“Laat dit asseblief tog nie slegte nuus wees nie!”

0
8
Okt'12---My-storie---Douw-S.jpg

Vir die wêreld daarbuite was sy Christa Steyn, begaafde musikant, komponis, sanger en liedjieskrywer wat haar stryd teen kanker verloor het. Vir Douw Steyn was sy mentor, vriendin en sakevennoot. Maar bowenal – ma!

Ek is in die studio, probeer met my werk aangaan. Maar my gedagtes is nie by wat ek doen nie. Dis by my ma. Vandag hoor ons. Vandag sal ons weet wat die uitslag van die toetse is. Ek weet! Ek wéét wat moontlik op ons wag. My vriende, dié met mediese kennis, het my probeer waarsku.

“Dit lyk nie goed nie,” het hulle gesê.

Nogtans hoop ek, bid ek. “Laat dit asseblief tog nie slegte nuus wees nie!” vra ek, smeek ek. Aanmekaar.

Maar toe my ma en suster van die dokter af kom, moet ek tog maar die gevreesde woord hoor. Kanker! Wat altyd net met “ander mense” gebeur, het nou ook met ons gebeur. My ma, vir wie ek so lief is, het kanker!

Ons is nie vreeslike “drukkie”-mense nie. Ons hou nogal van ons personal space. Maar daar is ’n baie spesiale verhouding tussen my en ma.

Dis ongelooflik seer in my en ek weet nie wat om daarmee te maak nie. Hoe troos ek my ma? Ek weet nie. Ek weet eenvoudig nie. Ek wil op my eie wees en gaan studio toe. Dis net makliker om hierdie verskriklike nuus te probeer ignoreer.

Kan ’n mens se lewe so gou verander? ’n Week of wat gelede het ons by vriende op hulle wildplaas gaan kuier om my ma se komende verjaarsdag te vier. Sy het die knop in haar bors bloot per toeval ontdek. “Dis so groot soos ’n gholfbal,” het haar vriendinne bekommerd gesê nadat hulle ook daaraan gevoel het.

Vreemd genoeg het daar dikwels op haar verjaarsdag dramatiese dinge met my ma gebeur. Sy het eenkeer heeltemal onverwags in die hospitaal beland en het selfs al haar verjaarsdag in ’n polisiesel deurgebring! Geen wonder ek en my suster het haar later op haar verjaarsdag veilig in die huis probeer hou nie.

Maar niks was so erg soos om net voor haar verjaarsdag met kanker in die finale fase gekonfronteer te word nie. “Sjoe!” wil sy tong in die kies weet, “hoe gaan ek dít met my volgende verjaarsdag oortref?”

Hierdie jaar, op haar verjaarsdag, is haar begrafnisdiens gehou. Voor in die kerk was daar ’n bos wit rose met ’n titseltjie pienk. Rose wat na haar vernoem is en ’n aangename geur versprei het.

Aanvanklik bly my suster en haar man saam met my in my ma se huis. Maar die stilte en die leemte wat sy gelaat het, is voelbaar. En ek is soos ’n zombie. Eintlik weet ek nie wat ek in daardie eerste week doen of sê nie. Dis asof ek losgehaak het van myself. Soms verwag ek selfs dat my ma enige oomblik by die deur ingestap gaan kom. Dis asof die werklikheid nog nie regtig ingeskop het nie.

Die naweek na haar gedenkdiens pak ek en my suster my ma se kamer sodat ek daar kan intrek. Dit voel vir my verskriklik verkeerd om my ma se goedjies weg te sit. Dit voel asof ek vir haar sê dis oukei dat sy dood is. En dit ís nie …

Haar vleuelklavier staan nog op dieselfde plek in die huis, ’n sterk herinnering aan haar. En dit laat my onthou … ons het beurte gemaak om by my ma te wees … daardie laaste dag. Ons wou haar nie alleen los nie. Voordat ek gaan rus het, het ek in ’n harde stem met haar gepraat, want ek wou seker wees sy hoor my: “Ma,” het ek haar verseker, “ons is lief vir Ma.”

“H’m,” het sy geantwoord en geglimlag. My suster het langs haar op die bed gaan lê en haar hand vasgehou.

Ek het skaars gaan lê toe my swaer my kom roep. “Jy beter kom,” het hy gesê. Toe ek by haar kamer instap, was dit reeds te laat. Sy was dood …  Ek het by haar gaan lê, haar hande in myne geneem. Hierdie hande, het ek besef, sal nooit weer op daardie vleuelklavier speel nie.

