Leer jou brein minder bekommer

0
202
kommer.jpg

As jy gedurig angstig voel, skep moed! Jy kan leer om ontspanne te wees – herprogrammeer jou brein!

Jy is moontlik een van die vroue wat aanmekaar oor alles stres. Jy kan die beste voornemens hê, maar as jy jou weer kom kry, trek jou maag op ’n knop en jou nekspiere span styf. En dit oor die geringste dingetjie.

Kommer is nogal soos bloeddruk: Jy het ’n sekere hoeveelheid daarvan nodig, maar te veel kan jou baie siek maak. Die goeie nuus is: Jy kan self jou angstigheid verander.

Kommer is eintlik net ’n spesiale soort vrees – wat doodnatuurlik is. Dis wanneer jy vrees ingewikkeld maak deur jou geheue, jou verbeelding en jou emosies by te voeg dat dit gevaarlik raak.

Daardie kwellings wat aan jou knaag, ontstaan meestal uit ’n gevoel van magteloosheid en kwesbaarheid. Jy voel dalk voortdurend angstig oor dinge waaroor jy geen beheer het nie, soos mense wat onverskillig bestuur. Dit laat jou baie kwesbaar voel, want jy is bang jy raak in ’n ongeluk betrokke. Elke keer as jy bestuur, flits dít deur jou kop.

Hoekom hou ’n mens dan hiermee aan? Kan jy nie maar net jou kop regkry en ontspan nie? Nee, want die probleem is eintlik in jou brein. Die brein kry ’n tipe spasma – dis asof daar iets is wat dit vasgryp en nie wil laat los nie. Dan pomp dit groot hoeveelhede adrenalien onder hoë druk deur jou liggaam. Selfs goeie nuus kan nie op hierdie stadium die greep sommer verslap en jou laat ontspan nie.

Dit lyk asof party van ons eenvoudig van nature kommerkouse is. Jy kan nie ’n nuwe brein kry nie, maar jy kan wel jou brein “afrig” om anders te reageer. Jy kan verander!

Hoekom jy jou so onnodig oor goed kwel

Partykeer maak jy met kommer soos ’n hond met ’n been waaraan hy knaag. Jy “knaag” aanmekaar aan ’n saak, gaan bêre dit dan en gaan haal dit later uit om weer daaraan te kou. Die enigste manier om van die “been” ontslae te raak, is om dit eers kant en klaar te hanteer voor jy dit vir goed begrawe.

Die psigiater Edward Hallowell vertel in sy boek Worry hoe een vrou, Liz, se pa selfmoord gepleeg het toe sy 10 jaar oud was. Na die begrafnis het haar ma die kinders na ’n kermis toe geneem en gesê hulle moet ’n bietjie pret hê sodat hulle kan vergeet. Sy het daarna nie weer oor hom gepraat nie, want hulle moes “aanbeweeg”. Liz het nooit oor haar pa gehuil nie en dus nooit die pyn van sy dood verwerk nie.

[pagebreak] Baiekeer is ’n bekommernis wat jy het, net die een of ander hartseer wat verdoesel is as iets anders. Dit kan ’n verdedigingsmeganisme wees om pyn uit te skakel. Jy weet goed wat jy eintlik met watter kwessie in jou lewe moet doen, maar jy bly dit vermy.

Liz móés oor haar pa praat en huil. Vir baie vroue is dit een van die moeilikste dinge om te doen, want as jy huil, voel jy weerloos en buite beheer. Toe Liz dit kon regkry, het die ander probleme in haar lewe kleiner geword, want alles was skielik in perspektief.

’n Klein onsekerheid kan maklik ’n obsessie raak

Bekommernis begin baiekeer met ’n effens negatiewe moontlikheid, ’n “Wat as…?” of “Sê nou net…?” Gewone, neutrale inligting word summier in ’n negatiewe moontlikheid omskep.

Op dié manier kan ’n klein kwellinkie spontaan vertak, net so vinnig soos ’n weerligstraal. Voor jy jou oë kan uitvee, het jy nie net een sakie om te hanteer nie, maar sommer ’n hele klomp!

Gestel daar begin ’n nuwe persoon in julle afdeling werk. Jy kan dadelik sien sy ken haar storie en is baie professioneel. Terwyl julle tee drink, begin jy wonder: Sê nou sy doen haar werk so goed dat die baas haar ’n verhoging gee? Dan is al die moeite wat ek die afgelope tyd gedoen het, mos verniet. En so loop jou gedagtes tot jy naderhand glo jy gaan binnekort jou werk verloor en op straat sit sonder ’n inkomste!

Die eerste stap is om vas te stel wat jou so gespanne maak. Is die oorsprong van jou volgehoue bekommernis miskien angs? Lei jy dalk aan depressie of is daar onverwerkte trauma in jou lewe?

Probeer die volgende tegnieke, maar praat heel eerste met God as jy so rusteloos begin voel. Breinskanderings het getoon dat daar besliste positiewe veranderinge in die brein plaasvind tydens meditasie en gebed.

Jy kan jou brein van voor af leer!

Jy kan self iets aan jou sorge doen. Met oefening kán jy anders dink. Dis soos om ratte te verwissel as jy leer motor bestuur. Jy doen dit oor en oor tot dit outomaties word. Daar is maniere waarop jy kwessies kan hanteer wat kort-kort opduik en jou ontsenu, soos finansiële vrese of ’n vrees vir mislukking.

Hoe werk dit? Daar is normaalweg ’n kort vensterperiode van ongeveer ’n minuut voor ’n bekommernis heeltemal sy tentakels in jou inslaan. Dis die tyd wat jy het om te reageer voor jou brein in ’n “spasma” gaan.

In plaas van al die onheilsgedagtes wat so deur jou kop flits, moet jy nou vinnig aan iets anders dink. Probeer om eers jou aandag van die negatiewe gedagte af te lei deur te fluit of te sing. Of klap jou vingers, skiet jouself met ’n rekkie – enigiets wat vir jou werk.

Dink dan iets positiefs oor die saak. Een positiewe gedagte op ’n keer kan geleidelik jou gedagtes verander. Sê vir jouself: “Ek sal regmaak wat ek kan, die res los ek.”

Wees kreatief en soek praktiese maniere hoe jy jou brein kan kul. Een vrou blaas byvoorbeeld in haar hande voor ’n belangrike vergadering en sê vir haarself sy het nou net haar spanning “weggeblaas”. Of kry iets snaaks wat jy op jou lessenaar kan sit om jou daaraan te herinner om daardie aaklige vrese nek om te draai sodra dit opduik. Moenie dat bekommernis jou verlam nie. Jy kán dit beheer.

Verwerk uit Worry van Edward M. Hallowell.