Lea Vivier

0
724
Lea Vivier
  1. Watter één ding wens jy jy het geweet toe jy jonger was?

Dat dit okei is om foute te maak! Ek was nog altyd ʼn perfeksionis gewees en het net my persoonlike-beste aanvaar as ‘goed genoeg’. Dit is eers onlangs in my lewe wat ek foute en sogenaamde tekortkominge aanvaar en verwelkom as kosbare lewenslesse. Dis definitief iets wat teater my geleer het.

  1. Hoe het jy met die verloop van jou loopbaan verander?

Dit het my geleer om geduldig(er) te wees – die industrie werk nie altyd teen dieselfde tempo as die individu nie. Ek moes definitief leer hoe om my emosionele self te beskerm en koester. Dis belangrik om te onthou dat dit nie persoonlik is nie… óf jy is reg vir die rol, óf jy is nie. Dit beteken nié dat jy nie goed genoeg is nie.

  1. Is daar ’n spesifieke aanhaling waarvolgens jy leef? Wat is dit?

Dis ‘n aanhaling uit “Finding Nemo” – Dory wat sê “just keep swimming”. Dit beteken basies maar vir my dieselfde as “aanhouer wen”. Maar ook dat die lewe konstant verander en dat gebeure en emosies kom en gaan. Ek probeer om altyd vorentoe te kyk, maar steeds elke oomblik in die hede ten volle te geniet en te waardeer.

  1. Op watter een van jou prestasies tot nog toe is jy die trotsste?

Dis ‘n moeilike vraag vir my om te beantwoord want ek glo nie regtig in sogenaamde ‘prestasies’ nie. Ek glo in lewenservaringe. Toe ek as Beste Aktrise by vanjaar se Silwerskermfees aangewys was, het ek dit aanvanklik as ‘n prestasie beskou. Ek dit as deel van my sak vol lewenservaringe.

  1. Wat wil jy graag in die volgende vyf jaar bereik?

Ek vat die lewe soos wat dit na my kant toe kom. So ek het nie enige vaste planne of idees vir die volgende vyf jaar nie! Wat ek wél weet, is dat ek graag wil aanhou werk in my industrie. En toer! Dis nommer een en twee op my prioriteits-lysie. Om goeie werk te skep en om nuwe lande te verken.

  1. Wat was die grootste uitdaging waarvoor jy nog te staan gekom het?

Ek dink my jaar in Suid-Amerika (Chile) was vir my ontsettend moeilik gewees. Ek kon nie ‘n woord Spaans gepraat het aan die begin nie, en omtrent niemand in Chile praat Engels nie. So dit was ‘n baie groot uitdaging vir my. En dan persoonlike verhoudings.

  1. Wat beteken dit vir jou om bekend te wees?

Is ek bekend? Nee man! En indien ek wel uiteindelik as bekend beskou word, sal dit vir my niks beteken nie. Ek is ʼn aktrise want dis die één ding in die lewe wat vir my absoluut sin maak. Die laaste ding waaroor ek omgee is die roem of bekendheid wat gepaardgaan met die beroep.

  1. Wie wil jy graag inspireer?

Jong vroue. As ʼn jong vrou word ons ontsettend erg beïnvloed deur die media se weergawe van wat as ‘mooi’ of ‘pragtig’ beskou word. En dis absolute onsin! Ek het as jong vrou deur ʼn fase gegaan waar ek behep was met my gewig. Dis belangrik om te verstaan dat gesondheid eerste moet kom. Fisiese-, emosionele-, en geestelike-gesondheid.

  1. Aan watter projek werk jy tans?

Dis ʼn baie opwindende geheim wat ek ongelukkig nie nou aan julle kan verklap nie! Maar dit sal binnekort publieke kennis wees. Ek vorm ook tans deel van die teatergroep, Well Worn Theatre Company.

  1. Wie sou jy graag na ’n droom-ete wou nooi?

Vincent van Gogh – sodat ek hom kan vertel hoe wêreldberoemd sy werk nou is. Forrest Gump – sodat ek vir hom en sy ma dankie kan sê vir hul sjokolade-aanhaling/lewensles. Chimamanda Ngozi Adichie – want sy is ‘n absolute genie en een van my gunsteling skrywers! En Frida Kahlo, maar ek het geen idee wat ek vir haar sal sê nie!