein. Jy kan hom kamer toe dra as hy weier om te gaan. As jou ouer kind egter viervoet vassteek en nie doen wat jy sê nie, is dit moeilik om hom te kry om te luister.

Jou grense moet duidelik en konsekwent wees en daar moet van hom verwag word om binne daardie grense op te tree. Moet nooit dreig met straf en dit dan nie uitvoer nie.

As Ma nou skrik vir ’n vloermoer, sal hy weet hy moet dit volgende keer net ’n bietjie verder voer voor sy toegee.

Kies versigtig watter kwessies konfrontasie werd is, aanvaar die uitdaging oor hierdie kwessies en wen beslissend.

Stel die grense duidelik. Stip die keuses binne die grense uit, asook die gevolge van die keuses.

Maak seker die gevolge is wel uitvoerbaar en voer dit deur. Dis ononderhandelbaar.

Staan saam as ouers en bly in beheer

Moenie paniekerig raak nie. Behandel jou kind met opregte liefde en respek, maar eis dat sy julle leierskap aanvaar.

As jy en jou man van mekaar verskil oor dissipline, gebruik die kind die geleentheid om self te besluit wat reg en verkeerd is. Jou eiesinnige kind sal baie vinnig wees om sulke verskille uit te buit. Moet dus nie jou maat se dissipline ondermyn nie.

’n Baie groot fout wat ouers maak, is om in ’n geveg met kinders betrokke te raak. Dis nie nodig om haar van julle standpunt te probeer oortuig nie.

Moenie die aas vat wat sy vir julle uitsit nie. Gee erkenning aan haar gevoelens, maar stip dan haar opsies vir haar uit, met die gevolge. Laat haar die keuse maak en met die gevolge saamleef.

Gee tonne liefde, aandag en versorging

Die belangrikste van alles is ’n goeie ouer-kind-verhouding. Alle kinders het die aandag en liefde van hulle ouers nodig. ’n Koppige kind sal net baie erger reageer as sy nie genoeg daarvan kry nie.

Jy kan nie jou kroos dissiplineer as jy nie ’n goeie verhouding met hulle het nie. Laat hulle blom in ’n huis vol liefde waar hulle binne veilige grense hulle menswees kan ontdek en kan groei tot volwassenheid.

Baiekeer is daar woedeuitbarstings omdat daar nie in die basiese behoeftes voorsien word nie – sy is dalk oormoeg of honger. Jy moet ingestel wees op wat elke tipe persoonlikheid kan hanteer en wat nie. “Lees” haar sodat jy daarrondom kan beplan.

Beloon elke teken van positiewe samewerking deur aandag, liefde en erkenning. Gesels altyd ná ’n konfrontasie. Maak vrede, gee ’n drukkie en gesels oor wat gebeur het en hoe sy dit volgende keer kan vermy. 

[VIDEO] Ken die verskillende tantrums