“Lank het ek verkeerd gekies”

Nathanya van Zyl Chapman

Niks, glo Nathanya van Zyl Chapman, maak so seer soos ’n gebroke hart nie. Juis daarom het dit haar roeping geword om ander dié pyn te spaar.

Huis koop, kar koop en man kies was tot dusver vir my die moeilikste goed om te doen.

Miskien het ek ’n probleem met keuses. “Wat as” of “wat van” is maar altyd die vrae wat tussen my en ’n besluit kom. Die spreekwoord van trou is nie perdekoop nie is ’n tikkie té ernstig opgeneem.

Van daardie eerste bakvissieliefde af was verhoudings nie vir my eenvoudig nie. Keer op keer het ek verkeerd gekies en wanneer die verhouding nie uitgewerk het nie, was dit verskriklik. My waarde, selfbeeld, alles het daaronder gely.

Onsekerheid oor my voorkoms, waar ons bly, alles is in twyfel getrek. Ek sou myself sommer diskwalifiseer nog voor ’n verhouding begin het.

Gebroke verhoudings is pynlik, maar vandag weet ek my seer moes nie so intens gewees het nie. Omdat my identiteit egter so nou aan my verhoudings verbind was, was elke opbreek soos die einde van die wêreld.

So het dit aangegaan tot my tweede jaar in Bybelskool. Weer was my hart aan flarde. Daardie seer en verwerping was die laaste strooi. Ek kon net nie meer nie.

“Here, help my om hierdeur te kom sodat ander nie so seerkry nie,” was my gebed daardie dag.

Dit is waar my passie vir verhoudings vandaan gekom het. En my passie vir keuses. Wyse keuses – ingelig en verantwoordelik. As ek mense kan help om beter besluite te neem wanneer dit by verhoudings kom, is my roeping vervul.

“Choose your love and love your choice but choose wisely.” Daar gaan seker nie ’n week verby dat ek nie dit vir iemand sê nie. Veral die “choose wisely” is vir my verskriklik belangrik.

[VIDEO] Hoe lank jy moet wag voor jy trou?

Ja, die liefde is blind, maar jy het ’n verantwoordelikheid om die insig wat jy gekry het, te gebruik. Dis die logika om te weet of ’n verhouding vir jou goed of sleg gaan wees.

Jy moet ook die selfkennis hê om te weet watter persoon by jou gaan pas. Ek het besef my lewensmaat gaan ’n baie spesifieke persoon moet wees. Een wat saam met my gaan vlieg, want ek het nog baie planne vir die toekoms.

As hy nie dieselfde drome as ek het nie, sou dit soos lewenslange tronkstraf wees.

My storie het ’n gelukkige einde. Ek het daardie baie spesifieke persoon gevind. My man glo meer in my as ekself. Hy ondersteun my roeping en sal enigiets doen om seker te maak dit gebeur.

In die lewe is daar nie wenners of verloorders nie, net keuses. Net jy kan ’n besluit neem, want net jy is die een wat daarmee gaan saamleef.

Dit het my ’n leeftyd en baie pyn gekos om met verantwoordelikheid te leer kies. As ek iemand anders pyn kan spaar, waarom nie?

Nathanya van Zyl Chapman is verantwoordelik vir Muisneste en gee raad vir jong, enkellopende vroue. Kliek op voelgoed.co.za/muisneste vir video’s.