Laat hoë lewenstandaarde jou beursie leegloop?

0
567

Ons leef in ’n tyd waar alles nóú moet gebeur. Daar is nie tyd vir spaar nie. Daarby durf ons nie afsteek by die bure nie.

Is die beeld wat jy na buite uitstraal, werklik so belangrik? Te hoë lewenstandaarde kan geweldige druk plaas op jou gesin se finansies, en dikwels ook op jou huwelik.

Verlaagde standaarde kan geld spaar

Jy hoef nie in ’n spogbuurt te bly of die duurste kar te besit nie. Wees met minder tevrede terwyl jy nog steeds ’n goeie leefstyl handhaaf. Deur byvoorbeeld by goedkoper winkels of goedkoper handelsmerke te koop kan jy die druk op jou beursie aansienlik verminder.

’n Mens kan ook heelwat spaar deur vakansies buite spitsseisoen te beplan, by ’n saamryklub aan te sluit of ’n rukkie te wag – totdat dit goedkoper word – voordat jy die nuutste tegnologie aankoop.

Fokus op kwaliteittyd en gesamentlike doelwitte

Selfs biljoenêr Steve Jobs sou verkies het om meer tyd by sy gesin te kon wees. Stel doelwitte as ’n gesin en vind kreatiewe maniere hoe julle kan spaar en terselfdertyd meer gehaltetyd saam kan deurbring. Hierdeur leer jou kinders die waarde van geld en om kosbare herinneringe eerder as besittings te versamel.

Wees eerlik met jouself en moenie bo jou vermoë leef nie.

Ronel Jooste, finansiële afrigter