Leef Jou Droom Leefstyl

Ek was onlangs bevoorreg om tydens ‘n naweek-wegbreek die Legend Golf and Safari Resort in Limpopo te besoek. Wat ‘n ongelooflike ervaring om die Afrika-bosveld in weelderigheid te ervaar.

Wildritte waartydens jy hope grasieuse, wilde diere van naderby kan bekyk. Die manjifieke Hanglip-berg toring bo die golfbaan uit. Die golfbaan is onlangs as een van die top-9 golfbane ter wêreld benoem. Boonop kan die 19de putjie net per helikopter bereik word. Die akkommodasie is luuks en die kos is smullekker. Gereelde naweek-uitstappies soos hierdie vorm verseker deel van my droom leefstyl. Leef jy jou droom leefstyl?

Dit was egter die storie van hoe die Legend Hospitality Group ontstaan het, wat my aangegryp het. Dit het my weereens laat besef: geen droom is te groot om te verwesenlik nie. Peet Cilliers het in ‘n kinderhuis groot geword, maar dit het hom nie gekeer om sy en sy vrou, Mart se droom te verwesenlik nie. Vandag, 19 jaar later, leef hy sy droom saam met sy vrou en drie dogters wat almal verbonde is aan die Legend Hospitality Group. Die familie besit ‘n hele klomp lodges regoor Suid-Afrika.

Geld is dikwels ‘n struikelblok wat ons kan verhoed om ons drome na te jaag. Geld speel ‘n belangrike rol in meeste van ons drome. Maak nie saak of ons droom leefstyl ‘n weelderige of ‘n gemaklike leefstyl behels nie, geld word benodig om dit moontlik te maak. Daarom is dit belangrik om te werk aan jou finansiële fiksheid, net soos wat jy sal werk aan jou fisiese fiksheid of doelwitte vir jou loopbaan. Skep addisionele inkomstebronne. Bestuur jou uitgawes. Koop bates wat vir jou inkomste kan genereer. Raak so gou moontlik van skuld ontslae.

Definieer wat jou droom leefstyl behels, as jy nie reeds weet nie. Stel ‘n plan op om jou te help om finansiële stabiliteit en welvaart te skep met die doel om jou droom leefstyl te kan skep en te kan handhaaf

As jy meer wil uitvind oor Legend Golf and Safari Resort, lees gerus my resensie oor ons ervaring hier: www.physeqfit.co.za/blog

Vorige artikel‘n Seuntjie het hulle gelei
Volgende artikelVERONA stel MASKERS musiekvideo bekend!
Blogger - Ronel Jooste
Ronel Jooste is ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester met meer as ‘n dekade se korporatiewe ervaring in die bank, versekering en beleggingsindustrieë. Huidiglik het sy haar eie finansiële welstand maatskappy genaamd FinanciallyFiTLife. As finansiële coach en konsultant help sy mense met hulle persoonlike finansies; besighede met hulle besigheidsfinansies en bied ook werkswinkels en finansiële welstandprogramme aan. Ronel het haar eie finansiële geselsprogram op All-Time Radio; sy skryf graag artikels vir verskeie publikasies asook haar eie blog; en tree as spreker op by geleenthede waar sy haar passie vir finansiële fiksheid deel. Saam met haar suster besit sy die PhysEQFiT Gastehuis en privaat gym in Centurion. Ronel is ‘n fiksheidsfanatikus en hardloop, gym, gholf en fietsry is deel van haar daaglikse leefstyl. Haar droom is om mense te inspireer om ‘n gesonde, aktiewe, gelukkige en finansieël welvarende leefstyl te leef. Besoek Ronel se webtuiste www.financiallyfitlife.co.za vir meer blogs, hulpmiddels en hoe Ronel jou kan help met persoonlike of besigheidsfinansies.