Laat jou man voel hy’s mans genoeg

1456

Waar die liefde geleef word, het albei geslagte waardering vir mekaar. Mans ervaar egter toenemend dat daar teen hulle gediskrimineer word en dat hulle skynbaar niks reg doen in die oë van vroue nie. Jy kan dit verander.

Baie mans is emosioneel, geestelik en verstandelik moeg omdat hulle voel hulle kom nie die mas op as eggenoot, pa en broodwinner nie.

Hy moet die suksesleer klim om goed vir julle te sorg. Die werk vreet sy tyd op en daar is min kans vir speel met die kinders en ’n kersligete met jou.

Later leef hy ’n lewe van plig, stille frustrasie en betekenisloosheid.

Jy kan hom help om balans te kry deur te verstaan waardeur hy gaan en in hom te glo.

As jy op praktiese maniere jou liefde en waardering vir hom wys, kan hy weer volwaardig mens voel.

Help hom uitvind wat sy lewensdoelwit is

Volgens skeepskapteins is dit belangrik om te weet waar jy jou bevind as jy na ’n sekere bestemming wil vaar. Eers dan kan jy weet hoe om verder te gaan. Hierdie raad is nie net van toepassing op skepe nie, maar ook op mense.

Dis soms moeilik om op koers te bly, want die winde van prestasie en ambisie kan hom wegvat van sy ware lewensdoel. Daarom is dit belangrik om uit te vind wat die primêre passie en dryfveer in sy lewe is. Hy moet weet waarom hy doen wat hy doen.

Simon Sinek sê ’n mens moet altyd vanuit die “waarom-faktor” in jou lewe werk, dan kom “wat ek moet doen” en “hoe ek dit moet doen” vanself.
Kobus Kok

Doen dít saam met hom: Kyk na Simon Sinek se video op YouTube oor die “Waarom-faktor” (Why factor) en gesels oor wat dit vir julle beteken.

Moedig hom aan om sy pa-issues op te los

Dalk het jou man nooit sy pa geken nie omdat dié dood is toe hy nog klein was. Miskien het hy wel ’n pa gehad, maar ’n afwesige een wat net altyd gewerk het. Of sy ouers is geskei.

Daar is min seuns wat met deernis van hulle pa’s praat. Min vaders was teenwoordig en was mentors wat ook liefdevolle ondersteuning gegee het.

Mans praat nie daaroor nie, want “cowboys don’t cry”. Maar dit werk nie. Dit sal hom aanhou teister tot hy vrede gemaak het met die verlede.

Vergifnis moet uit die hart kom. Dit beteken dat hy sy pa moet vryspreek. Dan sal die onsinnige of verkeerde dinge waarmee daardie leemte gevul word, ook verdwyn.
Danie Vermeulen

Doen dít saam met hom: Vra vrae oor sy pa en die rol wat hy in sy lewe gespeel het. Moedig hom aan om te vergewe.

Fokus op sy karakter, nie op sukses nie

Mans is gedurig besig om die korporatiewe leer te klim. Hulle het elke dag krag nodig om die regte eienskappe uit te leef in ’n wêreld wat ingestel is op prestasie.

Jou karakter kan nie begrawe word nie. Wie jy is, gaan jou oorleef. Goeie karaktereienskappe soos integriteit, betroubaarheid, toegewydheid, geduld, regverdigheid, uitnemende waardes, deeglikheid en hardwerkendheid is wat mense gaan onthou.

Hierdie eienskappe is ook die boustene van ’n suksesvolle loopbaan. Wanneer jou maat aan sy karakter skaaf en werk, sal hy wel bereik wat hy graag wil bereik. Dis beter om op karakterontwikkeling te fokus as om ander te probeer beïndruk.
Siebert Wiid

Doen dít saam met hom: Luister aandagtig wanneer hy oor die werk en sy kollegas gesels. Probeer saam mense of situasies identifiseer waar sy karakter uitgebou kan word.

