Leef jy van Betaaldag tot Betaaldag?

77% van Suid-Afrikaners het geen geld oor aan die einde van die maand nie.

Die oorgrote meerderheid van die populasie probeer letterlik net oorleef van betaaldag tot betaaldag. Wanneer die salaris ontvang word, word dit aangewend om skuld en uitgawes wat hulle reeds aangegaan het te vereffen. Hierdie situasie plaas gesinne onder geweldige druk en veroorsaak finansiële onstabiliteit, maar dis die harde werklikheid vir baie Suid-Afrikaners.

Daar is egter ‘n groter impak op jou algehele finansiële welstand wanneer jy van betaaldag tot betaaldag probeer oorleef: Daar is nie geld oor aan die einde van die maand om te spaar nie. Daar is geen geld beskikbaar om skuld vinniger te delg nie. Daar is geen geld beskikbaar wanneer onvoorsiene gebeurtenisse of noodgevalle opduik nie. Uiteindelik word meer skuld benodig om deur die maand te probeer worstel. Wanneer skuld benodig word om daaglikse lewenskostes te dek, moet ‘n rooi vlaggie gehys word. Die situasie is ‘n negatiewe spiraal waaraan dringend aandag gegee moet word voordat dit te laat is.

Indien jy jouself in die situasie bevind waar jy gretig wag op betaaldag net om deur die maand te kom, moet jy aksie neem om uit die situasie te kom. Dis nie ‘n lekker situasie om in te wees nie. Begin deur jou maandelikse uitgawes te monitor en moontlike besparings te identifiseer. Stel die besparings wat jy geïdentifiseer het in werking, ongeag hoe gering dit mag lyk gegewe die groter prentjie. Elke bietjie help! Implementeer ‘n effektiewe begroting en hou daarby. Daar is altyd geleentheid om uitgawes te sny, maar mens kan ook net sny tot op ‘n punt en dan is verdere besparings net nie meer moontlik nie. Indien jy jou uitgawes tot op die been gesny het, dan moet jy begin kyk na opsies om jou inkomste aan te vul om sodoende ‘n mate van finansiële stabiliteit te kan skep.

Gedurende die volgende 10 weke gaan ek die 10 grootste finansiële bekommernisse van baie Suid-Afrikaners in meer detail bespreek. Volg my Finesse voelgoed blogs en teken gratis in op my YouTube kanaal vir nog waardevolle finansiële raad:

https://www.youtube.com/channel/UCNxhoBjk_oaiB1td0u0A8ow

 

Vorige artikelDie trappe van vergelyking van ouerskap
Volgende artikelAs God “NEE” sê
Blogger - Ronel Jooste
Ronel Jooste is ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester met meer as ‘n dekade se korporatiewe ervaring in die bank, versekering en beleggingsindustrieë. Huidiglik het sy haar eie finansiële welstand maatskappy genaamd FinanciallyFiTLife. As finansiële coach en konsultant help sy mense met hulle persoonlike finansies; besighede met hulle besigheidsfinansies en bied ook werkswinkels en finansiële welstandprogramme aan. Ronel het haar eie finansiële geselsprogram op All-Time Radio; sy skryf graag artikels vir verskeie publikasies asook haar eie blog; en tree as spreker op by geleenthede waar sy haar passie vir finansiële fiksheid deel. Saam met haar suster besit sy die PhysEQFiT Gastehuis en privaat gym in Centurion. Ronel is ‘n fiksheidsfanatikus en hardloop, gym, gholf en fietsry is deel van haar daaglikse leefstyl. Haar droom is om mense te inspireer om ‘n gesonde, aktiewe, gelukkige en finansieël welvarende leefstyl te leef. Besoek Ronel se webtuiste www.financiallyfitlife.co.za vir meer blogs, hulpmiddels en hoe Ronel jou kan help met persoonlike of besigheidsfinansies.