Leandie du Randt: “Lief vir myself, ongeag…”

821

Al druk die lewe haar soms in ’n hoek, druk LEANDIE DU RANDT – aktrise, besigheidsvrou en motiveerder – doodeenvoudig terug, met selfliefde as haar skans.

Die nuus was ’n reuseskok. Kan dit regtig waar wees? Bouwer en Leandie? Een van ons land se droompaartjies, wat aankondig dat hulle paaie gaan skei. Dat hulle beter maats as huweliksmaats is.

“Ons het ’n ongelooflike paar jaar saam gehad, maar ons besluit is gegrond op ons liefde vir mekaar,” het hulle saam geskryf.

Liefde. ’n Magtige woordjie wat die vermoë het om ons te laat lag en huil saam met die goeie en die slegte van die lewe. Dit laat ons val en weer opstaan. Moed skep en opnuut glo.

Ondanks hierdie sensitiewe en pynlike besluit – wat Leandie en Bouwer verkies om in privaatheid te hanteer – is ons voorbladmeisie, getrou aan haar aard, steeds vasberade om die lewe met passie en vreugde aan te pak. Altyd ’n planmaker. Immer dankbaar. Ongelooflik positief.

Elke keer as sy haar foon optel, sien sy die toekoms wat sy vir haarself visualiseer. ’n Droombord op haar selfoon se skerm herinner haar aan alles waarna sy streef en waarin sy graag suksesvol wil wees.

Dit is ’n mengelmoes van inspirerende aanhalings en prentjies van dinge wat haar na aan die hart lê. Die suksesvolle sakevrou wat goeie besigheid doen… die aktrise vol selfvertroue op Hollywood se rooi tapyt… die meisie wat mooi na haar gesondheid kyk.

“Ons is almal blomme. Op die oomblik is ek maar net ’n blom wat besig is om my blare af te skud,” erken sy met ’n skouerophaling. Soms is hierdie proses nodig, sodat ’n mens weer met vars oë na die lewe kan kyk.

“Al het my huwelik nie uitgewerk nie, en al is daar boonop van my besigheidsbelange wat al ’n klompie slapelose nagte veroorsaak het, glo ek onwrikbaar in die mantra: Always choose that life happens for you, not against you.

Daar is altyd iets om uit elke deurbraak, oorwinning en terugslag te leer.

Lees ook: Dít inspireer my! (Leandie du Randt)

Op ’n dag soos dié is dit presies die tipe aanmoediging wat sy nodig het. Dis ’n Maandagoggend en Leandie voel nie heeltemal haar sprankelende self nie. Eerder moeg en effens gespanne. Eintlik doodnormaal, soos enige ander vrou wat soms moet armdruk met die lewe se uitdagings.

Maar die vonkeling in haar oë is steeds daar.

“Ek het al begin sleg voel omdat mense altyd van my verwag om te sprankel, selfs as ek die dag ‘af’ is. Dis mos heeltemal normaal as ons soms nie oukei is nie. Boonop is daar baie dinge om uit die moeilike tye te leer. Dis pynlik ja, maar ook ’n goeie leerskool.”

Sy verstaan dat die lewe ’n mens soms in jou spore gaan stuit. Twee keer laat dink. Dwing om nuwe planne te maak, want dan beweeg jy vorentoe.

“Ek is nou daar. In die vorige krisistyd van my lewe, toe ek heelwat jonger was, het ek letterlik boekdele daaroor geskryf. Nou voel ek weer so. Effens gedreineer en gefrustreer, maar ook opgewonde oor wat uit hierdie dinge geleer gaan word en hoe dit aangewend kan word om ander te bemagtig.”

Al staan sy nog vierkantig in die stoeikryt, het Leandie alreeds ’n paar belangrike lesse geleer. Die grootste een: “Om altyd gawer te wees as wat jy voel. Ek sukkel soms om dit waardeur ek gaan, uit my verhoudings te hou. My gevoelens beïnvloed hoe ek ander mense behandel, en dis onregverdig.”

Aan die ander kant, as die lewe haar in ’n hoek druk, het sy geleer om dadelik sagter met haarself te werk.

“Selfliefde is ’n uitvloeisel van selfrespek. ’n Leë beker kan nie ander mense se glase volmaak nie. Juis daarom wil ek ekstra moeite doen om mooi na myself te kyk, sonder enige skuldgevoel. Om goed te kan wees vir die wêreld, moet ek eers kan goed wees vir myself.”

Dit is in sulke tye dat sy goed eet en genoeg slaap. Wanneer familie en vriende toegelaat word om ’n liefdevolle laer om haar trek. Waar sy moeite doen om haar kop en hart slim te bestuur. “Wanneer ek positief dink en praat, sal my keuses vanself die regte pad volg.”

Vir haar moet gees, siel en liggaam in harmonie saamwerk.