Gee hom toestemming om sy emosies te wys

Dit is moeilik om sy gevoelens te wys want “’n ware man huil nie”. Maar al daardie opgekropte emosies is glad nie gesond nie.

Jesus was ’n baie emosionele mens. Toe Hy uitvind dat Lasarus gesterf het en die huilende Maria sien, het Hy ook gehuil. Op pad graf toe treur Hy oor sy oorlede vriend.

Hy is hartseer as mense honger is, bly as verlore mense hulle pad terugvind, en kry ’n melaatse jammer en maak hom gesond. Dit maak jou man beslis nie ’n swakkeling om emosioneel op te tree nie. Hy moet egter nie net sy emosies wýs nie, maar dit moet hom dryf na die regte optrede toe.
Pierre Engelbrecht

Doen dít saam met hom: Lees saam met hom die artikel Hoe om jou emosies te beheer deur Lynette Beer op voelgoed.co.za

Verseker hom hy het nie misluk as iets skeefloop nie

Struikel maak nie saak nie, solank jy elke keer jouself weer regop kan kry. Ongeag of dit met groot moeite of met die hulp van ’n welkome, helpende hand plaasvind.

Waar sou daardie entrepreneur wat jou man so bewonder, vandag gewees het as hy nie ná die soveelste teenkanting vasbeslote aangehou het nie?

Geen droom, hoe groot of klein ook al, kan ’n realiteit word sonder opoffering en deursettingsvermoë nie.

Dit is seker die moeilikste besluit vir ’n man om op te staan nadat hy op pad na sy droom gestruikel het. Dit is nog moeiliker wanneer dit ten aanskoue van sy kritici of kollegas plaasvind.

Daar is egter min gevoelens so vervullend as daardie ervaring van sukses nadat jy eenvoudig nie opgegee het nie.
Marius Nel

Doen dít saam met hom: Komplimenteer hom gereeld op dit wat hy by die huis doen. Maak seker hy hoor hoe jy hom voor familie en vriende ophemel.

Motiveer hom om fiks en gesond te bly

Sy liggaam is die eerste en een van die belangrikste besighede wat hy ooit sal bestuur. Dit beïnvloed die sukses wat hy op ander terreine van sy lewe sal behaal.

As ’n mens goed voel, neem jy beter besluite. Beter besluite lei tot beter resultate en op die lang termyn lei dit tot ’n meer vervulde lewe.

Dit is nooit te laat om te begin nie, jy moet net genoeg rede hê. Besluit hoekom jy gesond en fiks wil wees en koppel dit aan iets groters.

Help hom om klein treetjies te gee en vier die klein oorwinnings. Beter nog, begin saam met hom gesonder eet en gym toe te gaan. Binnekort het hy soveel momentum opgebou dat hy nie meer sonder die gesonde gewoontes kan klaarkom nie.
Francois Chapman

Doen dít saam met hom: Maak ’n afspraak by ’n biokinetikus en dieetkundige wat ’n persoonlike oefenprogram en eetplan vir julle uitwerk.

Glo in hom en help hom sy droom bereik

Die realiteit is dat hy vir die gesin kos op die tafel moet sit, doeke moet koop, skoolfonds en rekeninge moet betaal. Al hierdie lewenskoste en basiese behoeftes kan enigiemand se droom op die agtergrond skuif.

Natuurlik is dit belangrik om nugter te dink. Maar dit beteken nie dat ’n droom nie met ’n paar aanpassings steeds ’n werklikheid kan wees nie.

Om iets te doen waarvoor jy lief is, is ’n voorreg en is baie goed, nodig en waardevol vir jou menswees. Almal rondom jou maat sal daarby baat as hy vervulling kry in dit wat hy elke dag doen.

