Laat staan die verlede se pyn

0
1209

Sangeres Cordelia moes vroeg in haar lewe ’n groot tragedie verwerk. Sy glo om die pyn van die verlede agter te laat, moet jy dit in iets positiefs omskep.

My pa se skielike dood was die moeilikste om te verwerk. Hy is in ’n tref-en-trap-ongeluk oorlede, toe ’n motoris hom raakgery het terwyl hy op pad was om in die kar te klim. Ek was baie jonk, nog ’n tiener, en op daardie ouderdom het jy vir seker nog ’n pa nodig.

Dit het my baie teruggehou, en my laat twyfel en in vrees laat leef. Vrees dat iets so traumaties weer met een van my geliefdes sal gebeur. Dit was ook baie moeilik om te sien hoe dit my ma, sussie en boetie geraak het. Ons moes skielik sonder ’n pa oor die weg kom. Daar was finansiële implikasies, maar dit was ook die manier waarop hy oorlede is. Dat so ’n liefdevolle persoon net so langs die pad doodgery is, en ons kon nie daar wees nie.

Toe was dit moeilik om die negatiewe gedagtes af te skud, en die wete dat ek sonder ’n pa sou moes grootword. Dit het gevoel of die lewe nie die moeite werd was nie. Ek is ’n aangenome kind, en die pappa wat Liewe Jesus vir my gegee het, is toe ook uit my lewe geruk. As jy ’n tiener is, vat so iets ook aan jou selfbeeld. Nou moes my ma die pot aan die kook hou, die broodwinner wees, en ons het dit daarna nie breed gehad nie. Ek het my soms verkyk aan gesinne wat nog hulle pa gehad het, en dit het in woede omgesit. Dit het my minderwaardig laat voel.

Dis net instinktief vir enigiemand om hulle teen daardie tipe pyn te verdedig. Vir my was dit met musiek. Om te sing en musiek te maak was nie net my selfbehoud nie, maar iets om agter weg te kruip. As die hartseer te veel was, het ek my pa se kitaar opgetel en geleer speel, en dan liedjies geskryf. Dit was die beste manier om my gedagtes te verander en pyn om te sit in lirieke.

Dit was ook deur musiek dat aanvaarding van wat gebeur het, uiteindelik gekom het. Tydens ’n sangkompetisie, op die verhoog, was die Heilige Gees se teenwoordigheid so onmiskenbaar saam met die lirieke van die lied: “U is my Vader en ek is veilig.” Hy het vir my gesê: “Dis oukei, jy kan nou laat gaan.” Na daardie dag was dit my keuse om die persoon wat my pa raakgery het, onvoorwaardelik te vergewe. Vergifnis was die beste keuse om te maak. My pa sou ook nie ’n lewe met ’n swaar hart vir my wou hê nie.

Dit is wonderlik dat ons God se hand los, maar Hy los nooit ons hand nie. Hy het my gedagtes en gees kom nuut maak. Dit het my laat besef dat dit nie saak maak wat my eie omstandighede is nie, daar is baie ander mense in wie se lewe ek ’n verskil kon maak. ’n Mens kan in jou eie seer selfsugtig word en begin dink die wêreld skuld jou iets. Daar is oneindig baie hartseer in die wêreld, nie net myne nie. Die vraag is wat jy daarmee gaan doen. Wat met my gebeur het, het my net sterker gemaak en vergifnis en God se liefde laat kies. Vandag nog is dit my behoud.

Om werklik vrede te maak met die verlede beteken nie net om te leer om met die slegte dinge saam te leef nie. Ware aanvaarding kom wanneer jy die negatiewe in iets positiefs omsit deur die wêreld ’n beter plek te maak. Dalk deur oor jou pyn te getuig of net ’n bietjie van jou tyd vir iemand anders te gee. Natuurlik is dit nie ’n maklike proses nie, en het dit tyd gevat om te aanvaar dat hy nooit weer gaan terugkom nie. Maar uiteindelik het die herinneringe aan die kosbare tyd dat hy vir ons geleen was, my net dankbaar gemaak. Talle van die lesse wat hy my geleer het, kan ek vandag nog toepas. Die lewe kan vinnig ingrypend verander. Ons moet blomme gee terwyl ons kan, en jammer sê solank daar nog tyd is.