Eers nadat alles tot ruste gekom het, eers toe almal terug is werk toe en huis toe en met hulle lewens aangaan, toe eers besef ek die realiteit en die finaliteit van haar dood. Toe alles weer terugkeer na normaal, of dan so normaal soos wat dit ooit weer vir ons sal wees, toe eers dring dit werklik tot my deur. 

Ek het so baie by my ma geleer – ook om nie te kla oor wat jy nié het nie, eerder dankbaar te wees vir wat jy wél het. By haar het ek gesien hoe om sterk en positief in die donkerste, moeilikste tye te wees. Om haar skoene vol te staan gaan bitter moeilik wees. As ek die helfte kan bereik van wat sy bereik het, sal ek tevrede wees. En wat ek en sy begin het, wil ek nog gróót maak.

Ek het klaar met die rebranding van ons opname-ateljee begin. Studio of Note is na Son Recordings verander. Die SoN is ’n akroniem vir  Studio of Note maar verwys ook na mý, haar seun, wat aangaan met haar nalatenskap. My liefde vir musiek het ek by haar gekry. Sy was my mentor, my leermeester. Ek het ook haar lied, Ek wil vir jou, in rock verwerk. Dis deur Pieter West opgeneem.

[pagebreak]

Hiermee wil ek  bewys dat Christa Steyn se musiek sterk genoeg is om vele generasies te oorleef, veral as dit in ’n jonger styl verwerk word. 

Die afgelope jaar het ek en my ma baie na aan mekaar geleef. Ons het nog altyd ’n passie vir musiek gedeel, maar die laaste ses maande van haar lewe kon sy nie meer werk nie. Sy het ook nie meer in die studio gekom nie. Wanneer ek dan vir die dag klaar gewerk het, het ek by haar in die kamer gaan sit. Dit was ons ding om Master Chef en Come Dine With Me saam te kyk.

Na my ma se diagnose het sy haar stelselmatig aan die studio onttrek. Ek het die gevoel gekry sy wou my geleidelik voorberei om alleen met die besigheid aan te gaan. (Sy het meer in my geglo as ekself.) Ek het ook geweet dat dit haar frustreer om nie meer klavier te speel of liedjies te skryf nie. So, terwyl ek in die studio gesit en werk het, het sy soms vanuit haar kamer ’n akkoord geskree as sy gedink het dis ’n beter keuse as die een wat ek gebruik.

Dis nie altyd maklik om in die oggende op te staan nie, maar ek probeer haar voorbeeld volg: Ek probeer net so sterk wees. Ek kry krag om aan te gaan omdat ek haar skoene probeer volstaan. Daar is so baie om te doen, soveel dinge om na te streef. Tydens haar siekte wou sy haar bekommernis alleen dra. Sy het geglo en altyd gesê: Die Here se genade is genoeg, maar daar was tye dat ek, sonder dat sy daarvan bewus was, haar gesien huil het.

Sy wou haar kinders so graag beskerm teen dit wat gaan kom. Toe my suster haar die Vrydag voor haar dood help om te bad en aan te trek, het my ma haar hand gevat en begin huil. “My liefste kind,” het sy gesê, “ek gaan nie die naweek enduit maak nie. Ek is so jammer vir wat julle sal moet deurgaan. Jy en jou broer moet sterk wees en mekaar bystaan.”

Reg aan die begin het ons my ma se siekte probeer stil hou. Maar toe wys die scans en die toetse wat werklik aangaan en hoe gevaarlik ver die siekte al gevorder het. Ons sou dit nie langer geheim kon hou nie, want daar was te veel mense wat vir haar lief was en gereeld by haar kom kuier het. Dit sou onmoontlik wees. Mense sou in elk geval vrae begin vra het wanneer haar hare van die behandeling begin uitval en sy nie meer by konserte kon optree nie.

Die telefoon het nooit opgehou lui nie. Die storie moes ’n duisend keer oor en oor vertel word. Hier was meer besoekers as gewoonlik en die pers wou gereeld onderhoude met haar voer. Dit was asof hulle huldeblyke aan haar wou bring terwyl sy nog daar was om dit te hoor en te ervaar. Dis sodat sy kon weet hoeveel sy vir die publiek beteken het. Om vir haar te wys hoe hulle haar musiek en haar bydrae tot die musiekwêreld waardeer het.

Dit was nie aldag maklik nie. Daar is ’n onderhoud vir Moedersdag gevoer en ’n gesinsfoto geneem van my, my ma en Madeleen. My ma was in trane. “Dis vir my moeilik,” het sy verduidelik, “want dis heel waarskynlik die laaste foto wat van my en my twee kinders geneem sal word.” Sy was reg. Daardie foto was toe wel die laaste foto van ons almal saam.