Daar kan vir seker ’n plan gemaak word om te midde van die alledaagse dinge, steeds daardie passie deel van die lewe te maak.
Schalk Baard

Doen dít saam met hom: Kyk of jy kan uitvind wat sy hart vinniger laat klop. Moenie vaskyk in die realiteite nie. Stel saam ’n plan op hoe dit kan gebeur.

Besin saam oor wat ware rykdom is

Daar is mense wat nie die einde van hulle aardse skatte ken nie, maar ook dié wat van maand tot maand net oorleef. Die meeste van ons is so tussenin.

Dis opvallend hoe veral mans hulle identiteit in besittings soos duur motors of die nuutste toestel soek. Party smag so na sukses of erkenning dat hulle nie waardeer wat hulle wel het nie.

Ware rykdom is egter nie hoeveel geld jy in die bank het nie. Dis nie waar jy vakansie hou nie, maar saam met wie jy vakansie hou. Nie wat jy ry nie, maar wie saam met jou ry.

Of hy die uitvoerende hoof van ’n belangrike maatskappy of ’n skoonmaker is, hy moet weet dat hy man(s) genoeg is vir jou!
Johannes Janse van Rensburg

Doen dít saam met hom: Plaas ’n boodskap op sosiale media vol dankies en komplimente oor wie hy is en nie oor wat hy doen of besit nie.

Moedig hom aan om by ’n mentor raad te vra

Ware manwees is ’n baie moeilike doelwit om te bereik, veral aangesien daar nie duidelike riglyne is nie. Min pa’s wys regtig vir hulle seuns die pad wat hulle moet stap.

Die enigste manier om die regte pad te vind wanneer ’n mens verdwaal, is om te stop en raad te vra. Maar jy moet eers besef en erken dat jy nie op koers is nie en nie al die antwoorde het nie. Die volgende stap is om die regte inligting te kry.

’n Vrou voel baie beter na ’n tranerige sessie saam met vriendinne. Mans raak maklik geïsoleerd, want hulle is te trots om hulp te vra.

Karaktervolle mans met dieselfde waardes kan baie vir mekaar beteken. Mentors is daarom onontbeerlik in sy lewe.
Jimmy Powell

Doen dít saam met hom: Praat oor wie vir hom ’n mentor kan wees. Moedig hom aan om gereelde afsprake met hierdie persoon te maak en na te kom.

Stel vas of hy nie dalk aan depressie ly nie

“Wat doen ek hier? Hoekom moet ek elke dag so suffer? Waarom moet ek nog ’n gelowige probeer wees as God missing in action is wanneer ek Hom die nodigste het?” Dis vrae waarmee die Adams soms worstel.

Stres by die werk, hare wat minder word en min energie kan olie op die vuur wees. Dit kan die baklei in hom tot powere vuishoutjies laat verflou.

Maar daar is ’n boodskap van hoop: Dis oukei om nie oukei te wees nie, want daar is altyd hulp.

Soms kan iemand se struggle juis ander mense met dieselfde probleem help.

Wees op die uitkyk vir tekens van depressie by jou man: min energie, belangeloosheid, onttrekking van sosiale situasies, geniet niks, negatiwiteit, kritiek, bitterheid.
Johan Laten

Doen dít saam met hom: Maak ’n afspraak by ’n dokter, sielkundige of terapeut as jy vermoed hy is depressief. Gaan saam as hy dit verkies.

Help hom getrou bly aan sy huweliksbeloftes

Mans lees graag boeke oor leierskap en besigheid, maar wanneer dit by verhoudings kom, dink hulle alles sal outomaties gebeur.

Julle huwelik moet uitloop op iets moois vir julle albei. As dit nie gebeur nie, beteken dit nie dat julle ’n verkeerde keuse gemaak het nie, maar dat julle dalk by mekaar verby leef.

Die onvermydelike stampe en stote van die lewe behoort ons nader aan mekaar bring en nie weg van mekaar te dryf nie. Jy moet daar wees wanneer die liefde van jou lewe swaar trek.

