Laat jy toe dat vrees jou oorheers?

670
vrees

Almal is soms angstig. Dis nie verkeerd om bang te wees nie, maar jy hoef nie toe te gee aan die verlammende effek daarvan nie. Gaan doen wat jy moet, ten spyte van hoe jy voel!

Lesersvraag…

“Ek kry gereeld hartkloppings, sweet meer as gewoonlik en voel soms duiselig en swak. Dis moeilik om te slaap en daarom is ek kort van draad. Al my spiere pyn en is styf. Hoekom voel ek gedurig so angstig en gestres as daar nie werklik gevaar is wat my bedreig nie? Wat kan ek doen om weer normaal te voel en te funksioneer?”

SESSIE 1

Verstaan waar jou vrese vandaan kom

Vrees is seker die oudste emosie waaroor daar geskryf is. Jou oorbewustheid van die gebeure om jou dra by tot jou onrus en slaaploosheid.

Die algemeenste vrees is vir dinge wat met jouself kan gebeur. Jy is dalk bang vir mislukking. Of dat jy kanker of ’n ongeneeslike siekte sal kry. Julle geldsake lyk miskien nie te waffers nie en jy is bang julle gaan julle huis verloor.

’n Studie toon dat 60% van ons vrese totaal en al ongegrond is en glad nie gebeur nie. 20% daarvan gaan oor dinge wat in die verlede met ons gebeur het en totaal en al buite ons beheer was. 10% is gebaseer op dinge so eenvoudig dat dit nie eens ’n verskil in ons lewens sal maak nie.

En van die res is slegs sowat 5% iets wat regtig belangrik is!

In die Woord word daar talle kere genoem dat ons nie in vrees moet lewe nie. Daar moet vir seker ’n baie geldige rede vir hierdie dringende waarskuwing wees.

SESSIE 2

Daardie angstige gevoel is ’n normale reaksie

Vrees is ’n natuurlike reaksie. Jy ervaar stres as gevolg van ’n chemiese verandering wat in die liggaam plaasvind wanneer daar gevaar is.

Party mense voel angstig as hulle voor ’n groot gehoor moet optree. Hulle hande sweet en hulle voel bewerig en gespanne. Dis gewoonlik van korte duur en as die “gevaar” verby is, verdwyn die effek daarvan op die liggaam ook.

As jy egter aanhoudend en sonder goeie rede bang vir iets is wat nie binne jou beheer is nie, stel jy jouself in gevaar.

Dit veroorsaak emosionele stres wat jou gesondheid kan benadeel. Angs plaas gewoonlik die grootste druk op die hart. Baiekeer is mense se gesondheidsprobleme nie fisies nie, maar eintlik emosioneel van aard.

Hierdie beklemming is vir seker ’n werklikheid, want jy voel dit baie beslis. So, wat kan jy nou doen?

Erken die gevoel, maar neem dan beheer daaroor en gaan aan, ongeag hoe jy voel. Moenie dat dit ’n houvas op jou kry nie.

SESSIE 3

Bekommernis steel ons vreugde en veroorsaak spanning

Jy moet elke dag doelbewus kies om met jouself te praat – en soms te raas! So word die houvas van vrees oorwin.

Hoe verder ’n mens van God af beweeg, hoe banger word jy. Jy raak bekommerd oor julle veiligheid, die toekoms, julle finansies, die kinders en die misdaad in die land.

Daar is baie min dinge in die nuus en op sosiale media wat vir ons gemoedsrus kan gee. Inteendeel, dit dra net by om onrus aan te wakker.

Bekommernis is ’n vorm van vrees wat ’n mens siek en moeg kan maak. Dit is soos ’n klein stroompie wat al sterker vloei tot dit jou oorweldig.

Die hartseer is dat die meeste dinge waaroor ons stres, nooit eens gebeur nie. Dit beteken die meeste mense is dikwels verniet bekommerd.

Dit kan jou aand na aand wakker hou sodat jy nie genoeg slaap en rus kry nie. Dit kan die lewe een groot nagmerrie maak! Dit is baie belangrik om hierdie gevoel te leer beheer, sodat dit jou nie later beheer nie.

SESSIE 4

Angs keer dat jy jou beste self word

Vrees kan jou hele lewe oorneem. Later het jy glad nie meer krag of motivering om te werk of vir jou gesin te sorg nie.

Daar is duisende mense wat emosionele en geestelike ineenstortings kry. Baie trek hulleself terug van die lewe en beleef daarom nooit die wonderlike dinge wat vir hulle bestem is nie.

Vreesagtige, terneergedrukte persone is nie aangename geselskap nie en word gewoonlik uit die samelewing geskuif. Dit veroorsaak ’n bose kringloop, wat die persoon laat glo niemand gee om nie.

Dit vererger net die depressie.

Nou heers vrees oor jou, in plaas daarvan dat jy daaroor heers.

Onthou, ons het nie ’n gees van vreesagtigheid gekry nie, maar van selfbeheersing!

Die werk van die Heilige Gees kan hierdeur uitgeblus word. Hy word aan bande gelê en beperk.

Hy sal natuurlik nooit uit jou lewe verdwyn nie, maar Sy werking in jou word verhinder en teengewerk as jy gedurig vol angs is. En dan kan jy nie die spesiale vrou word wat Hy in gedagte het nie.

SESSIE 5

Doen wat jy moet, al is jy bang

Die oplossing lê in die beheer van die gevoel. Die kuns is om positiewe op te tree – in die teenwoordigheid van vrees.

Josua volg vir Moses op en moet die Israeliete in die beloofde land invat. God verbied nie vir Josua om die emosie van vrees te ervaar nie. Inteendeel, nog voor hy dit ervaar, kry hy die waarskuwing dat dit gaan kom.

Die boodskap is eintlik: Wanneer jy die emosie voel, moenie toegee daaraan nie. Moenie weghardloop nie, wees net getrou en gehoorsaam. Daar is mos Iemand by jou.

Jy hoef nie lam in die bene te word nie. Jou mond hoef nie op te droog nie. Jy hoef nie te sweet met die gedagte aan wat voorlê nie.

Moenie dooie vrese lewendig dink nie. Onthou, dit is slegs ’n gedagte. Jy het die keuse om ’n ander, meer positiewe gedagte bo hierdie negatiewe gedagte te kies.

Dit sal tot gevolg hê dat jy die regte dinge sal sê, met die regte dade wat daarop sal volg.

Word deel van ons SKOOL VAN DIE LEWE Facebook-groep, en méér

Of jy nou ’n beter jý wil wees, jou verhoudings wil verdiep, of jou finansies of werk wil verbeter, word deel van ons Skool van die lewe Facebook-groep. Luister na Lynette Beer se oudiolesse en laai ook ‘n gratis werkboek af. Al wat jy nodig het, is jou selfoon. Dis vinnig, maklik en gratis!
www.facebook.com/groups/2035387590101311/