Leer jou kind om vas te byt

1927

Daar is twee soorte mense – aanhouers en touopgooiers. Leer jou kind om deur te druk en sukses te behaal en sy is reg vir die lewe.

Onthou jy die storie van die haas en die skilpad wat aan ’n resies deelgeneem het? Dit kan ook in jou huis gebeur! Jou kind haat wiskunde, maar moet dit neem tot graad 9. Of sy is regtig nie goed in atletiek nie, maar moet aan die huissport deelneem om punte vir haar span te kry.

Jy kry haar jammer, maar gaan jy haar toelaat om die haas te wees wat entoesiasties wegspring en halfpad belangstelling verloor?

Of eerder die stadige skilpad wat aanhou probeer en uiteindelik soete oorwinning smaak?

Herhaling en speletjies help skoolwerk

Jy kan help om dinge by die skool makliker te maak. As sy sukkel met Pythagoras se stelling, laat haar dit van buite leer én leer om dit toe te pas. Sodra sy dit verstaan of beter punte kry, sal sy begin goed voel oor haarself.

Dieselfde geld vir stokperdjies en sport. Daardie voorhandhou gaan net verbeter as dit oor en oor geoefen word, net soos die liedjie vir die kunswedstryd.

As haar aandag maklik dwaal en sy daarom maklik tou opgooi, kan jy haar met eenvoudige speletjies help om haar konsentrasie te verbeter.

Speletjies moet natuurlik by die kind se ouderdom pas. Monopoly en Trivial Pursuit werk goed met ouer kinders, terwyl kaartspeletjies soos Solitaire en Rummy selfs vir laerskoolkinders geleer kan word.

Speletjies kweek geduld, konsentrasie en goeie sportmangees, en as bonus bring julle ook gehaltetyd saam deur. Balspeletjies werk net so goed, veral vir kleiner kinders. Nog beter, beoefen saam ’n sport – so leer sy deur jou voorbeeld om dinge positief aan te pak en af te handel.

Prys jou kind as sy iets klaarmaak, of sy nou wen of nie. Dit laat haar waardig voel en leer haar dat as sy iets voltooi, sy ’n wenner is.

Motiveer kinders om altyd hulle bes te doen

Moedig aan, prys en beloon – dis die sleutels tot ’n gemotiveerde kind. En al wil jou hart breek oor sy laaste by die eindstreep kom, laat voel haar soos die volgende Caster Semenya!

Beloning hoef nie groot geskenke te wees nie. Beloning is ook ʼn uur saam met Ma, ’n slaaptydstorie, ’n ekstra paar minute voor die TV of ’n lekker, stywe druk.

Wees baie versigtig om met kos te beloon. ’n Lekkertjie hier en daar, of soms ’n roomys of ’n koeldrank, is reg. Maar moenie elke prestasie aan kos koppel nie, want jy vergroot jou kind se kans om ʼn abnormale eetpatroon te ontwikkel.

As jy altyd alles vir jou kinders doen, ontneem jy hulle broodnodige kanse om te groei deur foute. Kinders wat huistakies het, leer verantwoordelikheid, en hulle selfagting is goed omdat hulle voel hulle lewer ’n belangrike bydrae tot die huishouding. Dit is al klaar ’n beloning.

Laat die kleintjies groente afspoel, tafel dek of troeteldiere kos gee. Tieners kan help kos maak, die skottelgoedwasser inpak of skooltoebroodjies maak.

Jy bly die ouer en jy maak die reëls!

Partykeer moet jy hulle maar dwing om iets te doen. Onthou, ouerskap is nie ’n gewildheidskompetisie nie – jou rol is om jou kind vir die lewe voor te berei.

As sy wil ophou met ’n aktiwiteit of vak omdat sy nie kans sien vir die werk of oefening nie, verplig haar om minstens die kwartaal te voltooi. Hierdeur leer sy ook deursettingsvermoë en selfdissipline aan.

Moenie dat kinders van die een aktiwiteit na die ander rondspring nie. Stel dit duidelik dat jy haar vir byvoorbeeld ’n kwartaal se tennislesse gaan inskryf, en dat sy eers oor drie maande iets anders mag aanpak.

Probeer om nie ’n kind wat sukkel of maklik tou opgooi, aan te veel aktiwiteite laat deelneem nie. Help haar die dinge kies waarin sy goed is en leer haar om haar beste daarin te lewer.