’n Warm atmosfeer, vol liefde en koestering, kweek sekuriteit. As ’n span kan julle weerstand bied teen enige aanslag op julle  verhouding. Jou man moet besef hy het jou nodig, want jy is baie sterker as wat hy dink.
Alan Sutton

Doen dít saam met hom: Vind uit of daar ’n huwelikseminaar in julle omgewing aangebied word en teken die datum in julle albei se dagboeke aan.

Herinner hom om in elke lewensfase vervulling te soek

In sy boek The three boxes of life and how to get out of them, sê Richard N. Bolles die lewe is in drie fases ingeprop: leer, werk en speel.

As kind wil jy speel en werk vir ekstra geld, maar jy mag nie. Dis die tyd wat jy móét leer. Wanneer jy begin werk, wil jy steeds graag speel, maar nou moet jy net werk. As jy verder wil leer, moet dit met moeite tussen die werkery deur gebeur.

Die ironie is dat net sodra jy lekker werk, moet jy gaan speel. Jy word deur die maatskappy gedwing om af te tree.

Dis beter om gelyktydig in al drie bokse te leef. Jou man moet mik na lewenslange leer, lewenslange werk en lewenslange speel.
Gustav Gous

Doen dít saam met hom: Doen navorsing oor nauurse kursusse of klasse en hou julle breine skerp deur saam ’n nuwe taal of danspassies te leer.

Herdefinieer waarin hy sy identiteit as man vind

Voorheen was die man die enigste broodwinner. Hulle moes rof en gespierd wees, van braaivleis en rugby hou en ’n paar biere kon wegslaan. Dit was oukei om skelm flirtasies aan te knoop en min tyd saam met hulle gesinne deur te bring.

Deesdae moet hy ’n metroman wees wat ’n oogroom gebruik, kan kosmaak en ’n baba se doek kan omruil. By mannekampe word daar vertel hy is koning, priester en profeet. Hierdie opdragte is egter vir albei geslagte bedoel.

Baie kinders word groot sonder ’n pa in die huis. Dit veroorsaak dat “God as Vader” vir hulle ’n vreemde konsep is. Gelukkig het Hy ook moederlike eienskappe soos deernis, versorging, nabyheid en emosionele geborgenheid.

Dis ’n uitdaging om sterk en dinamies te wees, en terselfdertyd hierdie moederlike eienskappe óók uit te leef.
Karel Verhoef

Doen dít saam met hom: Reël ’n kuier met die kinders en/of julle ouers en vertel stories oor hoe geslagsrolle oor die jare verander het.

KOOP DIE BOEK VIR JOU MAN

Skryf jou man se naam in die blokkie aan die voorkant van die boek STAAN OP, STAAN VAS, STAAN UIT en help hom om die man te word wat hý bedoel is om te wees!

In ’n wêreld waar mans al hoe meer terugstaan, is godvresende mans nou nodiger as ooit tevore. Mans wat die leiding neem by die huis, by die kerk, by die werk en in die gemeenskap. Jannie Putter, Stephan Joubert, Hykie Berg en ander daag mans uit om

…Op te staan en te ontdek wie Hy wil hê jy moet wees. Erken jou swakhede, terwyl jy terselfdertyd jou krag vind in geloof.

…Vas te staan in moeilike tye en God te vertrou as jou bron van moed en krag. Soek jou wysheid en antwoorde in die Woord.

…Uit te staan in die gemeenskap, by die werk en tussen jou vriende.

“Wat ’n man nodig het, is ’n vrou wat hom help om die MAN te word wat hy bedoel is om te wees – hier is 77 dinge om hom aan te moedig.” – ELIZMA THERON

STAAN OP, STAAN VAS, STAAN UIT
Jannie Putter, Stephan Joubert en ander, sagteband
R104 R149
Ook beskikbaar as ’n e-boek R74 R104

voelgoedboeke.co.za | bestel@voelgoedboeke.co.za