Laat haar floreer in ’n besige omgewing

Lizanne du Plessis
Lizanne du Plessis

Elke mens het ’n unieke temperament. Carl Jung, die bekende sielkundige, het persoonlikheids-tipes geklassifiseer as introverte of ekstroverte op grond van hoe hulle dink en optree.

Jung beskryf ekstroverte as mense wat hulle energie uit ander mense en aktiwiteite in hulle omgewing put, terwyl introverte beskryf kan word as mense wat deur hulle eie denke en gevoelens aangevuur word. Ons fokus hier op die teruggetrokke kind en hoe om ’n omgewing te skep waarin sy veilig sal voel.

Geleidelike blootstelling aan raserigheid werk die beste

Een uit elke drie kinders is introverte. Sy verkies om opgekrul op die bank te lê met ’n boek of tablet eerder as om met ’n groot groep te speel. Sy dink diep oor dinge en het gewoonlik ’n aktiewe verbeeldingswêreld. Sy hou daarvan om alleen te speel of met net een of twee maatjies.

’n Skool is gewoonlik ’n besige en raserige plek. Die kinders is soms luidrugtig en die aktiwiteite uitdagend. Dit is ’n plek waar hierdie persoonlikheidstipe maklik oorgestimuleer kan word. En wat meer is, is dat vandag se skole en die samelewing aktiewe deelname, groepswerk en selfversekerdheid hoog op die prys stel.

Susan Cain, die outeur van Quiet, the Power of Introverts, sê dat hierdie persoonlikheidstipe ’n langer landingstrook nodig het. Hulle gaan wel opstyg en vlieg, maar het somtyds net meer tyd nodig. Wat jou jong introvert soos ’n handskoen sal pas, is ’n kleiner klas en geleidelike blootstelling aan groter klasse namate sy ouer word.

Moenie sensitiewe siele se dae te vol prop nie

Introverte dink eers en reageer later. Laat daarom eers tyd toe vir nadenke voordat jy ’n antwoord van hulle verwag. Of stel ’n vraag, moedig haar aan om die antwoorde op ’n papiertjie neer te skryf en moedig dan ’n respons of ’n groepsbespreking aan.

Wees versigtig om jou sensitiewe kind se middae en naweke vol te prop met aktiwiteite. Onthou, haar battery word herlaai as sy iets op haar eie kan doen. Iets soos lees, teken, Lego speel, of ’n verbeeldingspeletjie. Te veel tyd weg van die huis en by ander mense sal trane en ’n slegte bui tot gevolg hê.

Op sosiale gebied sal sy dit waarskynlik verkies om net ’n paar maatjies vir haar partytjie te nooi. Moet haar nie dwing om die hele klas te nooi nie. Leer haar dat dit reg is om nou en dan nee te sê vir uitnodigings na ander kinders se partytjies, veral as sy nie wil gaan nie.

Begrip is die beste geskenk vir jou boekwurm

Met hierdie persoonlikheidstipe in jou huis is begrip die beste geskenk wat jy vir haar kan gee. Maak seker jy verstaan hoekom jou kind doen wat sy doen en gee haar die versekering dat daar niks fout is met haar nie.

My introverte kind het lank gewonder hoekom sy nie van die goed hou waarvan ander hou nie – dinge soos die skoolkarnaval, partytjies of ’n konsert. Maar soos wat ek die karaktereienskappe van introverte en ekstroverte vir haar uitgewys het, en haar mooi laat verstaan het daar is niks fout met haar nie, het sy begrip begin kry vir haar unieke persoonlikheid.

Om teruggetrokke te wees is nie ’n siekte nie. Dit is nie iets wat met medisyne reggedokter moet of kan word nie. Sy is so aanmekaargesit. Introverte moet gekoester word, en het elkeen ’n unieke en spesiale plekkie in die son.

Lizanne du Plessis, Ouerleiding, kinderontwikkeling en -terapie

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Lizanne.

Gebruik die afslagkode LIZANNE om die ouerskappakket SO-O-O OULIK EN SLIM te koop op voelgoedboeke.co.za. R209 R299