Leef met ’n hooglied!

0
13
liefde_met_passie.jpg

Die Bybel praat dikwels en openhartig oor liggaamlike dinge. Op talle plekke lees ’n mens van romanse, liefde en seks. Nou kan ek my seksuele begeertes mos na hartelus en met enigiemand uitleef.

Reg?

Glad nie!

Ons mag seks geniet, maar binne die grense wat God daarvoor gestel het, omdat die grense juis bedoel is om ons geluk te verseker.

’n Vrou sou tog ’n dom ding doen as sy die aanwysings ignoreer wat die vervaardigers van byvoorbeeld ’n borduurmasjien in die masjien se handboek aangee. Die vervaardigers weet mos wat ’n mens moet doen om die beste werkverrigting uit die masjien te kry. Dit geld presies net so vir die mens as wese wat deur God geskep is. God weet die heel beste wat goed en wat sleg is vir die mens. En Hy het sy riglyne in sy Handboek – die Bybel – uitgespel. As ons daardie aanwysings ignoreer, gaan ons seerkry. Maar God is nie ’n pretbederwer nie. Hy laat ons toe om seks te geniet met die lewensmaat wat Hy vir ons gegee het. Christene hoef dus nie skuldig te voel oor hulle seksualiteit nie.

Noudat jy Hooglied en ander gedeeltes waar die Bybel oor seks praat, mooi verstaan, kan jy jou daarop begin toelê om die vlam van passie in jou huwelik voortdurend te voed. En aanraking is ’n belangrike stuk brandhout in hierdie vuur. Daarom, vat aan jou man, raak in die verbygaan aan hom, hou hande vas as julle saamstap, bad saam, stort saam. Word mekaar se beste maats. Word mekaar se sielsgenote.

Verras hom

Hier is nog ’n paar dingetjies wat jy as vrou kan doen – en jy kan natuurlik jou eie byvoeg!

  • Sit ’n kaartjie of briefie in sy kosblik.
  • Skryf ’n boodskap in sy dagboek. Christene mag ook “stout” boodskappies vir hulle lewensmaat skryf.
  • Koop fliekkaartjies net vir julle twee en hou handjies in die fliek.
  • Nooi hom laatnag om stilletjies saam met jou in die swembad te gaan spring
  • Voed sy ego!
  • Skryf jou eie hooglied vir jou man wat vir jou “een uit tien duisend” is.
     

En hier is dingetjies wat die manne kan doen of wat jy as vrou hom baie subtiel kan maak doen as hy nie self ook hierdie boek gelees het nie!

  • Gaan drink saam tee met jou vrou.
  • Bring onverwags vir haar blomme huis toe.
  • Sit ’n hartjie-sjokolade op haar kussing.
  • Sê dat jy vir haar lief is, en sê dit dikwels.
  • Gee haar ’n drukkie, ook as jy sommer net deur die kombuis stap.
     

Die rooi ligte flikker maklik vir die huwelik van pretbederwers. Wees daarom eerder ’n pretaanstigter! Lag saam met jou man. Jaag hom sommer in die gang af. Stoei met hom. Speel wegkruipertjie. Wees beste maats. En onthou: saamslaap hoef nie net in die donker in die slaapkamer te gebeur nie.

Natuurlik is dit ook nie net mense wat nog mooi en jonk is wat seks kan geniet nie. Daar is geen verband tussen ’n mooi liggaamsbou en lekker seks nie. Liefde is belangriker. Ook wedersydse respek. Daar is niks so mooi as twee ou mense wat nog vir mekaar lief is, wat mekaar en ook mekaar se liggame geniet.

Die geheim van ’n gelukkige huwelik is dit: verban eentonigheid in die fisieke aspek daarvan. Laat die vlam van passie hoog bly brand. Sorg dat daar gedurig opwinding is. Geniet die lewe. Geniet jou lewensmaat.

Net vir die huwelik

Maar wat sê ons vir vir al die ongetroudes, jonk en oud?

In die eerste plek dat Christenskap nie jou pret wil bederf nie. Die Bybel is nie daarop uit om mense plesier te ontneem nie. Maar elke mens moet weet dat seks byna soos kernenergie is. Aan die een kant kan dit gebruik word om elektrisiteit op te wek en lig en warmte in mense se lewe te bring. Aan die ander kant kan ’n mens kernkrag gebruik om ’n kernbom te bou en duisende miljoene mense se lewe te vernietig. Dieselfde geld vir seks. Dit kan positief aangewend word om man en vrou in die huwelik volkome eenheid te laat beleef. Maar dit kan ook duisende lewens – jonk of ouer – geheel en al vernietig, wanneer mense buite die huwelik daarmee omgaan.

Wanneer die Woord van die Here openhartig oor seks praat en dit besing, maar dit ook duidelik vir die huwelik reserveer, dan is die doel om ons verdriet te bespaar. God, die Skepper van die mens, ken die mens se samestelling deur en deur. Hy weet wat vir die mens goed is, en wat oneindige ellende kan bring.

As jy regtig lewenslank liefde en geluk wil ervaar, geniet weer die romanse van ’n verhouding. Reserveer die seksuele sy van jou lewe vir jou huweliksmaat, en leef dan met ’n liefdeshooglied in jou hart.

DEEL
Vorige artikelNuutgemaak!
Volgende artikelWAT is gebed?
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.