Leef om die reis te geniet

0
424

Jou lewe is ’n reis en jou eindbestemming die hemel. Moenie net op jou tande byt en bid dat vandag moet verbygaan nie. Laat elke oomblik tel!

Soms voel die lewe vir jou dalk meer soos ’n rotteresies. Elke dag is ’n gejaag en saans val jy pootuit op jou bed neer en dink: Dankie tog, hierdie dag is verby!

Wees dankbaar vir die goeie dinge

Dit is net so belangrik om die reis te geniet as wat dit is om op die bestemming te fokus. Jy moet tyd maak om die mooi dinge langs die pad te waardeer.

Gebruik jou sintuie en leef nóú, in die oomblik. Wanneer laas het jy na werk jou skoene uitgeskop en kaalvoet op die gras geloop? Of die voëltjie opgelet wat ’n wurmpie uit die grond trek?

Ons is onvolmaakte mense en ons sien gou raak as iets nie na ons sin is nie. Maar wat van die tientalle dinge wat reg loop in jou lewe?

Tydens ’n fietsrit het ek eendag langs die pad gestaan en water drink. Toe sien ek ’n klein, pienk blommetjie raak. My pragtige dogtertjie dra graag pienk en ek het die blommetjie gepluk om later vir haar te gee. Nou wonder ek: Wanneer laas het jy vir iemand gesê dat jy lief is vir hom of haar? Wanneer laas het jy vir jou man gesê jy waardeer hom en hy is awesome?

Dis broodnodig om heeldag ’n gesprek met die Heilige Gees te hê en dankie te sê vir die klein dingetjies.

Ek weet jy het dalk probleme. Die Bybel maak voorsiening daarvoor, want in 1 Tessalonisense 5:18 sê Paulus ons moet in alle omstandighede dankbaar wees.

God moet die dryfkrag wees op jou pad

Elkeen van ons het iets wat ons motiveer en aandryf. Miskien is dit geld, ’n mooi huis of ’n blink motor. Dalk wil jy graag met jou suksesvolle man of slim kinders spog. Of jou geoefende lyf en plooilose vel is vir jou baie belangrik.

Hierdie dinge is egter tydelik en gaan baie gou verby. As Jesus nie die Bron van jou krag is nie, sal jy swak word en halfpad deur die resies bly lê. Jou lewe sal ’n verkwisting wees! As jy nie ’n lewe leef waar Hy die middelpunt is nie, is dit letterlik soos blare wat deur die wind weggewaai word.

Jy het net een kans, want jy gaan nooit weer hierdie spesifieke deeltjie van die pad kan herhaal nie. Doen dit reg en doen dit met passie. Doen dit met alles wat jy in jou het! Hou jou oë op Hom, fokus op mense en wees lief vir hulle. As jy doelbewus staan vir hemelse doelwitte, sal jou lewe betekenis hê en sál jy ’n verskil maak.

Ons word beloon volgens die manier waarop ons ons lewens leef en of ons bereid is om vir Hom op te kom. Laat elke dag tel sodat die bestemming van jou reis eendag die beloning is van ’n wedloop wat goed afgelê is.

Moenie stres oor die onbekende nie

Baiekeer begin ’n mens ’n nuwe paadjie stap. Jy weet dalk nie presies waar jy nou is of waarheen jy eintlik op pad is nie. Jy kan jou eie plannetjies hóé mooi uitwerk, maar die uitkoms is nooit seker nie. Jy kan nogal bekommerd raak en snags wakker lê as jy nie mooi weet wat môre gaan gebeur nie.

Tog, as jy die sterrestelsel-asem van God in jou hart het, hoef jy nie jou “sterre” te lees om jou toekoms te verstaan nie. As jy Hom het wat die toekoms in Sy hande hou, kan jy kalm en rustig wees. Jy weet mos Iemand kyk na jou en beplan net mooi dinge vir jou.

Moenie moedeloos raak as die pad moeilik is en jy voel asof jy wil opgee nie. Miskien sukkel jy met jou gesondheid, maar die feit is, jy lewe! Jy het nog steeds ’n doel. Sê dankie vir medikasie, goeie dokters en geliefdes wat jou ondersteun en gaan aan met jou reis.

Ek het vir jou goeie nuus: Die oomblik wat jy vir Jesus Christus van Nasaret ontmoet, sal jou lewe verander. Nou is jy nie meer gestres oor wat dalk kan gebeur en watter nare dinge jou kan tref nie. Nou kan jy terugsit en ontspan en ’n opwindende reis geniet.

LUKAS KORFF is ’n evangelis met 14 wêreldrekords agter sy naam. Hy het 3 000 km afgelê op ’n tandemfiets sonder ’n saal om ’n punt te bewys: “I stand for Jesus!”