“Vroue sê maklik: ‘Jong, ek wil nie so streng wees met wat ek eet nie. ’n Mens moet darem die lewe geniet ook.’ Dan wil ek antwoord: ‘Jy gaan die lewe méér geniet as jy goed voel en mooi na jouself kyk.’”

“Of hulle kla: ‘Hoekom het die Here my man ’n hartaanval op vyftig gegee?’

“Onsin! Hy deel nie teëspoed uit nie. Dis ons eie leefstylkeuses wat soms ons gesondheid knou,” glo sy.

“’n Gesonde leefstyl gaan oor matigheid, balans en ’n goeie skoot gesonde verstand. Ek geniet kos, maar eet nie te veel van die verkeerde dinge nie. Ek maak myself graag mooi, maar was die grimering af voor ek gaan slaap.

“Ek werk hard, maar rus genoeg. En selfs al is oefening nie ’n sterk punt nie, vind ek ’n manier van oefen, een keer ’n week, wat by my leefstyl pas.”

[VIDEO ONDERHOUD] “Dis goed dat die lewe my weer bietjie rek en strek”

Of dit nou voorkoms of ’n innerlike stryd is, dis vir haar jammer dat baie vroue dit moeilik vind om hulleself te koester. “Ons wag vir ander om dit vir ons te doen. Daardie wag vir toestemming voor ons uiteindelik kan sê: Ek is belangrik genoeg om myself na waarde te ag.

“Ons word so groot. Van kleins af kry ons subtiele boodskappe wat sê: Jy is eers werd om liefgehê te word wanneer ’n prins jou red. Of wanneer jy graad gevang het. In ’n nommer agt rok kan pas. Of wanneer daar tienduisend volgelinge op jou Instagramrekening pryk.”

Sy was ook al daar. “Ek kon myself eers regtig oopstel vir liefde toe ek my perspektief verander het en verantwoordelikheid kon aanvaar vir my keuses. Eers nou, op dertig, voel ek dis nie meer nodig om my besluite aan ander te verduidelik nie.

“Mense wat my hart ken, gaan my in elk geval ondersteun. En bystaan as ek ’n fout maak. Ek glo vas dat die Here alles ten goede vir my sal laat gebeur. Al kan ek nie nou die ‘nee’ verstaan nie, gaan ek iets van waarde daaruit leer wat my gaan voorberei vir wanneer die ‘ja’ kom.”

Wanneer die lewe druk – soos nou – raak haar selfgesprek net meer en harder. “Jy het vryheid van keuse, Leandie. Dit wat nou met jou gebeur, gebeur vír jou, nie teen jou nie. Kies om die goeie hierin raak te sien.”

Dis dan dat sy persoonlike verklarings gaan neerskryf, sommer op die spieëls in die huis. “Ek is gesond… kalm… waardig… passievol… energiek.

“En dan sê ek hierdie dinge hardop, spreek dit uit oor my lewe. ‘Ek is…’, want die groot EK IS woon binne-in my. Dis ongelooflik om te dink dat dieselfde krag wat Jesus uit die dood uit opgewek het, ook in my aan die werk is. Daarom is geen uitdaging te groot nie. “Hoekom sal ek moedeloos voel?”

Die droombord op haar foon, wat ook in haar aantrekkamer teen die muur hang, help haar om presies te bepaal wie sy is en wat sy uit die lewe wil hê.

“Elke keer as ek na daardie prente kyk en die opbouende woorde lees, herinner dit my aan die drome waaraan ek so hard werk. Dit hou my op ’n manier verantwoordbaar, en sorg vir kwaliteit eie-tyd.

“Elke paar weke word my bord bygewerk. Dan word daar met ’n glas wyn op die mat in die sitkamer gesit en dan knip en plak ek na hartelus.

“Die prente wat gewoonlik my oog vang, is dié wat my aanmoedig om te lag, lief te hê, meer gefokus te wees, te ontspan, gesond te leef en ’n goeie rentmeester van my geld te wees.

“Die Bybel sê nie verniet wat in jou hart omgaan, bepaal jou hele lewe nie. Hierdie hele droom-aktiwiteit is ’n weerspieëling van my binneste. Dit wat ek sien, spoel oor in wat ek voel, praat en na myself toe aantrek.”

Leandie weet egter ook dat om die dinge te ontvang waarna sy smag, beteken dat sy haar deel moet doen.

“My besigheid gaan nie floreer as ek nie nuwe planne maak om die struikelblokke te oorkom nie. Ek gaan nie suksesvol wees in my werk as ek nie voorbereid opdaag nie. Dis eintlik ’n eenvoudige som. God doen vyftig persent, ek doen vyftig persent.”

Vir haar werk die lewe só: “’n Mens moet in die blokkie leef wat die Here vir jou gemaak het. Nie in ‘Sara wat ’n duisend vriende op Facebook het’ se blokkie nie. Ons gaan aanhou om dinge mis te loop as ons nie opdaag in ons eie blokkie, onder Sy beskermende sambreel, nie.”

