Laat ek gaan met leë hande

“If you bring anything, you cannot grasp the Cross.”
Alexander MacLaren

Eers wanneer jy besef jy het niks om tafel toe te bring nie, word jy genooi na die feesmaal.
So ‘n eenvoudig komplekse paradoks.

Dan lees ek van die weduwee se kruik en in my soeke na verstaan ontdek ek ‘n fyn lyn. Tussen die niks wat ek kan bring om die Redder van my onskuld te oortuig nie, en die beweging wat baiekeer nodig is om wonderwerke te laat gebeur.

Al wat die weduwee wou doen, was om haar skuld te delg. Sy erken dat dit wat sy het, totaal ontoereikend was vir die eis wat aan haar gestel is. En dit was vir haar nodig om daar te kom, by daardie punt.

Boonop het sy nie vir een oomblik haar saak probeer verdedig of regverdig nie. Sy vra bloot vir hulp.

Elisa gee haar toe ‘n opsie: Sy het nouwel nie veel nie, maar deur haar geloof in beweging te bring, kry sy die wiele van haar wonderwerk aan die draai.

“Elisa sê toe: “Gaan leen by al jou bure soveel leë kanne as wat jy kan kry. Moenie te min leen nie. Maak dan die deur agter jou en die seuns toe en maak al die kanne vol olie.
Sit die volles eenkant neer.”
2 Konings 4:3

En sy gaan mal. Al wat ‘n buurvrou is moet bonttrap in haar kelder om kruike te kry om hierdie weduwee in hulle midde uit te help. Hulle kon seker glad nie verstaan wat aangaan nie!

Kort-voor-lank sou hulle egter die hele storie hoor:
Solank as wat haar kruike gereed was, het die olie gevloei.
Solank as wat sy haar deel gedoen het, het die Here voorsien.

Dis nie die eerste keer waar mensekind met ‘n stap van geloof die wonderwerk ontsluit het nie.

Moses lig sy staf vir die Israeliete, en die see skuif eenkant toe.
Elia bou ‘n altaar op Karmelberg, en die Here God bewys Sy krag.
Veel later lees ons hoedat Jesus vir die manne by die bruilof in Kana aansê om die leë kanne vol water te maak. Eers tóé maak Hy wyn.
Die blinde by Siloam moes die modder op ‘n spesifieke plek van sy oë gaan afwas, en hy sien weer.
Jesus vat die broodjies en die vissies en maak dit meer. Maar iemand moes dit eers vir hom bring.

Alexander MacLaren gaan verder met hierdie analogie en hy skryf:

“God keeps giving Himself as long as we bring that into which He can pour Himself.
And when we stop bringing, He stops giving.”

Soms voel my kruike net te vol om nog ‘n gaatjie te maak vir alleentyd met die Here. Dit is juis dán dat ek nie Sy stem duidelik kan hoor nie.

Soms is my kruike vol ou olie, nie mooi skoongemaak van die vorige parstyd af nie, en beslis nie geskik vir kosbare, nuwe olie nie. Dan ervaar ek in my lewe nie die Teenwoordigheid waarna ek so smag nie.

Daar is so baie dinge wat ek nie weet nie. Onder andere hoekom ons groot God soms vra dat óns eers beweeg voordat Hý beweeg. Hy het tog nie ons ‘hulp’ nodig nie?

Maar hierdie uitstap op die geloofslysie is dalk juis ‘n publieke verklaring dat my hande leeg is.
‘n Onomkeerbare ek-mag-dalk-verkeerd-wees stap, maar ‘n ek-is-bereid-om-die-kans-op-my-Here-te-vat stap.

En enige Pa sal jou kan sê hoe gelukkig dit hulle maak as hulle kleuters sonder om te skroom van die hoogste glyplanktrappie in hulle arms spring, totaal oortuig dat Pappa daar sal wees om hulle te vang.

Soms moet ons dalk herinner word wie ons was voordat die wêreld ons skepties gemaak het.

Sy wonderwerke is nie afhanklik van ons nie. Dit is afhanklik van ons afhanklikheid van Hom.

Laat ek dan gaan met leë hande,
laat ek só my Heer ontmoet.
En doen wat Hy van my vra,
want dit is vir my goed.

Jou temalied vir die week: Here’s my heart

Vorige artikelDieper…
Volgende artikelEk het nuus vir Salomo …
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!