Leandie: “As ek die tyd kon terugdraai”

0
8
Leandie

Wanneer jy na Leandie in Hollywood in my huis of in Binnelanders kyk, sal jy nie kan raai watter hartseer tyd sy agter die rug het nie. Vir die eerste keer gesels dié blondine oor haar ma se dood.

Wanneer jy na Leandie in Hollywood in my huis of in Binnelanders kyk, sal jy nie kan raai watter hartseer tyd sy agter die rug het nie. Vir die eerste keer gesels dié blondine oor haar ma se dood.

Dis nie ongewoon dat tienermeisies en hulle ma’s vassit nie. Die redes wissel: Soms verskil ma en dogter te veel; ander kere is hulle te veel dieselfde.

Namate die lewe sy gang gaan, verander hierdie stormagtige verhoudings later in vriendskappe soos daar net tussen ’n ma en ’n dogter kan wees. Saam met volwassenheid en moederskap kom daar begrip, ’n verstaan van hoekom elkeen opgetree het soos sy het.

Die lewe is tough, my bra

“O Kaap, o Kaap, o mooiste Kaap”

Vir my sal die Kaap nooit weer dieselfde wees nie. Eerder bittersoet, want dis hier waar ek op my gelukkigste was toe ek die hartseerste nuus van my lewe gekry het.

5 Mei 2014 was ’n gewone dag op die stel van Strikdas, wat ons in die Kaap verfilm het. ’n Doodgewone dag, tot ek tussen tonele die boodskappe op my foon lees. “Leandie, ek is verskriklik jammer om te hoor van jou mamma.”

Ek weet nou nog nie of ek verwag het wat die volgende woorde sou wees of nie: “Darem is sy nou by liewe Jesus.”

Angstig soek ek na bewyse dat dit nie waar is nie. Sien toe my pa het ’n paar keer probeer bel, maar nie boodskappe gelos nie. Toe weet ek: My ma is weg. Huis toe.

Wat hierna gebeur het, is nou nog in ’n waas gehul. Die mure het my begin vasdruk. Met lam knieë en asemhaling wat al hoe vlakker word, het ek uitgestorm om te probeer kalm word.

Binne ’n oomblik was die hele crew by my. Hulle het geweet my ma was siek. Iemand het vir my ’n sigaret aangegee, en ek het dit gerook selfs al rook ek nie. En toe is Gys de Villiers daar. “Die lewe is tough, my bra, die lewe is tough.” Ek weet nie wat hy nog alles gesê het nie, maar ek weet dis wat ek moes hoor.

Die volgende dag in die vliegtuig op pad na Johannesburg probeer ek onthou hoe sy voor haar siekte was. Haar groot blougroen oë, haar laggende mond, hoe lief sy vir grappies en handsakke was. Die uitgeteerde liggaampie wat ek ’n week tevore in die inrigting besoek het, blokkeer ek uit my gedagtes. Dit was nie my ma nie. Haar liggaam wel, maar eintlik het ek my ma al lankal verloor.

Daardie gevoel van verlatenheid wanneer jy besef dat die mens wat jou nege maande in haar gedra het, nie meer daar is nie, is verskriklik.

As ek vooraf geweet het hoe dinge gaan uitwerk, sou ek baie meer van bepaalde oomblikke in my lewe gemaak het. Soos die laaste keer wat sy ’n verstaanbare SMS vir my gestuur het. Ek was ’n eerstejaar en het gekla oor die ontgroening en die aaklige seniors toe sy die volgende boodskap vir my stuur: “Staan sterk, Sussa. Jy kan dit doen!”

As dit moeilik gaan, sal ek daardie woorde onthou, besluit ek toe ons bo die lughawe sirkel om te land.

Istanbul het Johannesburg, en Parys het Pretoria geword

Op laerskool het ek goed met my ma oor die weg gekom. Ons was pal in mekaar se geselskap. Sy was by elke atletiekbyeenkoms, elke konsert. Eintlik was dit sy wat my aan ’n kamera gewoond gemaak het. Elke oomblik van my lewe het sy op video vasgevang.

Toe ek in graad 9 kom, het ons begin koppe stamp – oor wat ek moet aantrek, watter aktiwiteite ek moet doen, watter ouens reg is vir my. My pa het gedink dit is die gewone ma-en-tienerdogter-rusies. Albei sit met hormone wat alles deurmekaarkrap – ek in my adolessensie, sy in haar menopouse.

My oupa was ’n kolonel in die weermag en het my ma en haar broers met streng reëls grootgemaak. Daar was net ’n reg en ’n verkeerd – niks grys nie. Vir my het dit gevoel of sy my soms met haar reëls probeer inperk. En om te preek is die een ding wat nié vir my werk nie. Alles wat sy gesê het ek nie mag doen nie, het ek gedoen. So het dit aangegaan tot ek in matriek was.

Tydens my eerstejaar op universiteit het my ma ’n senuwee-ineenstorting gehad. Sy was baie vergeetagtig en kon nie meer alles doen wat sy altyd gedoen het nie. En kyk, sy was dinamies. Omdat sy vir my en my boetie ’n goeie lewe wou gee, het sy skoolgehou en Honey-produkte verkoop, en boonop was sy nog predikantsvrou ook.

My pa het haar toe dokter toe geneem.

Die uitslag was Alzheimersiekte. Ek kon dit nie glo nie. Dis nie in ons gene nie en sy was nog so jonk. ’n Skamele 53!

