Leef jou drome deur harde werk

0
178
riekie_smit.jpg

Dr. Riekie Smit, ’n voorloper in estetiese medisyne se passie is om vroue fantasties te laat lyk.

Ek het by estetiese medisyne betrokke geraak omdat…

… ek al van skooltyd af gedroom het daarvan om vroue te help om hulle voorkoms en selfbeeld te verbeter. Tydens my mediese studie was daar slegs opleiding in plastiese chirurgie. Ek moes in Europa gaan leer oor die nie-chirurgiese veld van estetiese medisyne. Daarna het ek gereël dat internasionale sprekers plaaslike dokters kom oplei. My passie lê by die behandeling van my pasiënte sowel as die opleiding van dokters.

Die moeilikste deel van dokter én entrepreneur wees is…

… dat die dokter in my altyd ’n baie sterk instink sal hê om mense te versorg en te help, soms selfs teen ’n finansiële verlies. Maar as ’n entrepreneur moet jy beplan vir en gefokus wees op winsgewendheid. Hoewel dit natuurlik geestelik winsgewend is, bly dit belangrik om ’n balans te handhaaf. Jy sal nie sonder geld mense kan help nie.

Dis belangrik om te weet van internasionale tendense…

… want daar is voortdurend nuwe metodes, produkte en masjiene. Ek dink nie mense besef altyd hoeveel geld dokters spandeer om op datum te bly met navorsing en tegnologie in verskillende velde nie. Alhoewel dit stimulerend is, verwag jou pasiënte dit ook. Hulle wil altyd weet wat is nuut. En as jy nie iets nuut het nie, dan gaan soek hulle dalk elders.

Ek geniet persoonlike kontak met pasiënte omdat…

… dit so bevredigend is om iemand te help met dit wat haar die meeste pla. Mense het die persepsie dat my werk oppervlakkig en ydel is, maar 99 persent van my pasiënte het nie onrealistiese versoeke, soos om weer 21 te lyk, nie. Vroue wil natuurlik, goed versorg en gesond lyk. God wil tog hê dat ons ons liggame moet vertroetel, versorg en die beste maak daarvan.

’n Goeie reputasie en beeld word gevestig deur…

… meer as net diens en produkte van hoë gehalte aan my pasiënte te bied. Dit behels dat jy omgee vir pasiënte, hulle versoeke respekteer, hulle verwagtings verstaan en weet wat jy doen. As dokter moet ek weet wat om te doen as iets verkeerd loop. Komplikasies kan ontstaan selfs al pas jy ’n behandeling perfek toe. Ek gee baie om vir my pasiënte. Dit wys wanneer ek probleme teëkom.

Wanneer ek as spreker optree, behou ek mense se aandag…

… deur te fokus op wat ek hulle kan leer en nie hoe ek lyk of praat nie. Ek werk vooraf baie hard aan my lesings om dit interessant te maak, maar voor die gehoor fokus ek op hoe ek hulle kennis kan verbeter. Hierdie tegniek (en natuurlik die skietgebede vooraf) het ook gemaak dat ek nie meer angstig is voor ’n gehoor van geleerdes nie.

Ek balanseer my werk en gesinslewe deur…

… die besef dat kwaliteit beter is as kwantiteit. Die stories lees in die aande, al is jy doodmoeg, is noodsaaklik. Ek het op ’n stadium besluit dat naweke gesinstyd is. Dis nog steeds moeilik om te handhaaf, maar dis vir seker die moeite werd! Ek wil hê my kinders moet sien wat harde werk is, maar terselfdertyd wil ek hê hulle moet die goeie tye onthou eerder as net ons werkstye.

Vir vroue wat wil uitstyg, sal ek sê…

… dat jou drome groot moet wees en jy dadelik moet inspring. Jy mors tyd en energie met langdradige beplanning. Ons moet ons intuïsie vertrou en glo in ons vermoëns en talente om die bal aan die rol te kry. Daarna is dit harde werk, maar sorg dat jy gereeld inspirasie kry om positief te bly. Dis maklik om moed te verloor as dit sukkel-sukkel gaan.

Lees meer: Die 4 grootste grimeerfoute wat jy maak.