Leef jou droom en bereik jou doel

0
1101
doelwit.jpg

Het jy al gewonder waarom jou drome nie waar word nie? Of hoekom jy nie jou doelwitte bereik nie?

Baie mense dink dat jy uit jou foute moet leer. Jy moet soveel moontlik inligting oor die verlede bymekaarmaak, wat jy dan kan gebruik om te voorspel hoe jy in die toekoms moet optree.

Clayton Christensen, professor aan die Harvard Besigheidskool, voel anders. Hy glo as jy só redeneer, is dit soos om jou motor te bestuur terwyl jy net in die truspieëltjie kyk. ’n Ongeluk is onvermydelik – jou lewe stuur af op ’n ramp.

Dis goed om uit jou eie of ander se ondervindings te leer, maar dis nie baie realisties nie. Jy wil tog nie ’n paar keer trou sodat jy uiteindelik ’n goeie vrou vir jou man kan wees nie! Of wag tot jou jongste spruit groot is voor jy weet hoe om kinders op te voed nie. So, wat nou?

Dis beter om eerder te voorspel wat waarskynlik sal gebeur in plaas van wat in die verlede gebeur het. Dan kan jy voorbereid wees en het jy beslis ’n beter kans vir sukses. In sy boek How will you measure your life? gee professor Christensen ’n paar wenke wat volgens hierdie beginsel werk. Sy teorieë is al regoor die wêreld gebruik om mense en besighede te help om die regte besluite te neem.

Al het jy nie baie tyd nie, neem net ’n paar minute en besin oor hierdie drie beginsels vir ’n doelgerigte lewe.

Weet wat jou van dag tot dag gemotiveerd hou

Jy kan nie eintlik doelgerig leef as jy nie presies weet wat jou passie is nie. Jy moet vir jouself vra: Wat laat my tick? Watter aktiwiteit laat my soggens uit die bed spring omdat ek nie kan wag om daarmee te begin nie?

Jou passie is ’n goeie aanduiding van waar God jou wil gebruik. Daardie belangstelling wat jy het, wys vir jou wat Hy wil hê jy moet doen en hoe jy ander kan help. Jy is dalk sielsongelukkig of jy voel daar skort iets bloot omdat jy nie meer in voeling met jou passie leef nie. Dit voel dan asof jou lewe betekenisloos is.

Gestel jy het ’n werk met ’n goeie salaris of jou man verdien genoeg sodat jy ’n tuisteskepper kan wees. Jy geniet jou gemaklike leefstyl, maar die mooi klere en juwele laat jou net vir ’n rukkie goed voel. Geld kan die lewe vir jou makliker maak, maar jy sal altyd voel daar skort iets. As dit wat jy elke dag doen, nie met jou passie ooreenstem nie, sal jy nooit regtig vervuld wees nie.

In plaas van om oor die byvoordele of ’n salaris te tob, moet jy eerder vra of jy ’n verskil maak aan die groter prentjie met die dinge waaraan jy jou aandag en energie bestee. Maak dít jou motivering. As jy die dinge wat jy elke dag doen, geniet, sal jy in elk geval die beste in jou veld wees. Dan sal die res vanself kom.

Jy mag soms afwyk van jou doelwitte

Dit help natuurlik nie jy leef jou passie uit, maar kry geen erkenning vir wat jy elke dag doen nie. Dan sal dit ook voel asof jy geen verskil maak nie. Jy verdien dalk te min geld met jou talente om die pot aan die kook te hou en so raak jy al dieper in die skuld. Dis nie maklik om iets te kry wat jou vervuld laat voel én waaruit jy genoeg kan verdien nie.

Jy het seker ook ’n plan vir jou lewe wat jy doelbewus probeer volg, maar kort-kort duik daar ’n nuwe geleentheid of probleem op. Dan moet jy weer van voor af besluit of jy by die oorspronklike plan gaan hou en of jy daarvan gaan afwyk. Onthou, sodra jy van die oorspronklike plan afwyk, word dít jou nuwe doelwit.

Jy mag soms jou doelwitte verander, want as jy nie alternatiewe ondersoek nie, gaan jy mos nooit jou plekkie vind nie. Jy sal mooi moet dink, aangesien die ander opsie dalk ook jou hart sal raak en met jou passies sal ooreenstem.

Gee jouself dus toestemming om soms ’n nuwe afdraaipad te vat. Moenie so rigied wees dat jy geen ander moontlikhede raaksien nie. Wees eerlik met jouself. Dis makliker om aan te hou doen wat jy nog altyd gedoen het net omdat dit moeilik is om te verander. Eksperimenteer totdat jy iets kry wat jou passie is en darem ook ’n beloning inhou.

Die kleinste besluite bepaal uiteindelik jou lewe

Ons almal wil graag met integriteit leef; daarom is dit belangrik om die regte waardes te hê en besluite te neem wat daarby pas. Het jy geweet dis die klein daaglikse besluite wat uiteindelik jou rigting bepaal? Daar gaan nie ’n rooi lig brand om aan te kondig: Wees versigtig: Belangrike besluit nie. Dit gebeur sommer stilweg en sonder dat jy dit agterkom.

Om tevrede te wees met jou lewe moet jy besef dat die kleinste besluit uiteindelik ’n groot effek kan hê. Dit gebeur dalk nie oornag nie, maar dit kan jou later ’n mens maak wat jy glad nie wil wees nie.

Moet dus nie kompromieë aangaan oor jou waardes nie. Jy regverdig dalk jou keuse en dink “net hierdie een keer”. Dit gaan nie werk nie! Dis makliker om die hele tyd by jou beginsels te hou. As jy eers een keer jou eie morele grens oorgesteek het, is dit makliker om dit volgende keer weer te doen. En as jy eendag terugkyk, is jy spyt oor die paadjie waarop jy beland het.

Besluit dus waarvoor jy staan – en staan dan áltyd daarvoor. Dan sal jy eendag tevrede kan terugkyk en weet: My lewe het sin gemaak omdat ek my Godgegewe passie uitgeleef en getrou gebly het aan my waardes.

Verwerk uit How will you measure your life? deur Clayton M. Christensen.