Leef jy of oorleef jy?

leef en oorleef

Aan die vooraand van die nuwe jaar is dit hierdie gedagtes wat my vir ‘n oomblik laat stilstaan. Daar is immers ‘n groot verskil tussen Leef en Oorleef…

Die man op straat oorleef op aalmoese.

Sommige mense oorleef in die ritme van hul roetine.

Ander oorleef bloot jaar in en jaar uit.Om te Leef beteken dat jy ervaar. Proe, voel, sien, hoor. Beleef.

Dalk beteken leef dat jy nuttig voel. ‘n Doel het.

‘n Kitaarvriend vertel watter aanpassing aftede was. Om op te staan en te wonder wat jy vandag gaan doen terwyl ander mense werk toe gaan. Oorleef het dikwels niks te doen met hoeveel kos jy het om te eet nie. Soms is dit ‘n doelbewuste besluit. Dalk ‘n uitkyk wat moet verander. Dalk ‘n waagstuk of ‘n nuwe rigting…

‘n Britse kollega van my man was reeds ouer as 50,met ‘n goeie werk en ‘n standvastige lewe. Tog was hy nog nooit in London nie. Net 2 ure per trein. Vir ons as reisigers was dit amper ondenkbaar. Weekliks het ons verslag gedoen van al die dorpe wat ons verken het.

Hy het Engeland deur ons oëontdek maar dit nooit self buite sy gemaksone gewaag nie. Baie van my vriende in die Kaap was self nog nooit verder as Worcester nie. Soms raak ‘n mens so vasgevang in ‘n situasie dat jy nie ander grense kan oorsteek nie.

Leef raak alledaags. Later raak dit net oorlewing. Dag in, dag uit. Jaar in, jaar uit. Ek dink God het iets anders beplan. “Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê..en dit in oorvloed” Johannes10: 10Aan die begin van ‘n nuwe jaar kry ‘n mens tyd om te “reset”.

Jou bril se glase skoon te maak. Om doelbewus die besluit te neem om ook te leef en nie net te oorleef nie.  Dalk begin dit met ‘n dankbare hart. Vir gawes, talente, geleenthede. Oomblikke, mense, voorregte. Minder te jaag, meer te beleef.  Dalk minder foto’s, meer oomblikke. 

“Don’t count the days…let every day count!”Hoe kry ek dit reg waar oorlewing alles raak?Jesus gee die antwoord in ‘n onverwagse vers.

… “‘n mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mondvan God kom.” Om waarlik te Leef begin dalk by God. Uit Hom, deur Hom en tot Hom…Dit is nie net nog ‘n nuwe jaar nie. Dis 2020….’n nuwe dekadewaar jy kan kies om die Lewe aan te gryp.