Leef jou suksesverhaal

Ons koop tydskrifte en biografieë omdat ons dit so geniet om bekendes se stories te lees.

Daar is al so baie geskryf en vertel oor die meeste bekendes dat hulle dalk self soms wonder wat hulle kan sê wat nuut en vars is. Maar tog is daar in elke suksesverhaal iets nuuts wat raakgesien kan word tussen baie woorde.

Nataniel is geen uitsondering nie. Sy naam word gehoor en sy stories word vertel. Stories wat dikwels mense laat lag met ‘n traan. Meer as alles wat al oor hom neergepen is en meer as die stories wat hy self vertel, is sy sukses so treffend omdat hy nog altyd weet hy is gebore vir meer as die allerdaagse. “Nege-en-negentig persent van wat ons ken as die moderene lewe is mensgemaak en nie noodwendig natuurlik, gesond of opwindend nie. My lewe gaan oor moontlikhede, hoop en fantasie. Dit bly die inspirasie agter alles wat ek doen,” sê hy.

Dit is maklik om raak te sien dat jy Nataniel se suksesverhaal ook kan toeskryf aan dit wat hy belangrik ag. Suksesvolle mense is ook afhanklik van ander se insette en perspektief. Jy moet dus nooit te trots wees om by ander te leer. Leer by die mense wie se voete al deurgeskaaf is. Sukses kom nooit sonder ‘n prys nie. Nataniel sê hy lees boeke, koop kuns en gesels ook gereeld met met mense wat meer as hy weet.

Dit is asof mense hunker na stories wat die moeite werd is om te vertel. Jy wil nie net saam met vriendinne sit en skinder nie. Jy wil meer doen en meer wees. Jy wil hê jou skeppingsdoel moet ‘n leemte vul en jy weet dit is net jou skeppingsdoel wat regtig kan. Ons stories is gemaak om gehoor te word. Ons wil gehoor word nie net vir Facebook likes nie, maar omdat ons wil wees wie ons gemaak is om te wees in ‘n doodgewone wêreld so oorvol van die allerdaagse.