Leef met Oorgawe

Ek het vanoggend met ‘n loodswaar hart ernstig met myself gesels.

Ek het ‘n belofte aan myself gemaak dat ek nie langer enige iets sal vrees nie. Ek wil die lewe omhels en die bitter en die soet indrink. Die son steek sy kop uit terwyl ek bang en skaam afkyk na die grond. Ek dink dit is nou tyd om te lewe. Die son wag vir my eerste besef dat die kosbaarste wat ek kan gee nie my besittings is nie maar my hart.

Uit my gebroke hart vloei daar vandag elke denkbare emosie. Trane spoel my menswees skoon. Ek is vry. Ek het asem in my. Ek het iets om vir die wêreld te gee. Ek kan my talente, my tyd en my energie gee om ander te help en te bemoedig. Ek smag na die onbekende. Diep binne my breek ‘n stem deur al my onsekerheid: Jy kan!

Ek wil en gaan antwoord op die uitnodiging om te lewe. Ek gaan deur die lens van perspektief na die lewe kyk. Ek gaan myself vergewe en ook ander vergewe. Met alles in my wil ek ja sê vir die lewe. Ek sal kies om die dinge waarmee ek worstel neer te lê. Ek gaan nie wortelskiet waar ek nou is nie. Ek gaan my uitstrek na wat voor my is. Ek gaan die horison verf met nuwe beloftes en die kleur van afwagting.

Jy weet nooit wat die reën sal bring en hoe die son se strale jou sal troos nie. Alles bly dag in en dag uit ‘n spontane vloei van die ure. Die lewe voel dikwels soos niks meer as die tik van ‘n horlosie nie. Dit is die kom en gaan van seisoene. Dit is die ritme van die see wat jou mooi herinneringe asook jou ongewenste spore toevee.

Vir elkeen het die lewe ‘n ander betekenis want elkeen se ervaring van die lewe verskil. Ongeag die waarde wat jy aan jou lewe heg, jy haal steeds asem en daarom moet jy met oorgawe leef.