Maar haar siekte was anders as gewone Alzheimersiekte. Met die geboorte van my boetie was sy 24 uur lank in ’n koma en dit is tóé dat sy skade in die geheue-gedeelte van haar brein opgedoen het.

’n Klomp dinge het meteens sin gemaak: die irrasionele gedrag en spanning wat sy die vorige twee jaar gehad het; die soms oordrewe woede as ek en sy baklei.

Of sy ooit geweet het sy het spesifiek Alzheimersiekte weet ek nie, maar sy moes besef het daar is iets verkeerd. Twee jaar lank het sy dit vir ons probeer wegsteek tot sy nie meer kon nie.

Hierna het die proses vinnig verloop – té vinnig om dinge tussen my en haar reg te maak. Ek het haar na ’n ma-en-dogter-tee geneem. Dit was die laaste keer. Nie omdat ek skaam was vir haar nie, maar omdat ek geweet het sy sou nie gemaklik gewees het nie. Sy het verbouereerd geraak tussen mense; sy kon nie meer gesprekke voer nie en kon glad nie onthou nie.

Ons het besluit om as gesin oorsee te gaan vakansie hou terwyl sy dit nog ’n bietjie kon geniet. Sy was egter reeds baie deurmekaar. Ons moes elke dag klere vir haar uitkies. Sy het geglo Parys is Pretoria en Istanbul Johannesburg.

“Dis nogal ’n duur foutjie wat Ma daar maak,” het my boetie gelukkig sy humorsin behou. Dan lag sy maar saam sonder om te weet wat hy bedoel.

Dis waar ons geleer het dat humor een van die maniere is om dié siekte te hanteer. Dít, en om in die oomblik te leef. Ek kan byvoorbeeld nie sê wanneer sy my die laaste keer herken het nie. Soms was sy helder en het sy geweet wat om haar aangaan; die volgende dag was sy in haar eie wêreld.

Om sewe jaar lank koebaai te sé

Geen siekte of dood is “makliker” as ’n ander een nie, maar die ding met Alzheimer is dat ek my ma eintlik aan die lewe verloor het. Sewe jaar lank het ons “koebaai” gesê. Teen die einde was ons eintlik al reeds in die finale fase van rou en aanvaarding.

Dit is verskriklik om iemand dag vir dag so voor jou te sien doodgaan; hoe sy van haar menswaardigheid gestroop word. Veral toe sy later in die inrigting opgeneem is, het dit my baie ontstel. ’n Mens leer om met jouself te praat sonder dat sy enige reaksie wys. Na ’n besoek kon ek gewoonlik nie teruggaan werk toe nie, maar dan kom die son weer op en gaan jy aan met jou lewe, want dis al wat jy kan doen.

Later het ek nie meer geweet wat om te bid nie. As ek bid dat sy gesond word, watter soort lewe gaan sy hê? Of bid jy dat sy eerder gaan omdat jy nie meer haar lyding kan verduur nie? Ek glo jy moet nie vir ’n spesifieke uitkoms bid nie, maar eerder vir die krag om watter uitkoms ook al te kan hanteer. Dit is so maklik om eintlik vir jouself te bid en nie meer wat die beste vir daardie persoon is nie.

Omdat ek op universiteit in die koshuis was, was dit my pa en my ouma wat my ma versorg het. Dit moes verskriklik gewees het. Dink jou dit in: Hier is jy 83 en jy moet vir jou 53-jarige dogter sorg. En my pa wat die liefde van sy lewe stukkie vir stukkie voor hom sien wegkwyn.

By hom het ek gesien wat ware liefde is. Tot die einde was hy langs haar sy. Hulle het ontmoet toe hy 13 was. Hand aan hand het hulle onder Pretoria se jakarandabome geloop. Toe het hy al geweet hy wil eendag met haar trou. En hulle het 32 gelukkige jare saam gehad. Hy glo vas dat hulle twee vroeg moes begin uitgaan en trou omdat God geweet het hulle gaan nie so baie jare saam hê nie.

Bouwer, my verloofde, het haar vier dae voor haar dood ontmoet. Ek is so spyt ek het hulle nie vroeër aan mekaar voorgestel nie. Sy sou sy grappies só geniet het, maar ek was bang dat hy op ’n ander manier na my sou kyk. Nou weet ek dat hy net liewer vir my sou wees, soos ek vir hom geword het nadat ek van sy pa se kanker gehoor het.

In November is sy pa na ’n lang siekbed oorlede. Ons het soveel nader aan mekaar gekom met ons ouers se dood. Niks en niemand kan jou seer wegneem nie, maar dit troos reeds as daar iemand by jou is wat ’n bietjie verstaan.

Ek was nie by toe my ma dood is nie, maar miskien is dit hoe sy dit sou wou gehad het. Miskien sou dit te traumaties vir my gewees het. Toe sy die aarde verlaat het, was ek besig met die een ding waarop sy so trots sou gewees het. Ek was besig om my droom (en hare vir my) te leef. Dis asof sy geweet het haar dogter is gelukkig en waar sy moet wees, toe sy gegaan het. Sy is en bly my getrouste fan al gaan sy die grootste deel van my journey mis.

Oor die hemel dink ek steeds dieselfde. Dis ’n plek waar daar geen pyn en geen hartseer is nie. Net vrede en genade. Ek en my ma gaan heeldag op die strand lê – ek met ’n pak Smarties en sy omring met Steri Stumpies soveel as wat haar hart begeer.

•  Jy kan gaan kyk na Hollywood in my huis – dit draai vanaf 26 Junie 2015 in fliekteaters landswyd.