Leef jy al jou droom?

50

Dis lekker om te droom, want dis maklik. Jy hoef maar net daaraan te dink en dan is die lugkasteel daar. Dis presies wat dit sal bly, tensy jy iets daadwerkliks daaraan doen.

Lesersvraag …

“Ek het van kleins af ’n droom om ’n vlieënier te word. Maar mense raai my af en sê dis nie ’n werk vir ’n vrou nie. Ek weet ook nie of ek goed genoeg is om die kursusse te slaag nie. En waar sal ek die geld en tyd vir die opleiding kry? Miskien moet ek dit net laat vaar.”

SESSIE 1

Net jy kan jou droom ’n werklikheid maak

Wat of wie verhoed jou om suksesvol te wees? Omstandighede? Finansies? Mense? As jy vir die perfekte oomblik wag, gaan jy jou lewe om wag.

Miskien is daar ’n klomp dinge of dalk is dit net een groot iets wat jy graag wil doen. Jy wil ’n  boek skryf; ’n besigheid begin; nog ’n graad kry …

’n Droom sonder ’n plan is soos spookasem.

Dit lyk mooi, maar smelt sommer weg as ’n mens daaraan probeer vat.

Net jy kan jou ambisies laat waar word. Raak prakties. Skryf dit wat jy wil doen, neer. Bekyk dan wat jy geskryf het, en omskryf dit as ’n doel.

’n Doel het ’n begin en ’n einde. Dit vra ’n plan van aksie.

Om die plan van aksie op die been te bring, is daar twee belangrike vrae om te beantwoord. Die eerste is: “Waar is ek nou?” Die tweede is: “Waar wil ek wees?”

Sodra die antwoorde op papier is, is dit tyd om aan die derde vraag te begin werk: “Hoe kom ek by my eindbestemming uit?”

SESSIE 2

Dit neem tyd om suksesvol te wees

Jy weet nou waar jy is en waar jy wil uitkom. Begin nou om kleiner doelwitte te stel, iets om elke dag te doen.

Dis maar soos skool. ’n Kind begin in graad R en kan nie sommer net tot in graad 12 spring nie. Sy moet stelselmatig deur elke skooljaar werk en leer totdat sy die finale eksamen kan skryf.

Drome word nie oornag ’n werklikheid nie. Kyk weer na die droom en doelwit wat jy neergeskryf het. Is dit regtig wat jy wil doen?

Gee nou die eerste tree om dit ’n werklikheid te maak. Moenie uitstel nie. Begin vandag, al is dit net om na te lees oor hoe ander hulle drome bereik het. 

Die belangrikste is om nooit op te gee en mismoedig te raak nie. Die ou spreekwoord in Afrikaans sê: Aanhouer wen. 

Anriëtte Schoeman, ’n Suid-Afrikaanse fietsrykampioen wat al sewe keer die Argus-fietswedren gewen het, het gesê: “Every pro was once an amateur. Every expert was once a beginner. So dream big and start now!” 

Toe, waarvoor wag jy?

SESSIE 3

Harde werk en oefening is nodig vir sukses

Jou doelwitte is in plek; jy weet wie jy is en glo jy kan dit maak. Om jou potensiaal te bereik moet jy werk en oefen.

Om suksesvol te wees het ons baie meer as net talent nodig. ’n Talent of gawe is soos ’n ruwe diamant. Dit lyk soos enige ander klip totdat dit geslyp word.

Gaan vra maar enige groot sportster hoeveel ure hulle per week oefen. Jy moet ook oefen totdat jy ’n meester op die gebied is.

Doen dieselfde ding oor en oor en kyk wat maak ander in jou veld. Waar is hulle suksesvol? Waarmee sukkel hulle? Hoe kan jy daarop verbeter?

Hou die hele tyd aan om aan jou menswees te slyp en te skaaf. Elkeen van ons het ’n unieke temperament, karakter en persoonlikheid.

Aangesien ons mense is, het ons ook swak plekke waaraan ons moet werk. Jy het dalk ’n vinnige humeur, wat jou in ’n konfliksituasie met ’n kliënt jou besigheid kan kos. Of jy is van nature ongeduldig en moet leer om dinge rustiger te vat.

SESSIE 4

Jy het stamina nodig om sukses te behaal

Tussen die hede en die toekoms is daar ’n onvermydelike brug – verandering. Stap dapper met hoop en geloof hierdie brug oor.

Mense met stamina en deursettingsvermoë sal makliker hulle doelwitte bereik. Dis dié wat nie opgee wanneer hulle moeg is of soms ’n paar onverwagse klappe vanaf die kantlyn kry nie.

Die profeet Elia het moeg en uitgeput die woestyn ingevlug waar hy op ’n hopie wou gaan sit en net opgee. So het ons almal ons eie uitdagings en dreig ons ook soms om die wildernis in te vlug en boedel oor te gee. 

Dis juis op sulke dae wat jy die passie vir jou droom moet lewendig hou. Jou roeping weer in oënskou moet neem en met volharding (soms hardnekkig en ongeag omstandighede) moet aanhou glo, hoop en vertrou.

Dit is ’n lewenslange proses wat jy slegs met die leiding van die Heilige Gees kan aanpak. Moet ook nie huiwer om by jou mentors vir hulp te gaan aanklop nie.

SESSIE 5

Soms moet jy jou droom prysgee

Partykeer werk dinge nie uit nie. Iets gebeur wat buite jou beheer is en jou drome lê aan skerwe. Hou moed, daar is iets beters aan die kom!

Die lewe gooi jou soms op vreemde en hartseer paaie.  Beteken dit jy is nou alleen en vergete? Nee, nooit nie. Daar is altyd ’n plan met jou lewe. Uit elke krisis sal daar weer ’n nuwe droom gebore word.

Jana du Plessis het uitstekende vooruitsigte gehad om as sportster uit te blink. Toe verloor sy ’n been deur kanker. En word ’n bekende motiveringspreker.

Sy het haar getuienis landswyd gedeel en mense gemotiveer met haar slagspreuk: Aardetyd is genadetyd. So het sy ’n groter verskil in mense se lewens gemaak as wat sy ooit as sportster sou kon doen.

As omstandighede en lewenskrisisse maak dat jy jou droom moet prysgee, moenie moed opgee nie.

Doen steeds elke dag jou bes. Dit kan dalk nie nou werklikheid word nie, maar weet dat jy voorberei word vir dit waarvoor jy geroep is.


Word deel van ons SKOOL VAN DIE LEWE Facebook-groep, en méér

Of jy nou ’n beter jý wil wees, jou verhoudings wil verdiep, of jou finansies of werk wil verbeter, word deel van ons Skool van die lewe Facebook-groep. Luister na Lynette Beer se oudiolesse en laai ook ‘n gratis werkboek af. Al wat jy nodig het, is jou selfoon. Dis vinnig, maklik en gratis!
www.facebook.com/groups/2035387590101311/