Leer jou tiener se hart ken

0
89
oulike_ma_1.jpg

Om ’n goeie verhouding met jou tiener te hê beteken om haar hart te ken. So kan jy haar bemoedig en saam droom.

’n Dokter gebruik ’n stetoskoop om te luister na iets wat hy nie met die blote oog kan sien nie. Hoekom raak jy nie ook stil en luister na jou kind se hart sodat jy kan hoor hoe dit klop nie?

Maak planne saam en wees 100% daar vir haar

Leer ken jou kind: Kyk na haar optrede, luister na wat sy vertel. Sodra jy uitgevind het waarvoor sy lief is, doen dit saam met haar. En moenie net van die kant af aanmoedig nie, wees aktief betrokke.

Om aan ’n goeie verhouding met jou tiener te bou behoort iets te wees wat jy heeljaar doen. Die beste tyd om saam met jou tiener te groei, is natuurlik gedurende die vakansie. Dis die ideale geleentheid om tyd af te staan aan dinge waarvan sy hou. Trek ’n kalender nader voor die skool sluit. Sit elke dag tyd opsy wanneer jy jou prioriteite, werk, stokperdjies en bekommernisse eenkant toe skuif om 100% daar te wees vir haar. Beplan saam wat julle gaan doen ‒ inkopies, fiets ry, DVD’s kyk, enigiets wat sy sal geniet.

Wees avontuurlustig en leer iets nuuts

Vra jou kind wat sy graag sal wil doen en probeer dit dan sommer saam met haar. Wees ontvanklik vir haar idees en pak dit met ’n humorsin aan. Leer iets nuuts, soos om te ysskaats. Maak dan ’n reël dat jy sal probeer mits die enigste reël vir die dag is dat almal moet lag elke keer as jy val. Dalk wil sy met klavier- of kitaarlesse begin. Wat van ’n nuwe taal aanleer of leer tango?

As jou kind graag iets avontuurlustigs wil doen, wees ’n bok vir sports. Ry saam in daardie kano of gly in ’n harnas saam met haar van boom tot boom. Pak die staptoer op haar doen-lysie aan. Beleef die avontuur saam met haar.

Maak haar deel van jou wêreld

Wat maak haar bang of wat laat haar ongemaklik voel? Vra of sy jou hulp nodig het met die redenaarstoespraak. Of dalk met daardie moeilike oproep wat sy moet maak omdat haar vriendin se broer oorlede is. Onthou egter om haar reëls te volg. As jy moet help om haar vriendin te bel, laat haar self kies wanneer sy dit wil doen of in watter mate jy betrokke moet wees.

Wys haar hoe dinge in jou lewe werk. So leer sy dat daar daagliks dinge is wat ’n mens bang maak, maar dat jy dit wel kan baasraak. Sy sal ook voel dat sy behoort, want jy gee genoeg om om haar by jou dinge te betrek. Neem haar saam as jy gaan inkopies doen. As jou werk van so ’n aard is dat sy betrek kan word, doen dit. Drink gereeld ’n koppie koffie of tee saam sodat sy die geleentheid het om haar vrese met jou te deel.

Spandeer saam tyd in die Woord

Kry ’n kykie in jou kind se geestelike lewe deur saam Bybel te lees en te bid. Slegs tien minute ’n dag kan julle verhouding “ewigheidswaarde” gee. Lees ’n dagstukkie aan die ontbyttafel; bid saam voor slaaptyd. Só skep jy vir haar ’n veilige tuiste in vandag se onseker wêreld. Moenie hierdie tyd gebruik om te preek, te kritiseer of haar met God se Woord te manipuleer nie. Laat haar daarna uitsien om die tydjie saam met jou deur te bring.

Indien jy sien sy wil graag haar medemens meer spesifiek begin dien, doen dit saam met haar. Help by ’n sopkombuis, ’n kosprojek by ’n skool of ’n huis vir haweloses. Of gaan verf die speelrame by ’n skool in ’n arm gemeenskap.

Maak julle verhouding jou eerste eerste prioriteit

In elke jongmens leef daar ’n droom. Help jou tiener om haar sterk punte te ontdek en werk saam om haar droom te bewaarheid. Lei jou kind om doelwitte te stel en dan die nodige vaardighede te slyp en ondervinding op te doen.

Maak seker jy het ’n aandeel daaraan om haar droom ’n werklikheid te maak. Sy sal jou ewig dankbaar wees daarvoor. Wees iemand saam met wie jou kind graag tyd wil deurbring. Maak julle verhouding jou eerste prioriteit.

Vertaal en verwerk uit die artikel Walking Alongside Your Teen deur Joe White en Lissa Halls Johnson.