Laer bloeddruk sonder medikasie

0
44
bloeddruk.jpg

70% van mense wat die eerste keer ’n hartaanval kry, ly aan hoë bloeddruk. Verlaag dit op die natuurlike manier.

Hoë bloeddruk work deur jou gene of jou leefstyl veroorsaak. Jy kan nie jou gene kies nie, maar jy kan beslis jou bloeddruk verlaag deur jou leefstyl te verander.

Verloor eers daardie magie

Laat meet jou bloeddruk ten minste een keer ’n jaar deur ’n dokter of ’n verpleegster. Om ’n konsekwente meting te kry, kan jy gebruik maak van ’n tuismonitor. Sit met jou rug gestut en jou bene en enkels langs mekaar. Laat rus jou arm op harthoogte op ’n tafel en draai die armband styf om die boarm. Sommige digitale modelle blaas outomaties op; met ander moet jy die rubberbal druk. Jou lesing verskyn dan op die skerm of wyserplaat.

Hoë bloeddruk (lesings konsekwent bo 140/90) kom gewoonlik saam met ’n hele klomp ander probleme, soos hoë bloedsuiker, hoë trigliseriedwaardes (’n tipe vet in jou bloed), en ’n middelomtrek groter as 88 cm by vroue (102 cm by mans) voor.

Dit vorm alles saam die metaboliese sindroom. Kortom beteken dit dat jou liggaam te veel insulien produseer, wat weer jou bloeddruk laat styg. Wanneer dit die geval is, help dit nie jy eet spesiale kosse om jou bloeddruk te probeer verlaag nie. Die belangrikste is om gewig te verloor.

Vet om jou maag is nie ’n dooie massa nie; dis aktief en skei hormone af wat tot die oorproduksie van insulien kan lei. As jou middelmaat kleiner word, gaan jou bloeddruk heel waarskynlik daal. Eet kleiner porsies op ’n slag en eet meer gereeld om jou hiermee te help. Groot borde kos is baie nadelig, omdat jou liggaam groot hoeveelhede insulien afskei om jou bloedsuiker te beheer.

Piesangs laat jou bloeddruk daal

Piesangs, aartappels, patats, geel groente en vrugte bevat kalium wat bloeddruk help beheer. Groen groentes is weer ryk aan magnesium, nog ’n mineraal wat hoë bloeddruk teëwerk.

Kalsium is ook baie belangrik; ten minste 1 200 mg per dag. ’n Bakkie jogurt, ’n porsie kaas of maaskaas en twee tot drie glase melk behoort die truuk te doen. As jy sukkel om genoeg kalsium deur jou dieet in te neem, neem ’n kalsium-en-magnesiumaanvulling.

Oefening kan jou bloeddruk net soveel verlaag soos medikasie

Gereelde oefening maak jou hart sterker. ’n Sterker hart kan makliker meer bloed deur jou liggaam pomp. As jou hart minder hoef te werk om bloed te pomp, word die druk op jou aarwande minder, wat jou bloeddruk laat daal.

Gereelde oefening kan jou sistoliese bloeddruk, die boonste syfer in ’n bloeddruklesing, met tot soveel as 9 mm HG laat daal. Dis dieselfde as wat met sommige bloeddrukmedikasie bereik word. As jou bloeddruk reeds hoog is, moet jy eers met jou dokter praat voor jy begin oefen omdat jou bloeddruk tydens oefening baie kan styg, wat weer tot hartaanvalle kan lei.

Om die voordele van oefening te sien, moet jy minstens een tot drie maande oefen, en ook aanhou oefen vir langtermyngesondheid. Aërobiese oefening, wat jou hart vinniger laat klop, is die beste medisyne vir bloeddrukbeheer. Sowat 30 minute se oefening elke dag is voldoende.

Alhoewel gesonde kos, oefening, voldoende ontspanning en minder stres jou bloeddruk baie kan beheer, kan dit in die geval van oorerflike hoë bloeddruk nie voldoende wees nie. Medisyne is dan nodig. Praat met jou dokter oor die beste behandeling vir jou hoë bloeddruk.