Oor die blokkies waarin mense soms kies om te leef en hulle opinies te lug, het Leandie baie te sê. “Selfliefde gaan vir my daaroor om te fokus op dit wat jou opbou, en die dinge uit te skakel wat jou skade berokken en aftrek.”

Sy is deesdae versigtiger oor wat sy oor haarself meedeel. “Ek wou altyd alles uitblaker. As ek drooggemaak het en jy kan iets daaruit leer, sou ek nie skroom om dit oor te vertel nie.”

Maar met die jare het wysheid gekom. “Daar is skoonheid in misterie. Selfliefde beteken dat ek na myself moet kyk voor ek na ander kan kyk, en almal hoef nie alles oor my te weet sodat dit kan gebeur nie.”

“Daar word mos gesê ’n dwaas praat baie. Soms is dit ek… iets wat ek hard probeer afleer. Om nie altyd alles te sê wat ek dink nie. Almal hoef nie elke ding wat ek doen te verstaan nie.

Dis ook ’n manier van lief wees vir myself. Om daardie kwesbaarheid hierbinne te beskerm.”

Nogtans kan die lewe soms genadeloos wees, veral op sosiale media. Sy rol haar oë en verduidelik dan die sêding wat sy graag toepas as die situasie hom voordoen: Block them and bless them.

“Hoe hartseer moet jou lewe nie wees as jy net die slegte in ander kan raaksien en dit op ’n selfoon voor die hele wêreld uitblaker nie? Hoekom dink mense hulle kan sê net wat hulle wil op hierdie platforms?”

Leandie se stem styg ’n oktaaf terwyl sy die ongevraagde kritiek wat al haar kant toe gegooi is, een vir een aftik. “Jy word nou te maer… Moenie jou taal so meng nie… Dink jy regtig jy lyk mooi in daardie rok?”

Haar outomatiese reaksie is gewoonlik: “Is jy ernstig? Het jy regtig niks beters om te doen as om iemand anders te kritiseer nie?”

Sy lees nie sommer mense se terugvoer nie, maar as sy dit tog raaksien, word hulle summier geblokkeer. “En dan bid ek vir hulle,” sê sy laggend, en seën hulle: ‘Tannie, mag jou lewe vorentoe vir jou meer vreugde bring.’

“Die lewe is te kort om negatiewe mense in jou binnekring toe te laat.” Daarom waardeer sy die hartsmense in haar lewe. Familie en vriende wat haar aanvul waar sy te kort skiet.

“Ek is ’n regte drama queen. Iemand wat haar lekker kan opwerk oor ’n ding. Daarom is ek nogal geneig om ’n sekere tipe mens in my lewe toe te laat.

“Dit is mense soos my pa, wat hierdie kalm teenwoordigheid het. Wat fokus op die ‘groter prentjie’ en my help om dinge vanuit ’n ander hoek te bekyk. Eintlik is al my hartsmense so. Ons vul mekaar se swakhede aan.”

As dit kom by vriendskappe wat nie goed vir haar siel is nie, het Leandie geleer om hulle stil-stil te laat gaan. “Iemand wat heeltyd negatief dink en praat, maak my regtig moeg. Ons almal ken sulke mense: Niks is ooit goed genoeg of reg in hulle oë nie, ’n probleem is altyd ander se skuld.

“Aanvanklik het ek hard probeer om hulle te help en te ondersteun, totdat dit duidelik geword het dat my pogings geen indruk maak nie. Dan is dit beter om te laat gaan.”

Sy raak filosofies daaroor. “Eintlik doen jy so ’n mens ’n onreg aan as jy bly vasklou aan ’n futlose vriendskap. Hulle kan beter wees vir iemand anders, eerder as om in ’n halfhartige verhouding met jou te staan. Elkeen verdien iemand vir wie hulle ’n ware vriend kan wees.”

Bo alles poog Leandie om met dankbaarheid deur die lewe te gaan. “Ek skryf elke aand ’n hele lys dinge neer waarvoor ek dankbaar was vir die dag: Dankie vir parkering toe ek laat was. Vir die meisie by die kafee wat vir my geglimlag het. Dankie vir ’n mooi sonsondergang.”

Dit is al ’n ingesteldheid by haar om uit te kyk vir die klein genadetjies, selfs wanneer die lewe haar wil rondstoot.

“Ek is beslis nog ’n work in progress. Daar is nog baie lesse om te leer en foute om te maak. Soms gaan ek nog droogmaak, te veel praat, moeilik wees en dalk ’n bietjie van my glans verloor, maar dis oukei.

“As ek myself deur dit alles kan bly koester en liefhê, sal ek heel en sterker anderkant uitkom. Ek sien uit daarna.”