Vir ’n Kwêla-insetsel het sy klavier gespeel. Dit was baie moeilik, want haar hande het vreeslik gepyn van die behandeling wat sy gekry het. Gelukkig was daar ’n goeie balans tussen die aandag wat sy by die media gekry het en ons tyd saam as gesin. Daar was baie vriende wat kom uithelp het, maar die kosbare familietydjies saam sou nooit genoeg wees nie. Sy was gemaklik by die huis, gemaklik genoeg dat sy kaalkop tuis kon rondloop.

[pagebreak]

Ons wou haar graag vir onsself hê, maar ons het geweet ons moet die geleentheid gee vir ander om haar te kom groet. Dit was net die laaste maand dat sy te moeg was vir besoekers. Toe het ons net baie naby vriende en familie by haar toegelaat.

Ek moes deurentyd sterk wees. Ek kon nie toegee aan hartseer en magteloosheid nie. Dit het nie oor mý gegaan nie, maar oor my ma. As ek voor haar sou ingee, sou dit haar net ontstel en dit wou ek nie. Ek moes maar net cope. Ook nou oorwin ek een dag op ’n slag.

Daar is werklik niks wat ’n mens kan doen wanneer die herinneringe of die hartseer jou oorval nie. Boonop herleef ek elke dag die laaste oomblikke van haar lewe. Ons het nooit oor haar naderende dood gepraat nie, altyd daaróm. Maar sy het dit wel openlik met my suster bespreek. Sy het vir my suster verduidelik hoe sy graag die roudiens wou hê, die twee kore, Ockie Vermeulen wat moes begelei. Die bedankings wat gedoen moes word, die verassing, die kis, die dominee en die kerk.

Gedurende my ma se laaste lewensjaar is my suster getroud. Dit was ’n dag waarop my ma nóg die siekste was en sy kon net die diens bywoon. Ons het vir haar ’n kamer by die trouplek gereël waar sy ná die diens kon gaan slaap. My suster, my pa en ek, ons almal, was baie, baie lief vir my ma.

My ma het die troumars en die liedere voor die tyd in die studio opgeneem. Tydens die diens het die dominee ook vir haar gebid. Gevra vir genade.

My ma het self besluit om behandeling te kry. Sy wou nie ophou veg nie. Al het dit nie gewerk nie, het die chemoterapie nog hoop ingehou. My dapper ma het die hele tyd die moed en geloof gehad om aan te hou bid en maar weer ’n nuwe behandeling te probeer. Sy wou só graag nog leef. Sy het gereeld gesê daar is nog soveel goed wat sy wil doen …

My ma was ook ’n groot Blou Bul-ondersteuner. Sy het haar Blou Bul-mus met trots gedra en selfs later vir haar ’n pienk trui gaan koop. En sy was so in haar skik toe die president van die Blou Bulle-unie haar nooi om saam in die presidentslosie rugby te kyk!

Ek mis my ma die meeste as ek in die aande alleen in haar kamer sit. Ek mis haar droë humorsin. Selfs met haar gedenkdiens het sy ’n lag tussen die trane by die begrafnisgangers ontlok toe Coenie de Villiers die bedankings lees wat sy vooraf vir hom gedikteer het: “Kry musikante,” het sy raad gegee. “Moenie dat die gemeente sing nie. Hulle sing nie goed genoeg nie.”

Ag, sy sou só tevrede gewees het met die gedenkdiens. Die preek was so mooi en die musiek! WOW! Die musiekverwerkings was wonderlik. Ek wéét sy sou dit ge-“love” het!

Soms droom ek van my ma. Ek droom sy kry kanker en is besig om dood te gaan. Dis soos daardie skrikwekkende droom wat ’n mens as kind droom, dat jy val … maar dan skrik jy wakker en is so verlig om uit te vind dit was net ’n droom. Maar ék skrik wakker en besef dis die waarheid …

Ek weet ek moet aangaan met my lewe en met die werk wat ek saam met my ma gedoen het. Haar invloed op my lewe en my musiekloopbaan het my die mens gemaak wat ek vandag is. Ek en my suster was werklik gelukkig om by ons ouers die waardes te leer wat hulle sulke spesiale mense gemaak het.

Musiek sal altyd deel van my lewe wees. Nes die hartseer en die bittersoet herinneringe aan my ma ook altyd deel daarvan sal wees.