Leef jy eerder in afwagting as met ’n verwagting?

290

Wanneer jy ’n sekere verwagting het, reken jy iets moet gebeur of dat jy iets gaan kry.

Op die een of ander manier stel jy jouself bloot om teleurgestel te word. Ek dink dis nogal ’n bietjie selfsugtig ook om so ’n ingesteldheid te hê.

Ek en manlief al dikwels die grootste uitvalle gehad omdat een van ons twee ’n sekere verwagting gehad het. Dit laat my dink aan die keer toe my verjaarsdag anders verloop het as wat ek gedink het dit sou.

Jamie is een van daardie mense wat baie lief is daarvoor om ’n lekker verrassing te reël. Ek kon gevolglik nie wag om te sien waarmee hy vorendag sou kom nie. Ek is nie goed daarmee om verrassings uit te dink nie.

Die oggend van my verjaarsdag was ’n lekker koue Saterdagoggend, omdat ek in die hartjie van Julie verjaar.

Soos gewoonlik bring manlief vir my ’n koppie koffie in die bed. Hy sê toe hy gaan ’n lekker bad intap (daar was nog nie waterbeperkings in die Kaap nie). Ek raak heel opgewonde, want hier kom nou ’n lekker verrassing…

Die kerse word aangesteek, ek hoor hoe die warm water in die bad getap word en daar kom verruklike geure uit die badkamer. Wow, dink ek, ek het so pas die jackpot geslaan. Hy het my toe nog nie met my verjaarsdag gelukgewens nie, wat nogal vreemd was.

’n Rukkie later dink ek, nou gaan hy my roep om te kom bad. Maar dis tjoepstil in die badkamer. Later klim ek uit die bed en gaan kyk wat aangaan – en daar sit Pappa in die bad, die ene stoom en skuimbolle.

Ek hou die pose en sê niks, maar ek is taamlik bekaf. Later die oggend, terwyl almal smul aan die ontbyt wat ek maar self moes maak, vra Jamie wat is dan nou fout?

Kan jy glo, die hele gesin het my verjaarsdag vergeet, my man wat elke jaar verrassings reël inkluis. Toe sê ek maar van die borrelbad en dat hulle nie eens ’n bohaai gemaak soos ek verwag het hulle sou nie.

Nou kan ons lekker hieroor lag, maar toe was dit glad nie vir my snaaks nie. Ek was so teleurgesteld dat die realiteit nie met die prentjie in my kop ooreengestem het nie.

Miskien moes ek eerder in afwagting na my verjaarsdag gekyk het en nie ’n verwagting gehad het nie. Dan was die teleurstelling nie so groot nie.

Wanneer ’n mens in afwagting leef, het jy ’n hoop dat iets sal gebeur, hetsy positief of negatief. Daar is nie noodwendig ’n verwagting dat jy iets gaan kry nie. Jy is onselfsugtig omdat jy nie iets spesifieks verwag van iemand nie en dit voorkom dat jy teleurgestel word. Dis om hoopvol te wees, ten spyte van hoe dinge nou lyk.

En dit werk. My man het nou net ’n foto gestuur van die kaaskoek waarmee hy my gaan bederf. En ek het dit glad nie eens verwag nie!

ROUCHELLE LIEDEMANN is ’n gospelsangeres en TV-persoonlikheid van die Kaap.